top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 27) – JESUS WORD OORGELEWER OM GEKRUISIG TE WORD. (1)!

(Matt. 27:15-26; Mark. 15:6-15; Luk. 23:13-25)


Joh. 19:1-5 – “Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. Die soldate het ‘n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ‘n pers mantel aangetrek en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: ‘Ons groet U, koning van die Jode!’ En elke keer het hulle Hom geklap. Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: ‘Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.’ Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: ‘Dit is die mens!”


Vergelyk ook Jes. 53:7 – “Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.”


Pilatus se poging om Jesus vrygelaat te kry, het misluk en hy laat Jesus gésel. Hoewel hy van Jesus se onskuld oortuig was, wou hy blykbaar aan die Jode toegee deur Jesus op hierdie wyse te laat straf. Hy het seker gehoop dat so ‘n wrede pyniging die Jode gelukkig sal maak en hulle dit as genoegsame straf sou beskou sodat hulle sou toestem om Jesus daarna los te laat: “Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. Ek sal hom laat gésel en dan loslaat” (Luk. 23:15-16). As dit sy verwagting was, het hy die Jode se haat teen Jesus onderskat. Wat ‘n spektakel! Jesus se liggaam word onskuldig tot ‘n bloederige pappery oopgekloof om ‘n onredelike skare te bevredig!!


Nadat die soldate Jesus gegésel het, begin hulle met ’n hartelose bespotting. Hulle het gehoor dat Hy “die koning van die Jode” genoem word, en behandel Hom spottend as koning. Met ’n kroon van dorings word Hy gekroon, en Hy kry ’n pers mantel as kleed van koninklike waardigheid. Sou hulle die betekenis van die dorings besef het? Dit simboliseer die pyn en vloek van sonde (Gen. 3:17-18). Die soldate sit hulle ruwe spel voort deur telkens met nagebootste eerbied Jesus as koning te kom begroet en Hom in plaas van ’n geskenk, ‘n klap in die gesig te gee. So word Hy ten opsigte van sy koninklike amp beledig en verneder, en met Sy gepynigde liggaam en gekrenkte gees verdra die Man van Smarte (Jes. 53), dit swygend. In die koning van die soldate se spotspel is die Koning van die heelal verborge!


Al is Pilatus oortuig van Jesus se onskuld en verklaar hy as regter dat Jesus onskuldig is, laat hy Hom nie vry nie, maar stel hy Hom nou in die hande van die Jode. Hulle moet die besluit oor Jesus neem. Hy bring Jesus te voorskyn, nog getooi soos ’n spotkoning en Sy liggaam verbrysel deur die genadelose géseling. Aan Sy voorkoms is daar geen teken van iemand wat daarop aanspraak maak dat Hy werklik ’n aardse koning is nie. Neerhalend verwys Pilatus na Jesus met die woorde: “Dit is die mens!”


Hier staan Jesus werklik as “die mens”. Hy het die plek geneem van die sondaar en dra die straf vir die sonde: “Tog het Hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra” (Jes. 53:4). Ironies dat Pilatus die skreeuende skare oproep om Jesus die mens te aanskou, sonder om een oomblik te begryp dat dit die definisie van volkome menswees is wat voor sy oë staan! Vals beskuldig, deur die gesig geklap, gespoeg, geblinddoek en met die vuis geslaan, herhaaldelik met stokke oor die kop geslaan wat die dorings van die “kroon” dieper in Sy vlees indruk, Sy hande vasgebind en kan Hy nie eers die bloed oor Sy oë uitvee nie, deur géseling vermink!


DIT IS DIE PRYS WAT JESUS VIR ONS SONDES BETAAL HET! Beleef Jesus se gesig nadat die soldate daardie bebloede doek afgehaal het waarmee hulle hom geblinddoek het – “Hy het nie die skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie” (Jes. 53:2b). Kan u vir Jesus oor die pilaar uitgestrek sien lê, terwyl die sweep Sy ontblote rug al hoe dieper oopkloof? Sien u hoe Hy Sy oë styf toemaak elke keer wanneer die stukkies metaal en been, pynlik op Sy verwonde liggaam insny, stukke vleis daaruit ruk? – “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie” (Jes. 53:3).


Kan ons ooit besef wat Jesus vir ons deurgemaak het? Kan die God van hemel en aarde, mense só lief hê? Is sonde regtig só vreeslik? Waarom het Jesus dit toegelaat? – “Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5b). Wat ‘n geweldige gedagte!! Ons sou nooit die heerlike emosie van vrede kon geniet het as Jesus nie hierdie lydensweg tot op die einde voltooi het nie. Mag ons nooit vergeet wat ‘n groot prys Jesus moes betaal om ons van die siekte van sonde te kom genees nie. Mag ons die vreeslikheid van sonde in die wrede mishandeling van Jesus sien. My redding was vir Hom belangriker as Sy lyding. Kyk! “Dit is die mens”, kyk hoe is Hy al verrinneweer, vir my en jou!


“Jy sal nooit weet dat Jesus al is wat jy nodig het nie totdat Jesus al is wat jy het”

(Moeder Teresa).


Gebed: Dankie Jesus dat U die pad van marteling en skande ter wille van my geloop het. Dankie dat U bereid was om die prys vir my redding te kom betaal en niks U in hierdie doel kon stuit nie! Dankie dat U uit U eie lyding en vernedering my as sondaar verhef het tot ewigdurende kind van God! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page