top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE DISSIPEL VIR WIE JESUS BAIE LIEF WAS (1) – NOUGESETTE ROEPING!


Joh. 21:20-22 – “Toe Petrus omdraai, sien hy die dissipel volg vir wie Jesus baie lief was, wat ook by die maaltyd na Jesus se kant toe oorgeleun en gevra het: ‘Here, wie is U verraaier?’ Toe Petrus hom dan sien, vra Petrus vir Jesus: ‘Here, en wat van hom?’ Jesus antwoord hom: ‘As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie. Volg jy My!’ ”


Dit lyk asof Jesus saam met die dissipels van die see af begin wegloop – Petrus is aan die voorpunt en draai om en sien Johannes in sy volgelingsposisie, net agter Jesus. Van Petrus is voorspel dat hy 'n marteldood tegemoet gaan, en nou wil hy weet wat van sy goeie vriend en mede-apostel sal word. Petrus vra dan vir Jesus wat van Johannes gaan word, want Jesus het so pas voorspel dat Petrus sal sterwe (sonder ‘n tydsaanduiding).


Jesus antwoord nie op Petrus se vraag nie, maar laat hom goed verstaan dat hy dinge wil weet wat hom nie aangaan nie. Aan hom het Jesus gesê wat hy in die toekoms te wagte kan wees, maar nou moet hy nie probeer te wete kom wat die toekoms vir Johannes inhou nie. Dit is ’n saak waaroor die Here beskik. Om dit duidelik te stel, sê Jesus dat as Hy beskik dat Johannes bly lewe tot by die wederkoms, gaan dit Petrus nie aan nie. Wat vir Petrus wel van die grootste belang is, is om Jesus nougeset te volg. Om dit getrou te doen, sal in die toekoms al sy krag en geloof vereis. Daarom moet hy hom nie oor Johannes se toekoms bemoei nie, want net soos sy eie, is ook die lewe van Johannes in die hande van die Here.


Jesus kyk na ons harte. Hy kyk verby ons mislukkings en sien die potensiaal in ons raak wat ons nog in Christus gaan bereik. Jesus weet hoe ons kán verander as die Heilige Gees ons vervul en beheer in ons lewe oorneem! Hy was bereid om vir ons aan die kruis te sterf, net soos ons nou is. Jesus is bewus van ons swakhede. Hy weet van ál die dinge wat verhoed dat ons'n volle oorgawe aan God maak. Hy ken ons herhaalde mislukkings. Hy weet van die aaklige gewoonte sondes – die dinge wat keer dat ons Hom volkome kán gehoorsaam. Jesus weet ons gaan vorentoe van ons eie planne en maniere moet prysgee – Hy weet ons gaan daar moet kom dat ons bereid is om te sterf in onsself.


Die roeping deur Jesus is om ‘n volgeling van Hom te wees, Sy voorbeeld na te streef en in ‘n daaglikse verhouding met Hom te leef. Die roeping is om meer en meer soos Jesus te word en so ook ander te beïnvloed – om ook ‘n dissipelmaker te wees. Die roeping om dissipels te wees is steeds Jesus se uitnodiging aan mense om opnuut te definieer wie hulle is, waarheen hulle oppad is en weg te breek van sonde. ‘n Volgeling van Jesus ís anders, dínk anders, lééf anders en dóén anders. Om Jesus te volg verander ons doel in die lewe en dit het ‘n effek op die wêreld. Dit is deel van ons roeping – ons is nie net geroep óm Jesus te volg nie, maar ook om in die proses deel te word van Sy Koninkrykswerk. Ons volgelingskap het dus ‘n effek op die wêreld want ons “dink nie net aan ons eie belange nie, maar ook aan dié van ander” (Fil.2:1-7).


Om Jesus te volg beteken om te beweeg. Hy loop voor en ons moet volg. Ons kan nie stilstaan of omkyk om te sien wat “Johannes” doen, of gaan doen, of na die goeie ou dae verlang nie. Ons moet ons losmaak van die verlede se verslawende sondes en mensgemaakte tradisies. Daarom word voortdurende persoonlike bekering benodig. “Volg My!” sê Jesus. “Volg jý My” Petrus, Gert, Graham, Dawie, Susan, Hester, of wie jy ookal is, op die triomfpad, ‘n pad van heerlikheid wat bly tot in ewigheid! Loop net naby My, sodat jy selfs kan hoor as Ek fluister!


“Voordat ons kan bid: ‘Laat U koninkryk kom,’ moet ons eers vra: ‘Laat my koninkryk gaan” (Anoniem).


Gebed: Here Jesus, rus my toe met eienskappe wat iets in my sal laat deurskemer van Ú lewe in my: die nederigheid wat my sal weerhou van verwaandheid en misplaaste trots; die grasie en sagtheid wat dit vir mense maklik sal maak om met my saam te leef; die toewyding en betroubaarheid wat van my ‘n goeie kollega en werknemer sal maak; die deernis en hulpvaardigheid wat vinnig sal raaksien waar en hoe ek ander kan help; die voortdurende bewussyn van U teenwoordigheid, sodat ek regtig sal poog om alles te doen soos U. Amen. (‘n Gebed deur William Barclay.)


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page