top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES


JESUS VERSKYN AAN SY DISSIPELS (1) – VREDE VIR JULLE!

(Matt. 28:16-20; Mark. 16:14-18; Luk. 24:36-49)


Joh. 20:19-20 – “Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’ Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.”


Vergelyk ook Ef. 2:14 – “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie Jode, een gemaak het. Deur Sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.”


Teen die aand van daardie opstandingsdag, was die dissipels êrens in Jerusalem in een vertrek bymekaar. Johannes sê nie wie die “dissipels” was nie. Dit word aanvaar dat dit tien van hulle was, aangesien Tomas afwesig was. Na alles wat hulle in die afgelope dae en veral op daardie Opstandingsondag gehoor en beleef het, was daar rede om saam die gebeure te bespreek. Hulle het heel waarskynlik gepraat oor die gerugte van Jesus se opstanding. Petrus en Johannes het die leë graf gesien; die vroue het gesê dat Jesus leef; Maria Magdalena het bevestig Hy het aan haar verskyn; die Emmausgangers het kom vertel van hul reis en die gesprek en die ete wat hulle met Jesus gehad het.


Indien alles waar is, hoe gaan Jesus teen hulle optree – hulle het weggehardloop met Sy inhegtenisname; Petrus het Hom verloën; met Sy onregverdige verhoor was hulle nêrens te sien om téén die leuens van die Jode, getuienis te kon gee nie – hulle is heel moontlik vasgekeer tussen hoop en wanhoop? Volgens hulle was hulle Here dood en hulle lewens aan flarde. Vir drie jaar het hierdie Jesus hulle vertel van ‘n nuwe wêreld en nou lê Hy iewers in ‘n graf, dood, en hulle weet nie eers waar nie want iemand het Hom verwyder uit Josef van Arimatea se graf waar Hy aanvanklik neergelê is. Hulle was moontlik ontnugter en hulle verkeer in vrees vir die Jode wat deur die kruisiging volgens hulle mening, ’n oorwinning behaal het en nou moontlik enige tyd op hulle kon toeslaan. Vir hulle veiligheid word die deure gesluit.


Dit is uiteindelik nie die Joodse leiers nie, maar Jesus wat deur die geslote deur kom. ‘n Koue graf en ‘n swaar kliprol kon Jesus nie binnehou nie, nog minder ‘n geslote deur wat Hom buite kan hou. Dit beklemtoon die wonderbare aard van Jesus. Jesus groet hulle gerusstellend: “Vrede vir julle!” Hierdie woorde was in daardie tyd ’n gewone groet, maar uit die mond van Jesus en in daardie situasie het dit tog ’n veel ryker betekenis gehad. Die dissipels wat in die voorafgaande dae so ontrou teenoor Jesus was, verneem nou dat Hy hulle nie verwyt nie, hulle vrese nie toereken nie, maar vrede bring. En nog belangriker, Hy het aan die kruis vir die sondaar die vrede met God bewerkstellig, en daardie vrede word in sy groet aangekondig: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27).


As teken of bewys dat Hy daar in dieselfde liggaam staan as wat aan die kruis gespyker was, wys Jesus sy hande en Sy sy aan die dissipels. Aan die sigbare merke van die spykers kan hulle sien dat dit nie ’n gees is waarmee hulle te doen het nie, maar met die liggaamlike teenwoordigheid van Jesus. Hy vat hulle vrees weg - en Hy oortuig hulle in hierdie proses dat Hy regtig die dood gewen het – en wat nie meer deur toe deure of deur die wette van materie wat ons ken, gekeer word nie. Al is hierdie liggaam van Jesus op ’n manier anders – ‘n verheerlikte liggaam – is dit ’n werklike liggaam. Jy kan Hom sien; jy kan Hom voel; Hy het vleis en bene – dit is dieselfde Jesus wat hulle geken het; die Jesus met Wie hulle saamgeleef het; die Jesus wat hulle gesien sterf het; die Jesus wat begrawe was …! Toe hulle deur hierdie tekens oortuig is, het die blydskap hulle hart gevul.


Vir God se genade in Jesus Christus, bestaan daar nie geslote deure nie! Indien ons verstaan wat by die kruis en met Christus se opstanding gebeur het, kan ons verstaan wie Jesus is. Deur in Jesus te glo, ervaar ons God en Sy vrede. Jesus se kruisdood vorm die fondament van die waarheid en ewigdurende vrede. Nou kan ons verstaan hoekom Petrus verkondig het dat “God die evangelie van vrede gestuur het, wat Jesus Christus gebring het” (Hand. 10:36), en Paulus beklemtoon dat “Jesus die goeie boodskap van vrede gebring het aan almal wat ver van God af was en ook vir dié naby God” (Efes. 2:17). Jesus Christus het ons met God kom versoen!


Met Sy kruisdood het Jesus die muur van skeiding tussen ons en God oorbrug en ons met God versoen: “Deur die bloed van Sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol. 1:20). Jesus bring ons tuis in God se arms in, ons hoef nie vreesbevange agter geslote deure van ons smart, teleurstellings, verbittering of lyding, weg te kruip nie.


“God het Sy liefde aan die kruis bewys. Toe Christus daar gehang, gebloei en gesterf het, was dit God wat aan die wêreld gesê het: “Ek het julle lief, Ek verander nooit, Ek vervul jul diep verlange na vrede en dit is genoeg” (Teresa van Avila).


Gebed: Dankie Jesus dat geen deur, geen hartedeur, U kan uitsluit nie. Dankie dat U my lewe vul met U teenwoordigheid en vrede. Dankie Vader dat ek nie hoef te vrees nie, maar dat ek nou vrygespreek is van sonde omdat ek in U Seun, Jesus Christus ons Here, glo. Dankie Jesus dat U my met God versoen het en daarom is daar nou vrede tussen God en my en kan ek Hom met vrymoedigheid my Vader noem (Rom. 5:1). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page