top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 35) – JESUS SE LAASTE WOORDE TERWYL HY STERF:

4DE KRUISWOORD! (Matt. 27:32-56; Mark. 15:21-41; Luk. 23:26-49; Joh. 19:17-37)


Mark. 15:33-34 – “Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eloï, Eloï, lemá sabagtani?’ Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?"


Vergelyk ook Jes. 59:2 – “Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.”


Jesus se sterwensoomblikke het aangebreek. Dit word ook as ’n buitengewone gebeurtenis aangedui deur die natuurverskynsels wat dit vergesel. (Selfs die natuur kon Jesus se lyding nie meer aanskou nie). Van twaalfuur tot drie-uur oordek duisternis die hele aarde. Hoe dit te verklaar is, volgens ons kennis van die verskynsels in die natuur, weet niemand nie. Ons kan alleen aanneem dat dit God self was wat die aarde in donkerte gehul het om ‘n einde te bring aan die onuitspreeklike lyding van Sy Seun.


God was altyd naby Jesus – “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My” (Luk. 3:22b); Hy het aarde toe gekom om die wil van Sy Vader te doen (Joh. 6:38); Jesus verklaar dat God by Hom is (Joh. 8:29) – Tydens Sy lewe op aarde sou Jesus altyd hierdie intimiteit met God die Vader hê. En tog, aan die kruis, word hierdie intieme eenheid tussen Vader en Seun, wreed verbreek, en Jesus beleef dat sy Vader Hom verlaat het. Daar waar Hy aan die kruis hang, praat Jesus met Sy Vader: “Vader vergeef hulle ... ; Vader, in U hande”, maar wanneer Jesus ons sondeoffer word, wanneer Hy die sonde van die wêreld op Hom neem, roep Hy uit: “My God, my God, ...” want God die Vader sien nie meer Sy geliefde Seun nie, Hy sien net sonde. Daar waar Hy aan die kruis hang, ontvang Hy God se oordeel oor sonde: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel ...” (2 Kor. 5:21).


Op Golgota breek ook die Vader se hart en God besluit om die middagson, wat om twaalfuur op sy felste is, “af te skakel!” Hy kom staan langs die kruis waar Jesus besig is om onder die mensdom se sondelas te sterf. God werp vir drie ure ’n kleed van “duisternis oor die hele land” om die verskriklike worsteling van Sy Seun met die wêreld se sondelas te verberg. Die sondelas van die mensdom skuif soos ‘n donkerkleed tussen God en Jesus in, Hy word as’t ware toegevou met die vrees van sonde, vir die eerste keer beleef Hy wat sonde is, sodat ons vrees daarvoor weggeneem kan word en die hemelpoorte vir ons kan oopswaai!


Toe die duisternis weer opklaar, breek Jesus die stilte en met feitlik Sy laaste lewensasem roep Hy uit: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Dit getuig van die gevoel van verlorenheid en verlatenheid in nood, maar ook van die sekerheid van redding omdat God naby is. Die uitroep was nie een van vertwyfeling nie, maar ’n angsroep waarin Jesus sy onpeilbare en onbeskryflike sieleleed aan die Vader beklaag. Ten spyte van die gevoel van God verlatenheid, bly Jesus verseker van God se nabyheid en spreek Jesus Hom aan, kleef Hy aan Hom vas met die uitroep: “Mý God”!


Dít was Jesus se liefdesoffer op Golgota – Godverlate sodat God ons opnuut weer vir Hom kon neem, sodat ons nooit deur Hom verlaat sal word nie – Hy dra elke vorm van sonde van die ganse mensdom fisies en geestelik en Hy sê vir elke mens op aarde: “Indien jy jou nie bekeer en wegdraai van die sonde nie, sal jy vir ewig in die hel moet uitroep: ‘Waarom het U my verlaat?” Dit geld selfs vir diegene wat glo dat daar nie ‘n hel is nie en dat die “God van liefde” nie die mensdom tot daardie uiterste toe sal neem nie: “As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?” (Luk. 23:31). As God toelaat dat so ‘n verskriklike lot die onskuldige Jesus tref soos wat die wêreld Hom aangedoen het, hoeveel erger sal die lot van die wêreld wees?


“Christus het op die gewone wyse as mens die verlating van God gevoel en tegelyk was Hy deur die geloof, van Gods liefde verseker” (Johannes Calvyn).


“Die misterie van alle misterie is dít: dat God Godself aan die kruis in Godverlatenheid gelaat het” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Jesus dat U gewillig was om van God verlate te wees sodat ek vir ewig in Sy teenwoordigheid kan leef. Ek hoef nooit uit te roep: “Waarom het U my verlaat nie?” want “van my geboorte af is ek onder U sorg, van die begin van my lewe af is U my God” (Ps. 22:11). Wanneer ek deur donker tye gaan en soms voel dat selfs God my verlaat het, wéét ek dat ek maar net kan roep na U, U is nooit ver van my af nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page