top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Jesus ontmoet Sy moeder op die Via Dolorosa (Word nie in Bybel gereflekteer nie)

JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 30) - DIE VIA DOLOROSA! (2)

(Matt. 27:32-34; Mark. 15:21-24; Luk. 23:26-32)


Luk. 23:26 – “Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ‘n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.”


Die begrafnisstoet beweeg verder op die Via Dolorosa. Jesus se tog word al hoe moeisamer. Die smal straatjies is gepak van feesgangers. Jerusalem is tot oorlopens toe gevul met pelgrims wat die paasfees kom bywoon het. Dit het Jesus se vernedering sóveel erger gemaak. Meeste van hierdie feesgangers het ‘n paar dae gelede “palmtakke gevat en Jesus wat op ‘n donkie Jerusalem ingery het, tegemoet gegaan en uitgeroep: ‘Prys Hom, loof Hom wat in die Naam van die Here kom, die Koning van Israel” (Joh. 12:13). Hulle lofprysinge van weleer, het nou verander in snedige aanmerkings.


Die Prins van die hemel wat kom mens word het op aarde, se menslike kragte is op breekpunt. Hy volg steeds die Romeinse offisier op pad na Golgota, die plek van veroordeling. Jesus is volkome mens wanneer Hy onder die gewig van Sy kruis struikel en die soldate noodsaak om “Simon van Sirene, op te kommandeer om Jesus se kruis verder te dra.” Simon was heel moontlik daar vir die paasfees en het die raserige skare gesien, nuuskierig nadergestaan en nou word hy beveel om Jesus se las te help dra. Simon van Sirene se lewe verander vir ewig want niemand se lewe bly onveranderd wanneer jy ‘n ontmoeting het met Christus nie: “Kom na My toe,almal wat uitgeput en oorlaai is. Neem My juk op jou en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en jy sal rus kry vir jou gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Matt. 12:28-29).


In die stoet volg die Fariseërs, die Joodse leiers en owerpriesters wat Jesus aangekla het. Hulle is verskriklik opgewonde. Uiteindelik het die volk, “die hele wêreld wat agter hom aangegaan het” (Joh. 12:19), teen die Man van Nasaret gedraai. Uiteindelik kan hulle van hierdie godslasteraar wat homself die “Seun van God” noem, ontslae raak. Ironies beïndruk die heidense praktyk van kruisiging, hulle ook nie. Voorheen sou hulle nie met heidene, of onbesnedenes, meng nie (Hand. 11:3), maar nóú stem hulle saam met hierdie heidense praktyk van hulle heersers wat hulle só haat, ten spyte dat dit een van hulle volksgenote is wat só grusaam moet sterf.


Die laaste groep mense wat moontlik deel was van die “begrafnisstoet”, is Jesus se vriende, mense wat waarlik omgee en simpatie het met Sy lyding en spot. Sy moeder dink dalk terug aan Simeon se profetiese woorde in die tempel kort na Jesus se geboorte: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word ... En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan” (Luk. 2:34-35). Johannes is ook daar en onthou dalk Jesus se profetiese woorde oor Sy eie dood toe hy en Jakobus eendag vir Jesus gevra het om die twee ereposisies aan weerskante van Jesus in Sy koninkryk te beklee. Hy het hulle toe geantwoord: “Julle weet nie wat julle vra nie, kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink ...” (Mark. 10:37-38). Hy twyfel of hulle vandag die twee “ereposisies” sou inneem wat deur die twee misdadigers ingeneem gaan word?


Jesus het aarde toe gekom en volkome mens kom word, maar Hy het ook God gebly! Hy moes só die lydingspad van God as mens kom stap sodat Hy volkome medelye met ons in ons menslike swakheid kon hê. Elke keer wanneer ons struikel op ons daaglikse “via dolorosa”, bevestig Jesus wéér dat Hy reeds die pad van menslike lyding vooruit geloop het. Hy was reeds daar, sodat Hy vir ons, genade na liggaam en gees kan gee om vandag ons kruis te kan dra. Hy het geweet dat ons in ons mensheid nie alleen ons “via dolorosa” sal kan loop nie, of ons kruis sal kan dra nie, daarom gee Hy ons die Heilige Gees, wat by ons en in ons kom woon het, om juis die krag van God in ons te ontsluit en ons in staat te stel om énige kruis te dra.


Jesus verstaan presies wat ek en jy elke dag beleef. Hy was hier op aarde en weet hoe dit voel om nie meer verder te kan gaan nie, daarom rig die Hebreërskrywer die volgende uitnodiging aan ons om vas te hou aan die geloof wat ons bely in Jesus Christus, sodat ons uit Sy krag, deur die Gees kan verder gaan: “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb. 4:14-16). Dit is elkeen se eie keuse wat hy/sy met hierdie uitnodiging maak.


“Jesus het nie gekom om ons leed weg te neem of om ons leed te verklaar nie. Hy vul net ons lewe én ons leed met Sy teenwoordigheid” (Paul Claudel).


Gebed: Here, ek buig in diepe nederigheid voor U wat die pad van die kruis gekies het om my te verlos. Dankie Here dat U groter is as enige probleem wat ek kan ervaar. U wéét van elke keer wanneer dit voel of die lewe vir my ondraaglik raak, maar dankie dat ek nogtans my probleme met U mag deel. Saam met Paulus wil ek bely: “In alles word ek verdruk, maar ek is nie terneergedruk nie; ek oor raad verleë, maar nie radeloos nie” (2 Kor. 4:8). Here, verlig my verstand, my begrip en my hart om standvastig in hierdie waarheid te bly. Maak my sensitief om te luister na die influistering van U Gees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page