top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE BRIEF AAN DIE ROMEINE – GEROEP OM AAN CHRISTUS TE BEHOORT!


Rom. 1:5-6 – “Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van Sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.”


Vergelyk ook 1 Tim. 1:12-14 – “Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in Sy diens te stel, al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie.”


Paulus het sy apostelskap van Christus ontvang, nie van ’n mens nie: “Dat ek ‘n apostel is, dank ek nie aan mense nie, Ek is ook nie deur ‘n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het” (Gal. 1:1). Dít is die gesag waarmee hy sy werk as apostel verrig. Hy noem dit genade, ’n geskenk van Gods vrye guns wat geen mens vir homself sou kon toeëien nie.


Genade is die sleutelbegrip in Paulus se verkondiging. Selfs sy betrokkenheid by die prediking van die boodskap van genade, beskou hy ook as genade! Sy roeping tot die apostelskap is gewortel in sy begenadiging as sondaar (1 Tim. 1:12-14). Sy spesifieke opdrag is om apostel onder al die heidennasies te wees. Hoewel al die apostels die opdrag het om die evangelie aan die hele wêreld en alle nasies te verkondig (Matt. 28:19), was Paulus diep oortuig dat die Here hom spesiaal geroep het om die evangelie aan al die heidennasies te verkondig. Hy moes alle mense tot geloof in Christus roep, tot eer van sy Naam.


Die eerste motief van die sending is die eer van Christus wat terselfdertyd die eer van God is, en nié die eer van die sendeling nie. Dit gaan nóóit oor die sendeling nie maar oor Hom wat die sendeling stuur! Dit wat verskriklik skaars was in die destydse Rome – genade – kondig Paulus nou in oorvloed aan die gelowiges wat uit die heidendom geroep is, en dat hulle ook nou “inbegrepe is om aan Jesus Christus te behoort.” Die gelowiges in Rome mag weet dat God hulle liefhet en dat hulle deur Christus, as die Middelaar geroep is om aan Hom te behoort. Deur God, wie die Bron van genade en vrede is, is hulle uitverkies en tot God se eiendom gemaak. Hulle staan nou nie meer onder die regering van die keiser nie, maar onder Christus se regering.


Om geestelik te kan groei, moet ons eers die vraag beantwoord: Aan wie behoort ek – aan God of aan myself? Indien die antwoord ‘myself’ is, kan ons krag kry om hierdie selfbehebtheid te oorwin: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom. 7:24-25). Die opgestane Christus lê Sy verlossende hand op ons verlede, en doen dit steeds elke dag, om ons vry te maak van alle hindernisse sodat ons geestelik kan groei en vrug kan dra en sodoende, uit die sonde-slawerny verlos kan word.


Die storie word vertel van ‘n pa wat vir sy seun aangesê het om elke keer wanneer hy sondig, ‘n spyker in ‘n stuk hout te kap. Elke keer wanneer hy sy sonde bely en om vergifnis gevra het, kon hy weer van die ingekapte spykers uittrek. Die seun het na ‘n hele klompie jare sy pa meegedeel dat al die spykers uitgetrek is. Sy pa het hom prysenswaardig gelukgewens, maar hom die spykermerke wat in die stuk hout oorgebly het, gewys en gesê: “Seun, onthou een ding, wanneer jy aan God behoort, trek die Skrynwerker van Nasaret nie net die spykers uit nie, deur Sy Gees wis Hy die merke ook uit!” Aan wie behoort jy?


“Selfbewondering is die dood van die siel. Dit beteken dat ons geen begeerte het om te verander nie. En hulle wat nie wil verander nie, se siel is dood” (William Barclay).


Gebed: Dankie Here, dat ek ook geroep is om aan U te kan behoort. “O Heilige Gees, my Heer, wat my in waarheid leer, vernuwe my gemoed deur U genade. Laat my ‘n getuie wees, ek wil vertel van al U wonderdade” (Liedboek 441:1). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page