top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE BRIEF AAN DIE ROMEINE.


PAULUS SE DANK, VERLANGE EN VERPLIGTING (1) – WAG OP GOD SE ANTWOORD!


Rom 1:8-10 –“Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof. God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van Sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie.”


Vergelyk ook Matt. 6:10b – “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”


Paulus se hart klop warm vir die jong gemeente in Rome wat hy nog nooit gesien het nie. Dit het behoorlik gegons onder die gelowiges en daar was groot blydskap oor hulle “broers en susters in die geloof,”. Vir die gelowiges was dit ‘n wonderwerk dat die voortgang van God se koninkryk, selfs in hierdie strategiese hoofstad, plaasgevind het. Die bestaan van ’n gemeente in Rome as die hoofstad van die Ryk was ongetwyfeld vir die Christene dwarsdeur die destydse “bewoonde wêreld” ’n rede van groot vreugde.


Paulus spreek hulle aan as “geroepenes in Christus” omdat hulle uit die duisternis geroep is tot die wonderbare lig. Agter hulle roeping sit God se geskenk van genadige uitverkiesing. Hy roep God as getuie dat hy gedurig in sy gebede aan hulle dink. Daarmee gee Paulus te kenne dat sy gebede vir die gemeente direk in verband staan met sy diens aan God, wat vir hom ’n saak van die grootste erns is en waarvoor hy homself volkome gee. Dit bestaan daarin dat hy die evangelie van God se Seun verkondig, omdat dit die boodskap van die versoening deur die bloed van Christus is. Dit is die hele inhoud van Paulus se prediking: “Christus het my immers nie gestuur om te doop nie maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike vryheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor” (1 Kor. 1:17). Christus ís die evangelie!


Paulus bid voortdurend vir ’n geleentheid om na Rome te kan gaan, trouens, “elke keer as hy bid, vra hy God of Hy dit nie uiteindelik vir hom moontlik wil maak om hulle te besoek nie.” Tog wil hy nie gaan as dit nie God se wil vir hom is nie. Sy hele lewe laat hy deur die wil van God bepaal. In teenstelling met Paulus, is daar ongelukkig vandag gelowiges wat met hulle gebede te koop loop. Hulle sien nie graag af van hulle eie wil nie en dus bots die sondige wil van die mens met God se onveranderlike en volmaakte wil. Wanneer hulle dus bid dat God se wil moet geskied, moet hulle hulself verloën. Dit stel hulle voor ‘n keuse: óf te buig voor God en Sý wil te gehoorsaam, óf in verset teen God hulle eie wil te doen. Dit is dan dat die gebed nie is dat ons Vader se wil moet geskied nie, maar eintlik eis ons dat Hy ons gebed moet goedkeur.


Hoe kom die mens dan sover dat sy eie wil vervang word met die wil van God? Om Jesus te volg in gehoorsaamheid aan die wil van ons Vader, deur die genade van God alleen. Om by God te pleit dat ons ons eie wil prysgee om aan Sy wil wat goed is, sonder enige teëpratery, gehoorsaam te wees.


Om ‘n gelowige volgeling van Christus te wees, is ‘n liefdesverhouding. Op grond van die soenverdienste van Jesus Christus, kom ons voortdurend soos Paulus, na die Vader toe vir genade en barmhartigheid. Gebed bring ons in ‘n liefdesverhouding met God. Hy is die Bruidegom en ons, Sy kerk, is Sy bruid (Op. 19). ‘n Liefdesverhouding kwyn egter as die paartjie versuim om afsprake met mekaar te maak en na te kom. Waaraan meet God dan ons liefde? Onder andere aan ons gretigheid om met Hom alleen te wees, met Hom te wil praat. As Hy dus vergeefs op my wag omdat ek nie my afspraak met Hom nakom nie, gaan dit vanselfsprekend ‘n nadelige uitwerking hê en gaan ons liefdesverhouding kwyn en gaan ek nie weet wat Sy wil vir my is nie!


Daarom is gebed nie ‘n formaliteit nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen ons en God. Wanneer ek dan bid, dink ek meer aan die mense om my wat my gebed hoor, of aan God? Is ek ‘n toeskouer van my eie opvoering? Bid ek meer dikwels en vurig wanneer ek in ‘n gehoor is, of wanneer ek alleen is met God? Neem ek my gebed na God toe of na mense toe? Beperk ek God tot ‘n sekere tyd op Sondae (Hand. 3:1) asof die GOD VAN HEMEL EN AARDE net dáár is en ook net op dáárdie tyd? Wat is my motief wanneer ek bid, gaan dit oor mý, of oor Gód?


“Gebed is nie ‘n manier om van God gebruik te maak nie; dit is ‘n manier om onsself aan God te gee sodat Hy óns kan gebruik; minder te praat en beter te luister. Die hoogste vorm van gebed is om in stilte te wag op God se stem” (William Barclay).


Gebed: Ons Vader in die hemel, U allesomvattende en allesdeurdringende liefde is sigbaar in U Seun se uitgestrekte arms aan die kruis wat die pad na die hel toe versper. Ek is so geneig om verby Sy uitgestrekte arms te beur omdat Ú wil, teen my mensgemaakte plannetjies indruis en my lewe “omvergooi.” U wag om van my te hoor en ek het soms so baie om te sê, veral wanneer dit by vraetyd kom. Ek konsentreer so op my eie behoeftes sodat ek nie altyd tyd het om na U te luister nie. Ek wil getuig o Heer, U wil vir my is om die veilige pad te vind, laat my dan soos Paulus, geduldig wag op U antwoord. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page