top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Die kliprol het verbrokkel en hierdie deur is by die ingang na Jesus se graf, aangebring.


DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES


DIE LEË GRAF – JESUS HET OPGESTAAN!

(Matt. 28:1-8; Mark. 16:1-8; Luk. 24:1-12)


Joh. 20:1-2 – “Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: ‘Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”


Vergelyk ook Matt. 28:2-4 – “Skielik was daar ‘n geweldige aardbewing. ‘n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.”


Volgens die ander Evangelies het drie of vier vroue daardie Sondagoggend na die graf gegaan (Matt. 28:1; Mark. 16:1; Luk. 24:10), waaronder ook Maria Magdalena. Johannes vertel net van Maria Magdalena, waarskynlik omdat Jesus eerste aan haar verskyn het. Haar toewyding aan Jesus het begin toe Hy haar uit die mag van bose geeste bevry het (Luk. 8:2). Van toe af het sy Hom gevolg en getrou gedien, en selfs by die kruis was sy teenwoordig (Joh. 19:25). Haar toewyding blyk ook daaruit dat sy vroeg daardie môre, toe die sabbat met die koms van die eerste lig verby was, na die graf gegaan het.


Toe dit nog nie goed lig was nie, kom Maria by die graf en sien dat die klip voor die ingang van die rotsgraf weggerol is. Sonder om nader ondersoek in te stel, aanvaar sy dat die liggaam van Jesus nie meer in die graf is nie. Aan die moontlikheid van opstanding dink Maria nie en sy veronderstel dat die vyandige Jode die liggaam gesteel en op ’n ander plek gaan begrawe het. Omdat die getuienis van vroue in daardie tyd nie as betroubaar beskou is nie, was dit belangrik dat Maria onverwyld die manne gaan roep het om die waarheid van haar berig te bevestig. Daarom hardloop sy om dit aan die dissipels te vertel, eers na Petrus en dan na “die dissipel vir wie Jesus baie lief was.”


Dit was ook die gebruik in Palestina om die graf van ‘n geliefde vir drie dae nadat die liggaam tot ruste gelê is, te besoek, want dit is geglo dat die gees van die ontslapene nog vir drie dae daar rond beweeg het. Die vroue wat daardie Paassondag na die graf gegaan het, het nie die opgestane Jesus gaan soek nie, maar ‘n dooie liggaam in ‘n rotsgraf gaan balsem. Niemand het verwag om Jesus lewend te vind nie. Hulle het gedink iemand “het die Here uit die graf weggevat, en hulle weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.” Hulle was egter by die regte adres – JESUS LEEF!


Dit is ook ironies dat die wagte by Jesus se graf buite hulleself was van vrees “en soos dooies geword het.” Hulle het verseker nie geweet dat hulle met die almag van die lewende God te doen het nie. Die opstanding van Jesus is, net soos by Sy dood, deur ‘n geweldige aardbewing, voorafgegaan. Die rustigheid van die natuur van die vroeë oggenduur, word “versteur” met die nuutheid van Christus wat uit die graf gekom het. Die soldate moes vreesloos die dooie liggaam van Jesus beskerm, maar word self soos dooies. Hulle is oorwin deur ‘n groter Mag as dié van die keiser wat hulle gedien het! Vrees God want “wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter as die krag van mense” (1 Kor. 1:25b).


Die krag van Jesus se opstanding is die krag van ons gelowiges se weergeboorte! Paastyd is opstandingstyd, vernuwingstyd. Die krag van Jesus se opstanding is dieselfde krag wat ons vrees, (soos die soldate), en ons ontnugtering, (soos die vroue), wegneem. Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy nie net die dood en satan oorwin nie, maar al ons lyding, swaarkry, dinge wat die lewe vir ons ondraaglik maak, oorwin en daar by Sy graf gelos!


Jesus leef en Hy wag om Sy lewe met ons te deel: “Kyk, ek staan by (jou) deur en Ek klop. As (jy) My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by (jou) ingaan en saam met (jou) die feesmaal hou, en (jy) saam met My” (Op. 3:20). Jesus dwing Homself nie op iemand af nie. Hy wag dat jy die geloofsleutel in jou kant van die deur draai, Hom innooi in jou lewe in sodat jy die werklikheid van Sy teenwoordigheid kan leer ken!


“Christus het alles wat toe was, oopgemaak ... Ook die donker van hierdie wêreld se deur sodat ons ‘n toekoms kan hê. Ons lewe eindig nie meer met ‘n Vrydag, of met ‘n Saterdag in ‘n kerkhoftuin, maar met ‘n Sondag, met die opstanding uit die dood” (Murray Janson).


Gebed: Dankie opgestane Heiland, dankie dat U opstanding my weergeboorte moontlik gemaak het. As nuwe mens maak ek die deur van my hart oop vir U want ek weet U sal my vertroos en versterk en my deur die donker dieptes van hierdie lewe lei. Vergewe my wanneer ek bang word, soms magteloos voel, want dit is dan dat ek dink ek is alleen en verlate in hierdie harde wêreld. Dit is wanneer ek die stryd met my eie krag wil aandurf. Here, lei my dan net weer na U leë graf en maak my ontvanklik vir U belofte: “Ek is met jou al die dae ...” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page