top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


“Kom nader en kyk, daar is die plek waar Hy gelê het ... Hy is uit die dood opgewek” (Matt. 28:6)


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (7DE SONDAG) – JESUS HET OPGESTAAN!

(Matt. 28:1-15; Mark. 16:1-8; Luk. 24:1-12; Joh. 20:1-9)


Mark. 16:1-2; 4-6 – “Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem. Die Sondagmôre vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. Die klip voor die ingang van die graf was klaar weggerol. Toe hulle die graf ingaan, sien hulle ‘n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik. ‘Moenie skrik nie!’ sê hy vir hulle. ‘Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.”


Vergelyk ook 1 Pet. 1:3-4 – “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word.”


Op die aand voor die sabbat, toe Jesus se liggaam in die graf weggelê is, was daar geen geleentheid om dit na behore te balsem nie en tydens die sabbat, was dit nie moontlik nie want die sabbatswet moes onderhou word. Baie vroeg die Sondagmôre het die vroue se liefde vir Christus, hulle egter terug na die graf gedring met die reukolie wat hulle voorberei het om die liggaam te behandel. Toe die wêreld se haat teen Jesus ontvlam het, het hulle lojaal gebly, huilend en biddend het hulle aan die voet van die kruis gestaan. En nou kom hulle na die graf om só aan die wêreld te bely dat hulle hul skaar aan die kant van Jesus van Nasaret. Hulle hande is gevul met reukolie om dit na Jesus te dra en sodoende, die geur van Jesus in die wêreld te versprei!


Die vroue kom net met sonop by die graf aan en vind dat die klip voor die ingang weggerol is en “‘n Engel van die Here wat sê: ‘Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek.” Die graf was leeg en is vandag nog leeg! Dit was die graf met die kortste gebruiksrekord in die geskiedenis! Vir die wêreld was dit onmoontlik dat daardie stukkende liggaam van Vrydag, drie dae later op Sondag, weer lewendig kon word! Selfs die oorblywende elf dissipels het dit aanvanklik nie geglo nie (Luk. 24:11). Die vroue laat hulle egter nie van stryk bring nie, hulle sien die regte prentjie – die graf is leeg en Jesus het inderdaad opgestaan. Vir hulle is die leë graf nie net ‘n bewys van Jesus se opstanding nie, dis ‘n teken wat in geloof aangegryp moet word – Jesus het waarlik opgestaan, maar dit bly ‘n geloofsaak by elke mens!


Daar is 'n direkte verband tussen die opstanding van Jesus en ons geloof! As Jesus in die graf gebly het, was Hy maar soos enige ander groot figuur in die verlede; net nog 'n held wat op die ou end maar gesterf het; nog ‘n mens wat niemand iets van kan verwag nie want niemand kan iets ontvang van 'n dooie mens nie. Sonder die opstanding van Christus is ons geloof waardeloos, dan kan ons net sowel in Baäl, Buddha of Kersvader glo. Hoe kan 'n godsdiens leef as daardie godsdiens 'n dooie mens vereer? Daarom skryf Paulus baie duidelik: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud” (1 Kor. 15:14).


Ons vier vandag Paassondag, opstandingsdag, die dag waarop God, Jesus Christus uit die graf opgewek het en Hy leef! Die dag waaroor ons belydenis van ons geloof doen: Christus het opgestaan en deur Sy opstanding het Hy die dood oorwin. Stil-Saterdag word op Paassondag verbreek met die jubeling: Die Here leef! Die Leermeester het as Here opgestaan! Dit beteken dat Sy opstanding dien as 'n waarborg dat ons ook eendag uit die graf sal opstaan en vir ewig leef! Deur Jesus uit die dood op te wek, het God Christus se versoening vir ons sondes aanvaar en ons saam met Hom opgewek want “as ons nie opgewek is nie, is ons geloof waardeloos en is ons nog gevange in ons sondes” (1 Kor. 15:17).


Die opstanding van Jesus is nie iets wat net bely moet word nie of iets wat waarde het vir die toekoms nie. Dit is nie iets wat te make het met ons dood eendag nie, maar te make het met vandag, elke dag in ons lewens. God gee ons elke dag ‘n tweede of selfs ‘n derde en ‘n vierde kans om in Sy teenwoordigheid te leef. Ons moet nie leef om eendag te sterf en weer opgewek te word nie, maar elke dag sterf in ons sonde, die ou mens begrawe en opstaan as ‘n nuwe mens, wat in God se teenwoordigheid wil leef!


Die opstanding van Jesus Christus verseker ons ‘n toekoms by God en saam met God: omdat Hy opgestaan het sal ons opstaan, omdat Hy lewe sal ons vir altyd lewe, omdat Hy by God is sal ons ook eendag by God wees. Die opstanding van Jesus het ook 'n direkte verband met die doop want wanneer iemand gedoop word, word hulle altyd in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, gedoop. Dit beteken dat die beloftes van die Vader ook beloftes vir die dopeling is, dat die opstanding van Jesus ook die opstanding van die dopeling sal wees, en dat die Heilige Gees die beloftes van die Vader en die redding en opstanding van Jesus, wáár in die dopeling se lewe sal maak, dat hulle dit werklik deur die geloof sal ontvang en alles deelagtig sal word. Dit sluit selfs ‘n baba wat gedoop word, in, want daardie baba kom van God en sal na God toe terugkeer.


Die opstanding van Jesus Christus is die enigste, ware en onverdeelde basis waarop ons ons hoop kan bou. Niemand anders kan 'n beter fondament vir die lewe en die toekoms lê as wat God reeds gelê het nie: “Ons is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God ons gegee het moet ons mooi kyk hoe ons verder op daardie fondament wat deur God reeds gelê is, Jesus Christus, bou” (1 Kor. 3:9b-11). Martyn Lloyd-Jones het dit beaam: “Alle stoflike dinge kry ewigheidswaarde omdat ons Here vir altyd opgestaan het!” As die opgestane Christus nie in ons leef nie of as die opgestane Jesus nie ons lewens verander het nie, help dit niks dat Hy opgestaan het nie!


“Christus het opgestaan, maar nie ons sonde nie; dié het saam met Hom gesterf. Die straf op daardie sonde is vir ewig in Christus se leë graf begrawe” (Thomas Brooks).


Gebed: Jesus Christus, U wat die aarde teen die uitspansel gehang het, het nog eergister aan die kruis gehang. U wat die Koning van die wêreld is, het nog eergister ‘n doringkroon gedra. U wat die berge in wolke klee, het nog eergister die bloedbevlekte kleed van spot gedra. U, die Bruidegom wat U kerkbruid gaan kom haal, is met spykers aan ‘n houtkruis vasgenael. U, die Wonderseun van ‘n maagd, is met ‘n spies deurboor. Gister en eergister het ons nog U lyding en dood beween, maar dankie Vader, vandag kan ons juig oor Jesus Christus se opstanding! Amen. (Gebed effens aangepas van ‘n Oosterse-Ortodokse Kerk Paaslied).



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page