top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 18) – ERFGENAME SAAM MET CHRISTUS!


Joh. 14:30-31 – “Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld, die Satan, is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het. Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”


Vergelyk ook Joh. 7:7 – “Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is.”


Jesus en die oorblywende elf dissipels het die paasmaaltyd klaar genuttig en verlaat die bovertrek. Aangesien die gesprek daarna nog voortgaan, was dit waarskynlik terwyl Jesus en die dissipels langsaam op pad was na die Tuin van Getsemane, en so in die stap sou Jesus die gesprek voortgesit het.


Dit is ‘n bewese feit dat die wêreld, wat onder heerskappy staan van “satan, die owerste van die wêreld”, die volgelinge van Jesus sal haat omdat hulle die Naam van Jesus bely. Dit is nie iets nuuts wat oor hulle sal kom nie, maar dit is die volgehoue houding van die wêreld teenoor Jesus want ons leef wel in die wêreld, maar “behoort nie aan die wêreld nie”. Die feit dat die wêreld ons haat, is die bevestiging dat ons aan Christus behoort. “God het ons die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Fil. 1:29).


Die stryd is nog steeds nie verby nie. Satan is oorwin maar hy het nog nie die stryd gewonne gegee nie. God se plan het egter nie ontspoor of iets het verkeerd gegaan nie, dit het immers met Jesus gebeur daarom sal ons gelowiges nie vryspring nie. Om ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur. Toe God Sy skepping van die sonde wou red, kon Hy aan geen ander manier behalwe die offer van Sy Seun vind nie (Rom. 5:8). As Christus ons voorbeeld is om te dien en die lydensweg moes beleef, kán ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As dit ons roeping is om te getuig vir Christus, moet ons gewillig wees om soos Hy verwerping te waag. Mense kan ons teleurstel, beledig, valslik beskuldig, ons motiewe verkeerd verstaan en selfs verag en “vervolg.” Ons Verlosser het nie toegelaat dat lyding verhoed dat Hy deur God gebruik word om hulle wat Hy liefhet, te red nie.


Een van die tragedies in die wêreld is dat mense geneig is om aan satan meer krediet te gee as wat hom toekom. Nêrens in die Bybel word ons gelowiges banggemaak met die duiwel nie, maar egter gemaan om waaksaam te wees. Die duiwel is ‘n werklikheid en hy is gevaarlik maar hy weet dat sy tyd min is: “Hy kom met groot woede en met die wete dat hy min tyd het” (Op. 12:12). Hy en sy trawante werp dus alles in die stryd om in sy kort tydjie, vir hom ook dissipels bymekaar te maak. Ons is as verteenwoordigers van God geroep om oor Sy skepping te regeer en heerskappy te voer (Gen 1:26-27), en satan sal dit áltyd teenstaan en ons aanval. Ons moet egter weet dat ons die stryd voer vanuit Jesus se oorwinning aan die kruis (Rom. 8:37-39)!


As dissipels van Jesus, het ons mooi getuienisse en word verag want ons het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot. Wanneer ongelowiges die lig gewys word, verkies hulle eerder die donkerte. Hulle is so diep ingedompel in hul verkeerde dade dat hulle nie daar gesteur wil word nie: “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20).


Die gelowige wat aan die heerskappy van Jesus onderwerp is en volgens die wil van die Here leef, hoef nie bang te wees vir satan nie. Ons kan egter die stryd teen hom nie alleen stry nie. Ons het mekaar se ondersteuning, hulp, liefde, bemoediging en voorbidding nodig. As lede van dieselfde liggaam (Ef. 4:25b), is ons almal van die een Gees deurdrenk (1 Kor. 12:13), daarom moet ons as gelowiges, weer sout vir die aarde en lig vir die wêreld rondom ons wees (Matt. 5:13-14). As gelowiges moet ons geloof dóén – kerk toe gaan (Ps. 26:12), Bybel lees en saam bid (Matt. 18:19), saam sing (Ps. 104:33), saam werk (Ef. 4:16), saam dra (Gal. 6:2), saam bou (Neh. 5:16), saam stry (Rom. 15:30), ons geestelike roeping ondersoek, om ons oorwinning te waarborg (Rom. 8:37). Met die hulp van die Here kan ons ‘n gesamentlike krag wees teen al die verdeeldheid, hartseer en pyn wat satan veroorsaak.


Wanneer jy alles verloor het omdat jy lojaal is aan Jesus, het jy baie meer ontvang! Die vervolgers kan maar alles in die stryd werp om alles te steel en te verower van gelowiges, hulle sal nooit slaag om die hemel van die Christen-gelowiges, weg te neem nie. “Ons is erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid” (Rom. 8:17b). Die keuse lê by elke mens. Al wat Jesus vra is dat ons ons lewe vir Hom moet gee: “As die wêreld julle haat, onthou: hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:18-19).


“Ek verwonder my altyd aan die hoeveelheid tyd en aandag wat Christene daaraan afstaan om die duiwel te beveg. As hulle dieselfde hoeveelheid tyd en energie wou afstaan om hulself met God se werk besig te hou, sou die duiwel in sy spore inmekaarsak van blote verveling omdat niemand hulle aan hom steur nie” (Helen Keller).


Gebed: Here, dankie dat ek weet dat U by my is wanneer ek beledigings moet verduur omdat ek ‘n dissipel van U wil wees. Soms voel ek platgeslaan en wil moedeloosheid, beheer van my neem. Dit is dán wanneer U my weer op my knieë bring, die beste plek om te wees om met U te kan praat en na U te luister. Help my om passievol aan U vas te klou. Ek weet satan en sy trawante sal van my af wegvlug as ek waarlik myself aan U onderwerp (Jak. 4:7). Ek hoef nie toe te laat dat satan met my mors, bangmaak of intimideer nie. U wat by my is, wat in my woon, is onvergelykbaar groter as satan en daarom is ek meer as ‘n oorwinnaar in U (Rom. 8:37)! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page