top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 28) – OORGELEWER VIR KRUISIGING (2)!

(Matt. 27:15-26; Mark. 15:6-15; Luk. 23:13-25)


Joh. 19:9-10 – “Pilatus het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: ‘Waar kom jy vandaan?’ Jesus het hom egter nie geantwoord nie. Pilatus sê toe vir Hom: ‘Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”


Vergelyk ook Mark. 15:3-5 – “Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. Pilatus het Hom toe verder ondervra. ‘Verweer jy jou glad nie?’ het hy gevra. ‘Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.’ Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.”


Wanneer Jesus Christus as Middelaar en Verlosser voor die regterstoel van Pilatus staan, staan Hy nie daar om Homself te verteenwoordig nie. Hy staan daar in die plek van al die mense wat sy “Vader aan Hom gegee het, vir wie Hy nooit sal verwerp nie” (Joh. 6:37). Hy staan daar in die plek van elkeen wat “met sy mond bely dat Jesus die Here is, en met sy hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, wat gered sal word” (Rom. 10:9). Pilatus het buitendien onverskillig gestaan teenoor die waarheid wat Jesus verkondig en daarom praat Jesus nie verder met hom nie. Jesus het niks meer vir Pilatus te sê nie want Hy weet Hy staan daar in die plek van ek en jy, sodat ons nou vry van die oordeel van God is en nooit die oordeel van God hoef te vrees nie: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” (Joh. 5:24).


Wat ‘n weersinwekkende toneel? Pilatus se gewaande mag oor Christus lyk eintlik pateties. Uiteindelik het sy reputasie as goewerneur en die goedgunstigheid van die Jode, vir Pilatus meer getel as die waarheid en die reg. Dit is so tipies algemeen menslik om te dink Christus is in jou hand en jy kan met Hom maak wat jy wil, maar ons weet vandag, die waarheid is die teenoorgestelde. In ons geestesoog sien ons Jesus hier staan, Sy pers kleed is verbleik van al die bloed, oë toegeswel van al die klappe, liggaam oortrek met pyn, moeg en uitgeput van al die lyding, duidelik nie dieselfde "Jesus van Nasaret" wat ‘n paar uur vantevore in Getsemane in hegtenis geneem is nie.


Tog, deur Sy vernielde en geskonde toestand, straal daar steeds ‘n teerheid uit Jesus uit, ‘n meegevoel vir elkeen hier voor Hom. Soos ‘n Koning met waardigheid is die kontras tussen Hom, Pilatus, Barabbas en jillende skare Jode wat bloeddorstig nog meer bloed soek – Hy het steeds al hierdie vyande lief! Geen wonder Pilatus “was verbaas” nie want hy het nie die Vader geken nie. Wanneer Jesus swyg, verstaan ons nie altyd nie, maar wanneer Hy praat, is dit ‘n wonderwoord, wat ons verbaas en swygend voor Sy alomteenwoordigende en allesdeurdringende liefde laat staan.


Ons sien selfs vir satan daar tussen die mense. Hy kan nie wág dat Jesus ‘n einde gaan bring aan Sy lyding nie, Homself verlos en ‘n einde maak aan die verlossingsplan nie. Hy wil sien hoe Jesus gaan terugbaklei, kwaad met kwaad vergeld, weier om die ander wang te draai, Hom verset teen hierdie kwaadwillige spul Jode en Romeine (Matt. 5:38-42). Hy wens dat Jesus net één keer moet faal, dan sal Sy offer onvolmaak wees en Hy aan versoekings meedoen. Ons weet vandag dat satan verniet gehoop het vir Jesus se ongehoorsaamheid want Hy het waardig en volkome God se wil en opdrag tot op die einde volbring.


Vir die redding van één sondaar moes Jesus die volle prys betaal, hierdie verskriklike lyding deurmaak. Sonde in die oë van God is één leuen, één vloekwoord, één keer se onvergewingsgesindheid, één keer se ontkenning van Jesus se Naam, één keer se liefdeloosheid, één ... Die lys van sonde is eindeloos, dit verwoes, dit verrinneweer, dit verneder! Jesus Christus moes die prys betaal vir elkeen daarvan en vir elkeen van ons, beroemdes of geringes. Daardeur het Hy vir ons die deur oopgemaak en die keuse gemaak of ons in die Man van Nasaret wat Homself as “die Seun van God” voorgedoen het, gaan glo, of aan dit wat die wêreld met sy menigte valse leraars verkondig!


Hy het geswyg en alles deurstaan vir jou en my. Hy is vals beskuldig, maar het nie terug beskuldig nie; deur mense geslaan, maar nie teruggeslaan nie. Hy het dit alles verdra, omdat Hy jou en my lewe wou red. Hy is deur satan versoek, geopponeer, maar dit weerstaan omdat Hy seker wou maak jy en ek volg Sy voorbeeld. Sy lyding op aarde was die prys wat Jesus moes betaal vir jou en my. Vir die redding van net één sondaar, moes Jesus die vólle prys betaal. Waar staan ons teenoor die Man van Nasaret? Wat het Hy in jou en my lewe bereik? As Hy nie geslaag het om ons te verander nie, is dit nie omdat Hy nie kan nie, dit is omdat ons Hom nie wil toelaat nie, omdat ons nie wíl verander nie!


“Sonde is die duurste ding in die heelal. As dit onvergeef bly, kos dit jou die ewigheid. Word dit vergewe, het dit Christus se lewe gekos om dit te bewerkstellig” (Charles G. Finney).


Gebed: Here, as U my sondes in aanmerking sou neem, sou ek nie meer bestaan nie. Maar by U is daar vergifnis, daarom wil ek U dien (Ps. 130:3-4). Dankie dat U vir my gely het en sodoende vergifnis vir my moontlik gemaak het. U weet hoeveel oordeelsfoute ek gemaak het, hoeveel flaters ek op my kerfstok het, hoeveel onoordeelkundige dinge ek al kwyt geraak het en mense daardeur ontsettend seer gemaak het, dankie dat U ten volle daarvoor betaal het! Here, help my om deur U Gees U swye te verstaan. Laat dit ook kenmerkend wees van my lewe want dit is in stilte dat ek, soos U, verstandelik en liggaamlik kan groei en in guns by God toeneem (Luk. 2:52). Werk deur U Gees in my lewe sodat ek U voorbeeld van stilswye, waar en wanneer dit nodig is, kan toepas. Dankie vir U genade. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page