top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (11) – JESUS SE LAASTE OPENBARE OPTREDE!


Joh. 12:44-50 – “Toe het Jesus uitgeroep: ‘Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. En as iemand na My woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie maar om die wêreld te red. Wie My verwerp en nie My woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel. Ek het nie uit My eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en Ek moet praat. En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken. Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het.”


Jesus sluit Sy openbare optrede by die tempel in Jerusalem af. Hierna sou Hy net met die dissipels praat tot met Sy inhegtenisneming. By herhaling van Jesus se vorige uitsprake, gee Hy ‘n kort samevatting van al Sy boodskappe en vind Hy dit nodig om die belangrikheid en finaliteit daarvan, “hard uit te roep!” Dit is asof Jesus vir die laaste keer probeer om die mense te oortuig dat Hy namens die Vader optree. Deur Jesus word die mens op God gerig – “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het.” Die Jode gee voor dat hulle in God glo, maar hulle weier om in Jesus te glo; dit beteken dat hulle geloof in God nie eg is nie, omdat die ware geloof sy begin kry in die geloof in Christus, die Een wat die Vader kom bekend stel het: “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak” (Joh. 1:18).


Jesus beklemtoon met Sy tweede aanmerking weer dat “Hy as die lig na die wêreld toe gekom het, sodat dié wat in Hom glo, nie in die duisternis sou bly nie.” Dit gaan om die redding van die sondaar wat van nature in die duisternis verkeer. Alleen deur in Christus te glo, kom hy uit die duisternis vry om ’n “kind van die lig” te wees: “God het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van sondes” (Kol. 1:13-14). Wanneer ons na Jesus kom, kom ons uit die duisternis en beweeg ons tot in die helder lig van Sy waarheid en liefde!


Watter vorm van duisternis ook al op ons toegesak het, Jesus skakel die lig van waarheid en geloof aan om ‘n nuwe begin moontlik te maak. Daar is net één sleutel wat die slotte by die hemelpoort oopsluit: Geloof in Jesus Christus – dit is die ondersteunende fondament! Geloof is dié emosie wat ons Christene se hele lewe omvou. Ons is Jesus se getuies en Hy het hierdie sleutel aan ons as Sy verteenwoordigers, toevertrou, en deur God se genade, as ‘n gawe ontvang. Ons moet die sleutel dus gebruik om die deure, in Christus se Naam, by hulle wat nog in die donker is, oop te sluit sodat hulle ook die Ewige Lig kan ervaar en by die regte adres in die hemel uit kan kom.


Die derde opmerking fokus op die doel van Jesus se koms na die wêreld toe. Hy het gekom om sondaarmense, die ewige lewe te gee. Die geloof in Christus wat redding bring, kom nie deur die sien van wondertekens nie, maar deur die hoor van die Woord, dit ter harte te neem en gehoorsaam word aan die gehoorde woord: “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh. 3:17). Iemand wat onverskillig staan teenoor die woord van die Here, bly in die oordeel waarin hy as sondaar verkeer!


Jesus se vierde opmerking gaan juis oor die oordeel. Die wêreld staan nou reeds in die lig van die boodskap van Jesus. Dit is ‘n eenvoudige boodskap: Die verwerping van die woorde van Jesus is gelyk aan die verwerping van Jesus self want Hy is die Woord (Joh. 1:1). Vir so iemand hoef daar nie eens ’n spesiale regter te wees nie omdat hy die oordeel oor homself bring. Die woord wat die Woord vir die mens die reddingsgeleentheid gebring het, sal in die laaste oordeel teen so iemand getuig.


Jesus sluit Sy boodskap aan die wêreld af met ‘n duidelike waarheid: “Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader” (1 Joh. 2:23). Wie nie na Jesus wil luister nie, wil eintlik ook nie na God luister nie. Wie nie in Jesus glo nie, glo ook nie in God nie, want Jesus is die weg na God toe (Joh. 14:6)! Solank as wat die mens onkundig bly oor die waarheid van die Woord, bly hy gebind deur die leuen dat Jesus nie sy sondes weggeneem het nie. Ons as gelowiges in Christus glo dat God ons onvoorwaardelik liefhet op grond van dit wat Jesus gedoen het vir ons aan die kruis.


“The greatest truth of life is the Words of Jesus Christ. A man cannot be blamed for not knowing. But if he knows the right and does the wrong, his condemnation is all the more serious. Therefore every wise thing that we have heard, and every opportunity we have had to know the truth, will in the end be a witness against us” (William Barclay).


Gebed: Vader ek weet dat U mý liefgehad het voor die skepping reeds en dat U my tóé al geken en gekies het. Here Jesus, ek glo dat U in my plek op die kruis gesterf en daardeur vir my ‘n plek in die hemel verdien het. Ek glo dat U bloed my van alle sondeskuld gereinig het. Ek glo dat U uit die dood opgestaan het en dat U lewe. Dankie vir U wonderdade rondom my, in my en vir my. Ek kan net in verwondering prewel: Hoe groot is U, U is my Here en Verlosser vir ewig. Op grond van U afgehandelde werk op die kruis, ís ek U geliefde kind. Ek aanvaar die genadegawe van die ewige lewe. Vervul my met vrede en blydskap. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page