top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


JESUS SE OPDRAG AAN SY DISSIPELS – GAAN DAN ...!

Mark. 16:14-18; Luk. 24:36-49; Joh. 20:19-23; Hand. 1:6-8)


Matt. 28: 18-20 – “Jesus kom toe nader en sê [vir Sy dissipels]: ‘Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”


Vergelyk ook Hand. 1:8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld.”


Die opstanding van Jesus uit die dood is die finale bevestiging dat alles wat Hy vroeër gesê het, soos wat dit vir ons opgeteken is in die Bybel, die waarheid is: Hy is inderdaad die Messias en die Seun van God! Jesus het vooruit aangekondig dat Sy dissipels Hom almal sal verlaat, maar dat Hy na Sy opstanding, hulle sal vooruitgaan na Galilea toe, en daar hulle weer in hulle “diens” sal herstel.


Na Jesus se verskyning aan hulle in Galilea en nadat hulle ongeloof oorwin is, kry die dissipels die opdrag om die blye boodskap van saligheid aan alle mense te gaan verkondig. Die hele wêreld, en nie net die Joodse volk nie, is hulle arbeidsveld. Die prediking sal skeiding maak onder die mense; elkeen wat glo en die doop ontvang, sal salig word; maar elkeen wat ongelowig bly, sal veroordeel word. Alles loop daarop uit dat die Messias die lydensweg móés kom bewandel en sterwe, maar van beslissende belang is dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood. Daardeur is die oorwinning bevestig, en ook die versoening voltooi. Daarom kan daar aan al die nasies die blye boodskap van bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word. Die beginpunt is Jerusalem, dáár waar die kruis gestaan het en die graf leeg gevind is.


Op die dissipels, wat nou apostels geword het nadat hulle die Heilige Gees ontvang het, rus die groot en heerlike, maar moeilike taak om die blye boodskap te gaan verkondig. Hulle sal “getuies wees van” die opstanding en van alles daaraan wat dit voorafgegaan het. Jesus sorg vir hulle toerusting, Hy sal die belofte van die Vader op hulle stuur. Die inhoud van die belofte word nader aangedui as die toerusting “met krag van Bo”. Die inhoud van hulle getuienis sou nie hulle eie ervarings wees nie, maar alles wat Jesus gedoen en gesê het en wat met Hom gebeur het.


In en deur die krag van die Gees sal hulle in diens van die koninkryk staan. Jesus sê ook aan hulle waar hulle moes getuig. Hulle moes begin in Jerusalem en verder in die suidelike gebied van Judea. Die evangelie moes ook in Samaria verkondig word, die streek met sy gemengde bevolking op wie die Jode neergesien het en nie “mee omgegaan het nie” (Joh. 4:9). Dit is opmerklik dat Galilea nie hier genoem word nie. Moontlik moet dit daaraan toegeskryf word dat Jesus die meeste van Sy aardse tyd daar spandeer het en die evangelie Self daar verkondig het.


Die evangelie moes verder verkondig word tot “die uithoeke van die wêreld”, die lande waarvan die Jode geweet het dat dit bestaan, maar wat hulle nie geken het nie, die land van die nie-Jode, die heidene. Hiermee toon Jesus dat Hy God se raadsplan ten uitvoer bring deur almal wat gelowig is, deel te maak van Hom: “God het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie; Ek maak jou ‘n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik” (Jes. 49:6).


Jesus se laaste opdrag aan Sy dissipels wanneer Hy hulle in Galilea ontmoet, is ‘n sendingopdrag wat grens aan ‘n bomenslike taak wat geensins in eie krag gedoen kan word nie. Om die kroon daarop te span moet hierdie handjievol groepie mense, álle nasies volledig inlig oor dié dinge wat Jesus by hulle ingeskerp het. Maar ... , indien hulle gewonder het hoe hulle dit gaan regkry, beloof Jesus hulle Sy krag en ondersteuning: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” Hulle was dikwels ooggetuies van hierdie ‘mag’ terwyl Jesus mense genees het, wondertekens gedoen het en selfs die natuur Sy stem gehoorsaam het! Hulle sal dus nie net Sy Goddelike ‘mag’ tot hulle beskikking hê nie, maar ook Sy blywende teenwoordigheid: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”


“Die kroon van die wonder van God se plan is dat Hy dit aan mense toevertrou het. Dit is die toppunt van die heerlikheid van die mensdom dat die masjinerie van sy verlossing, in sy eie hande geplaas word” (Henry Drummond).


Gebed: Jesus Christus, ons weet nou dat U alle mag in die hemel en op aarde het. U het die dood oorwin en só vir ons lewe gegee. Ons het U opdrag gehoor: “Gaan en maak dissipels ...!” Dankie vir die troos, die belofte, dat U met ons elke tree sal saamloop en dat U by ons is “al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Sonder hierdie versekering van U, opgestane Christus, sal ons dit nie op ons eie maak nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page