top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 20) – SY WORSTELING IN GETSEMANE!

(Matt. 26:36-46; Mark. 14:32-42; Luk. 22:39-46; Joh. 17)


Mark. 14:32-36 – “Toe kom hulle by ‘n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir Sy dissipels: ‘Sit hier terwyl Ek gaan bid.’ Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: ‘Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!’ Hy het toe ‘n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid: ‘Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”


Vergelyk ook Joh. 17:1-5 – “Jesus het na die hemel toe opgekyk en gesê: ‘Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.”


Dit was ‘n reël by die Jode dat die paasmaal nie voor middernag beëindig word nie. Ons kan dus aanneem dat dit reeds ná middernag was toe hulle by die Tuin van Getsemane kom. Die tyd het gekom dat Jesus oorgelewer moes word in die hande van sondaars. By die ingang van Getsemane, het die verskrikking van Sy lyding, Jesus getref en daarom laat Hy agt van Sy dissipels daar agter. Jesus weet dat Hy vir die oorblywende gedeelte van daardie nag die eensaamheid van die dood moet deurworstel. Daarom neem Hy net vir Petrus, Jakobus en Johannes saam en gaan hulle dieper die tuin in. Hulle drie was ook getuies van Sy mag oor die dood van Jaïrus se dogtertjie (Mark. 5:37) en van die openbaring van Sy goddelike heerlikheid op die berg (Mark. 9:2). Jesus neem hulle saam om Hom by te staan in die diepte en omvang van Sy lyding.


Jesus begin Sy intieme gesprek met Sy Vader deur op te kyk na die hemel en in die oomblik van uiterste sielsmarteling, roep Hy in Sy Aramese moedertaal uit: “Abba!” dit is “Vader!” Pleitende op die almag van God, versoek Hy dat die drinkbeker by Hom mag verbygaan sonder dat Hy daarvan drink. Knielende smeek Hy sy Vader om die beker van alles wat God oor die mens bring: die oorvloed van vreugde: “U maak my hoof vet met olie, my beker loop oor”(Ps. 23:5), of die volheid van Sy toorn: “Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses, ‘n skroeiende wind; dit is die beker wat hulle sal drink” (Ps. 75:9). Tog is daar geen verset teen die raadsplan van God nie. Onvoorwaardelik onderwerp Hy Hom aan die wil van die Vader en Sy lydensweg verander in vrede, berusting en oorwinning.


Met ‘n feestelike gebed om Sy oorwinning oor die wêreld te vier, rig Hy hom tot Sy Vader: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik.” Hier reg voor Sy kruisiging is dit Jesus se begeerte dat Hy sy lewe in hierdie uur aan sy Vader sal wy as ‘n aanvaarbare offer vir die sonde van die wêreld (Joh. 17:19); dat die Vader Hom uit die dood sal opwek tot die troon van heerlikheid (Joh. 13:31-32); dat almal dit sal erken as die begin van die koms van God se koningskap oor die hele wêreld; dat die heerlikheid van die Vader sal straal uit sy liefde om mense te oortuig en te verlos.


Jesus gebruik nie gebed om uit Sy sielslyding te kom nie, maar om Sy Vader te verheerlik. Terwyl Jesus Sy dood in die gesig staar, gebruik Hy nie gebed as instrument om uit die moeilikheid te kom nie: Here red ...; Here help ...; Here ondersteun ...; Here, luister tog ...; Jesus vra nie vir Sy eie gemak nie, Hy bevestig dat “dit die ewige lewe is: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” Jesus se gebed is verhoor, daarom kan ons vandag uit hierdie gebed lééf!


Jesus het die drie dissipels gevra om te waak en ‘n entjie verder van hulle, gaan bid. Sy nag van angs het begin, Hy het doodsbenoud geraak, Sy sweet het soos bloeddruppels geword. In Sy worsteling met God vra Hy: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat ek wil nie, maar wat U wil”. Sy angs kon Hy met niemand deel nie. Selfs Sy drie vriende kon nie eens saam met Hom waak nie, hulle het aan die slaap geraak! Jesus het hier reeds al iets van 'n Godverlatenheid begin ervaar. Daar tussen die olyfbome in die tuin wat “oliepars” beteken, word Jesus se sielestryd gepars dat Sy sweet soos bloeddruppels op die grond val. Alleen tussen ʼn paar slapende dissipels, moes Jesus finaal kies en skielik was Sy keuse ontsettend beperk: Gehoorsaamheid aan Sy Vader of ongehoorsaamheid ... die dood of die lewe.


Goddank, Jesus het presies die regte keuse gemaak!! Hy het op sy knieë voor God in gebed neergeval, want aan sy Vader se voete sou Hy die regte antwoord vind. Daar in Sy beangste oomblik was God se wil Sy enigste pad wat Hy moes loop, om sodoende vir ons die weg te baan. Dit is alleenlik dáár aan die voete van ons hemelse Vader, wat ons die regte antwoorde op ons worsteling en lyding kan kry. Dit is alleenlik dáár, aan die voete van ons liefdevolle Vader, waar jy en ek sal ontdek wat die regte pad is wat ons moet loop.


“Jesus het met Sy Getsemane-gebed, die deur vir ons gelowiges, na God toe oop gebid, nie oop gebéúr of oop geforséér nie” (Anoniem).


Gebed: Dankie Jesus, dat U die Vader aan ons kom openbaar het. Nou wéét ek dat ek deel van God se gesin is en kan ek Hom direk ken. Dankie dat U vir my die deur na God toe oopgemaak het sodat ek in die teenwoordigheid van ons Vader kan leef en bestaan. Help my Vader, om my los te maak van die dinge waarin ek vervulling soek en maak my hart oop vir U. Dankie Vader dat U my in liefde aanvaar, voed my met die Brood van die lewe want “dit is die ewige lewe: dat ek U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page