top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES


JESUS VERSKYN NOG ‘N KEER AAN SY DISSIPELS (1) – DIE HERE SAL VOORSIEN!


Joh. 21:1-6 – “Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn, by die See van Tiberias. Dit het só gebeur: Simon Petrus en Tomas, wat ook Didimus genoem is, Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus en nog twee ander dissipels was daar saam. Simon Petrus sê toe vir hulle: ‘Ek gaan visvang.’ ‘Ons gaan ook saam met jou,’ sê hulle vir hom. Hulle het gegaan en in die skuit geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie. Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra toe vir hulle: ‘Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?’ ‘Nee,’ antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: ‘Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.’ Hulle het die net toe net daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.”


Vir drie jaar lank het die dissipels hulle werk gelos en Jesus gevolg, was hulle getuies van Sy leringe en wondertekens, het hulle by Hom geleer van die Koninkryk van God. Hulle was die mense wat die Evangelie moes verder uitdra wanneer Jesus nie meer daar is om dit te doen nie. En nou skielik is Hy nie meer daar om vir hulle leiding te gee nie. Sewe van die dissipels bevind hulle in Galilea en weet nie meer wat om met hulleself aan te vang nie, want skielik is hulle leierloos. Mens kry die indruk van ‘n onsekerheid wat omslaan in verveeldheid by hulle as Petrus sê: “Ek gaan visvang” en die ander amper gedagteloos sê: “Ons gaan ook saam met jou”.


Die voorstel van Petrus om vis te gaan vang, kan op twee maniere vertolk word. Dit kan wees dat hy die ondervindinge saam met Jesus beskou as gebeure in sy lewe wat op niks uitgeloop het nie, en gevolglik besluit het om na sy ou manier van broodwinning terug te keer. Dit kan ook wees dat hy en die ander, die tyd doelloos verwyl het en noudat Jesus nie meer saam met hulle was om hulle ’n koers aan te wys nie, en te midde van die onsekerheid oor hulle toekoms, maar terugkeer na die sieldodende roetine van hulle arbeid, nette uitgooi en intrek en hoop om vis te vang. In albei gevalle blyk dit dat hulle nie die volle betekenis van Jesus se opdrag begryp het nie: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (v. 21). Daarom was dit noodsaaklik dat Jesus aan hulle verskyn om hulle terug te bring tot hulle eintlike roeping.


Maar dinge verloop nie soos wat Petrus beplan het nie en hulle kom baie bedroë daarvan af. Die hele nag se harde arbeid lewer nie eers een enkele vis op nie. Petrus is moedeloos. Alles in die lewe loop vir hom skeef. Niks maak vir hom meer sin nie. Hy, die groot visserman, die een wat oral leiding neem, se wêreld het inmekaar getuimel. Elke keer as hy dink dat hy nou heel bo is, het hy net verder en harder geval terug aarde toe, en dit was beslis nie as gevolg van gravitasie nie.


Met sy groot stuk Petrus-bravade het sy waterloop hom verander in ‘n watertrapper en amper in ‘n drenkeling (Matt. 14:30-31). Toe hy belowe het hy sal sy lewe vir Jesus aflê, het Jesus sy voete gewas en is hy verseker dat hy Jesus nog gaan verloën. Daardie nag is hy verskriklik hard aarde toe gebring. Met Jesus se gevangeneming en verhoor, het hy soos ‘n bang hond agterna gesluip en probeer wegkruip sodat mense hom nie kon herken nie. Drie maal daardie nag moes hy lieg dat hy Jesus ken. Snaaks hoe Petrus al kleiner word namate sy probleme al groter word. ‘n Paar ure later het hy alles verloor wat vir hom in die lewe saak gemaak het, die Jode het sy Jesus daardie verskriklike Vrydag aan ‘n kruis laat vermoor!


En nou word sy gewone dagtaak van visvang, óók ‘n vernedering. Hy het gedink dat hy darem nog kan visvang, maar hier het hy ook gefaal. Dan gebeur ‘n wonderwerk wanneer iemand van die strand af vir hom beveel om die net aan die ander kant uit te gooi. Petrus het hom waarskynlik vererg vir hierdie vreemde man – wat sal dít nou help - as daar die hele nag nie visse aan die linkerkant was nie, sal daar nou ook nie regs wees nie! Maar hy gehoorsaam nietemin en die volgende oomblik wemel dit van visse, te veel om aan boord te bring.


Dit is vandag nog so: Wanneer ‘n mens voel jy het die leer van sukses se boonste sport bereik, neem die harde werklikheid jou terug tot heel onder. ‘n Petrus-gevoel van moedeloosheid oorval ons dan, maar helaas, dalk sê die Here vandag vir jou ook: “Gooi die net aan die ander kant uit”. Ons moenie ophou glo nie, want die Here kan enige slegte situasie in ‘n oogwink verander. As die dissipels vanself die net aan die ander kant uitgegooi het, sou daar dalk niks verander het nie, maar dalk sê Hy vandag vir jou en my: “Gooi die net aan die ander kant uit” – doen dit in geloof en beleef die verandering.


Die verandering gebeur miskien nie dadelik nie, maar gooi die net nogtans aan die ander kant uit. Dit beteken dalk dat die oplossing net die verskil is in die breedte van die skuit, en nie so ver as wat ons dink dit is nie. Dalk dink jy dit is nie eers die moeite werd om te probeer nie. Jesus het nie gesê hulle moet weer die see invaar nie, maar net daar die nette uitgooi, honderd meter van die land af.


Die “ander kant” beteken dalk om die “gebedsnet” uit die skuit te haal en in die water te plaas waar dit hoort, nog ‘n keer, weer ‘n keer en aanhou probeer. Hou aan bid, bly in die “geloofsboot”, die Here sal besluit wanneer die net moet vol word, maar die net hoort in die water. Die vis sal nie daarin spring as die net in die boot lê nie! Dalk sal daar dae wees wat net klein vissies in die net is. Die Here weet egter hoeveel jy nodig het en wanneer jy dit die nodigste het. Moenie verbaas wees as die net skielik gevul is met “honderd drie en vyftig groot visse” nie!


“Die optimis sien ‘n geleentheid in elke terugslag; die pessimis vrees die moontlike terugslag in elke geleentheid” (Thomas Edison).


Gebed: Neem my hand Here, lei my tree vir tree deur my dag. Herinner my dat my ‘net’ dalk kan leeg bly of dalk nie genoeg visse na my smaak kan bevat nie. Herinner my dat ek dan steeds net in afhanklikheid op U kan vertrou, kan staatmaak, met U hulp, my beste kan lewer. Dalk is die paar klein vissies wat voorsien is, genoeg vir vandag, U is volmaak en U sal sorg dat dit wat ek benodig, aangevul sal word. Here, verander my gedagtes, bewaar my van sinisme, herinner my gedurig: U sal voorsien! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page