top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES


JESUS VERSKYN NOG ‘N KEER AAN SY DISSIPELS (2) – ERKEN HOM AS JOU HERE!


Joh. 21:7-8 – “Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: ‘Dit is die Here!’ Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek – want sy bolyf was kaal – en in die water gespring. Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep.”


Jesus tree op met die gesag wat eie aan Hom is en Hy beveel dat die visnet aan die regterkant uitgegooi word, en voeg die versekering daaraan toe dat hulle iets sal kry. Dit is merkwaardig dat die dissipels onverwyld die onbekende Man gehoorsaam ten spyte van die nag se vergeefse arbeid en hulle negatiewe gemoedstoestand. Hulle gehoorsaamheid aan die opdrag het verseker dat die rykdom van God, hulle deel geword het!


Johannes het besef dat ’n wonderteken gebeur het, en hy weet dat die Bewerker daarvan niemand anders as Jesus kon wees nie. Johannes uiter meer as ’n woord van erkenning, “Dit is die Here!”, is ’n belydenis van geloof: Jesus is die Here, Hy is God. Petrus, die man van aksie, wil dadelik na Jesus toe gaan. As visser werk hy sonder sy hemp of bo-kleed, en in daardie sin wil hy homself eers betaamlik maak daarom trek hy sy hemp aan. Petrus spring in die water om na Jesus te gaan en laat dit aan die ander dissipels oor om die skuit nader te bring en die net land toe te sleep.


Jesus verskyn die derde keer aan Sy dissipels maar hulle herken Hom aanvanklik nie, al het hulle Hom reeds twee keer na Sy opstanding weer gesien. Dit is twee weke sedert ons Paasfees gevier het, herken ons nog vir Jesus? Herken ons Hom nog waar ons daaglikse program weer teruggekeer het na die “normale” gang? Mense wat Jesus nie verwag nie; mense wat net een keer ‘n jaar op Opstandingsondag rekening hou met die waarheid dat Hy leef; mense wat tydens Paasfees weer soos Petrus sy ‘herrinnerings-hemp’ aantrek, herken Hom moeilik tydens hulle gewone daaglikse trant.


Wanneer ons vergeet om God elke dag te herken, kom praat Hy met ons, kom vra Hy: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?” Dit is wonderlik wanneer Jesus praat. Dit is net so wonderlik wanneer Hy stilbly om na ons te luister. Dit is spesiaal veral vir al die seerkry-mense, bejaardes, eensames, gekneusdes uit ‘n gebroke huwelik, vir tieners met ‘n donker geheim, siekes wat die patrone teen die plafon beter ken as die blou lug en wolke daarbuite, mense wat nie Jesus se teenwoordigheid elke dag beleef nie, wat dit net ondervind tydens spesiale kerk-feesdae, die mense wat antwoord soos die dissipels na Paasfees: “Nee, ons het niks gevang om te eet nie!”


Dit is dan wanneer die “Brood van die lewe” intree en wys dat Hy nie van óns vergeet het nie, en opdragte uitdeel: “Gooi die net in die regter kant in”. Dit is hoe Jesus “operate”, “Dít is die Here!” – Hy tree in ons lewens in en sê: “Laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid” (Heb.10:22a). Laat ons gedúrig en voortdurend tot Hom nader, nie net Paasfees of Kersfees nie. “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. [Laat ons] nie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan” (Heb. 10:23-25). Dit is dan onmóóntlik om Jesus nie te herken nie. Waar die sprekende God deur Sy Gees onder ons teenwoordig is, word ons nette tot oorlopens toe gevul met Sy bevrydende en bemoedigende seën.


“Die verlossing in Christus is absoluut gratis, maar die dissipelskap wat dan volg, kan jou jou lewe kos” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Opgestane Heiland, dankie dat U my nie vergeet nie. Laat my gedurig my geestelike lewe in oënskou neem terwyl ek voortgaan met my daaglikse lewensarbeid. Here, ek het nog niks gevang nie, ek het niks om te wys nie, ek staan naak voor U met ‘n net vol sonde. Dankie dat U my sake in U hande neem, my toelaat om tot God te nader, my net vol sonde, na die anderkant toe gooi, te sleep tot by U voete daar by die kruis met die erkenning: “Dit is die Here!” U sal sorg. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page