top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


SAAM MET JESUS IN DIE WINGERD (5) – ONS IS AGENTE VAN DIE LIEFDE!


Joh. 15:9-13 – “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in My liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in My liefde bly, net soos Ek die opdragte van My Vader uitvoer en in Sy liefde bly. Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is My opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.”


Vergelyk ook Rom. 13:9 – “Al die gebooie word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”


Ons bevind ons steeds in die wingerd en Jesus wéét Hy moet oor ‘n paar ure, vir ons diepste hel – sonde en dood – met die prys van Sy volkome liefde, aan die kruis betaal. Die innige verbondenheid van wingerdstok en lote kom deur die liefde en word deur die liefde in stand gehou – die volmaakte, Goddelike liefde wat die werklike band van gemeenskap is tussen God die Vader en die Seun, en die Seun en ons gelowiges! Jesus het in die liefde van die Vader gebly deur die opdragte van die Vader uit te voer. Net so moet ons voortdurend in die liefde van Christus bly, deur getrou en volhardend te probeer om die opdragte van Christus uit te voer.


Die liefde vir mekaar word in God se liefde vir Sy Seun begrond en as “model” vir ons liefde gebruik – nie net soos ons liefhet nie, maar soos God liefhet, só moet ons liefhê. Liefde is ‘n eienskap van God. Liefde is die wesenlike aspek van God se karakter en staan vir wie Hy is. God is die perfekte voorbeeld van liefde. God is die Bron van liefde. Deur God se krag en deur die Heilige Gees gee God ook hierdie liefde aan elkeen wat Jesus aanneem as Sy Saligmaker en Verlosser: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh. 3:1). En die liefde word prakties uitgespel as die uitvoer van God se opdragte, selfs al sluit dit die dood in: “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het Sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê” (1 Joh. 3:16). Dit is ook die enigste ware en blywende bron van blydskap, en maak van ons vriende van God.


Deur die eeue is daar al baie geskryf en gepraat oor liefde. Daar is vandag miljoene voorstellings en wanvoorstellings van die liefde. Ek het gaan “Google” oor die woord “liefde” en ongeveer 39 miljoen resultate gekry binne 0,36 sekondes. God se liefde is egter méér as voorstellings of lippetaal of selfs googletaal, dit is volkome liefde, ‘n liefde wat meer is as ‘n mooi gesindheid en voornemings. Liefde is die grootste, mooiste en beste avontuur! (Dankie Ds. Johan). Dit is liefde wat bereid is om jouself prys te gee tot voordeel van ander. Ons kán ongelukkig nie só liefhê nie en dit is wat God se liefde so uniek maak. God sê nie Hy sal ons liefhê as ons Hom eerste lief het nie, by God is daar nie ‘n wederkerigheid in liefde nie, die inisiatief het van God gekom. Hy het ons onvoorwaardelik liefgehad terwyl ons nog sondaars en vyande was (Rom. 5:8, 10).


Die lewe wys waar die liefde lê, om lief te hê is om kwesbaar te wees. Prof. Stephan Joubert sê: “Liefde is die handtekening van die kerk. Dit is die belangrikste manier hoe ander ons geloof kan uitken. Liefde is ons 'kleurbaadjie'. Wanneer ons vir mekaar omgee en mekaar se laste help dra, sien ander dat ons leef soos Jesus van ons verwag.” Dit is hoe God vir ons omgegee het. Hy was bereid om die grootste offer vir ons te bring. God het nie ‘n Jesus of ‘n Christus gestuur om ons met Hom te versoen nie, Hy het Sy “enigste Seun” gegee ... (Joh. 3:16). God was bereid om Sy mees dierbaarste en liefdevolste Besitting, in ‘n vyandige wêreld in te stuur om ons te red! Sy liefde hang nie af van ons liefde vir Hom nie, Sy liefde het aan die kruis gehang om vir ons te sê: “Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Julle moet in My liefde bly.”


Is dit hoe die liefde is, die handtekening van die kerk, ons “kleurbaadjie”? Is dit hoe ons vir mekaar omgee en mekaar se laste help dra? Sien ander dat ons leef soos Jesus van ons verwag? Is dit hoe ‘n gelukkige Christen met blydskap in sy hart optree? Wat sê mense as hulle van die erediens en ons as gemeente wegstap: Is Jesus Christus se liefde daar? Wat sê hulle as hulle van ons Christene se huise af wegstap? Sien die wêreld Jesus se liefde wat by ons ingeënt is soos die loot aan die wingerdstok? Ons kan nie Jesus se blydskap sonder Hom hê nie: “Ek sê dit vir julle sodat My blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” Dit is hierdie blydskap wat Jesus wil hê ons met ander moet deel, ‘n blydskap omdat ons wéét die lewende God het ons lief, die lewende Christus het ons lief en ons dit deur die lewende Gees, met ander kan deel, vir mekaar kan omgee, geënt in Jesusliefde!


“In ‘n gesonde kerk leer elke Christen om vir die ander om te gee. As ons Jesus se opdrag dat ons mekaar moet liefhê ernstig opneem, dra ons ‘n belangrike deel by tot ‘n wenspan”

(Charles Spurgeon).


Gebed: Hemelse Here, laat my die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U met toewyding dien. U verwag opregtheid diep in my hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. Maak elke dag ‘n liefdesavontuur, laat my blydskap en vreugde belewe, skep vir my ‘n rein hart, vernuwe my gees. (Ps. 51). Maak my standvastig om U opdrag van die liefde uit te voer. Laat U liefde my verander, dit my hande in beweging bring en my oë sal oopmaak om deur die bril van U liefde, na ander sal kyk. Help my asseblief Here Gees, ek kan dit nie op my eie doen nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page