top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 24) – JESUS VOOR PILATUS (1)!

(Matt. 27:1-2, 11-21; Mark. 15:1-11; Luk. 23:1-5, 13-19)


Joh. 18:28-32 – “Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: ‘Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?’ Hulle het hom geantwoord: ‘As hy nie ‘n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.’ Pilatus sê toe vir hulle: ‘Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.’ Maar die Jode sê vir hom: ‘Ons mag nie iemand teregstel nie.’ Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.”


Vergelyk ook Matt. 27:1-2 en 11 – “Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. Hulle het Hom toe geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur uitgelewer. Die goewerneur vra Hom: ‘Is jy die koning van die Jode?’ Jesus antwoord: ‘Dit is soos U sê.”


Die Vrydagoggend vroeg is Jesus vanaf Kajafas, na die ampswoning van die goewerneur gebring. “Die priesterhoofde en die familiehoofde” verklaar onomwonde dat Jesus “’n misdadiger was”, en hulle woordkeuse gee te kenne dat Hy gereeld met misdaad besig is. Dus gaan die beskuldiging nie oor ’n bepaalde daad nie maar oor die karakter. Jesus, die sondelose, wat altyd net goed gedoen het, word uitgewys as ’n gewoontemisdadiger, wat so gou as moontlik uit die weg geruim moet word.


Die Jode weier om die ampswoning van die nie-Jood binne te gaan omdat hulle volgens hulle wette dan “onrein sou word” en nie die paasmaal later daardie aand sou kon eet nie. Die ironie is juis dat hulle op moord bedag is, maar ’n onbenullige voorskrif van die wet nie wil oortree nie. Hulle wil nie onrein word en daardeur die slag van die paaslam en die paasmaaltyd misloop nie, maar hulle wil die Lam van God slag voor hulle Paasmaal.


Wanneer Jesus in die hofsaal voor Pilatus gebring word en hy Jesus sien, vra hy: “Is jý die koning van die Jode?” Aan Jesus was daar geen teken van ’n geweldenaar nie; Hy was kennelik iemand by wie daar geen gedagte aan politieke ambisies was nie; Hy was die toonbeeld van onderworpenheid en onskuld. Pilatus lê klem op die “jy”: “Jý, is jý die koning van die Jode?” Vir hom is dit moeilik om te glo dat hierdie man beskuldig kon word van aanspraak op koningskap. Pilatus moes tot die insig kom dat hier ’n groot verskil aan die orde is, maar hy het nietemin geweier om so ’n verskil te erken.


Indien die Jode Pilatus se instruksie gehoorsaam het deur Jesus te “vat en hom veroordeel volgens hulle wet,” sou hulle Jesus moontlik gestenig het. Die Joodse Raad kon volgens die Joodse reg iemand oor godsdienstige sake laat stenig. Deur na Pilatus te gaan om die dood deur kruisiging te verkry, was die Jode dus besig om die plan van God uit te voer. Dit beteken dat God die verloop van sake bepaal het en dat Jesus aktief besig was om die heilsplan van die Vader tot volvoering te bring. Hoe groot die vernedering en hoe smartlik die lydensweg ook al was, was Hy meester van die situasie en is dit Jesus wat vrywillig aan die Vader gehoorsaam bly.


In ons geestesoog sien ons Jesus daar voor Pilatus staan: Die Man van hemelse afkoms teenoor Romeinse adel; die Man van vryheid, die weg, die waarheid en lewe teenoor die slaaf van sonde; die Man wat alles doen volgens die wil van God teenoor die man van die Romeinse wet; die Man wat lewe gee teenoor die man wat mense kon laat doodmaak; die Regter oor die heelal teenoor die regter oor Jesus!


Die Koning van die hemel en aarde en die Romeinse goewerneur kyk mekaar in die oë. Dit is eintlik tragies dat Pilatus geestelik blind was om Jesus se ware identiteit nie raak te kon sien nie. Indien hy kon, sou hy Jesus se Koningskap ervaar het as Koning oor ‘n vredesryk, ‘n ryk wat mense van binne af verander, ‘n ryk van die hart! As Pilatus by Jesus gaan staan het, het hy onder hemelse bestuur gekom!!! As hy maar geweet het die Gestuurde van die lewende God van hemel en aarde, staan voor hom, sou hy in eerbied op sy knieë neergeval het. Om voor Hom te kniel, is tog die beste keuse van jou lewe. Die resultaat daarvan is oneindig!


Jesus wat getriomfeer het as Koning van alle Konings en Heer van alle heersers, word nie erken nie. Daar is steeds ‘n menigte mense vandag wie Jesus Christus steeds ontken, mense wie se harte en lewe nog nie deur die Koning van alles, oorwin is nie; mense in wie se lewe Hy nie triomfeer as Koning nie: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en Koning van die konings is” (Op. 17:14).


“Ons mag vry wees om te kies, maar ons is nie vry om die gevolge van ons keuses te kies nie” (Selwyn Hughes).


Gebed: Jesus Christus, my Here en my Koning, ek buig in nederige aanbidding voor U majesteit en glansryke heerlikheid, U is Koning van my hart! Here, moenie toelaat dat die god van die wêreld my geestelike visie verwring nie. Dit is só maklik om deur “die god van hierdie wêreld verblind te word sodat ek die lig van die evangelie nie kan sien nie, die evangelie van die heerlikheid van U, wat die beeld van God is” (2 Kor. 4:4). Dankie dat U teenwoordig is deur U Gees wat my pad verlig sodat ek die sondegevaar kan waarneem. Dankie Jesus, dat U nie ‘n plaasvervanger vir my gegee het nie maar Uself, om die pad na die Vader toe te vind. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page