top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (5) – WARE PROFETIESE WOORDE!

(Vergelyk ook Matt. 26:1-5; Mark. 14:1-2; Luk 22:1-2)


Joh. 11:49-53 – “Een van hulle, ‘n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: ‘Julle verstaan niks, en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.’ Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring. Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak.


Vergelyk ook Luk. 6:46 – “Watter sin het dit dat julle My aanspreek as ‘Here, Here!’ en nie doen wat ek sê nie.”


Kajafas dui die koers aan tydens die vergadering van die Joodse Raad. Hy gee die oplossing vir die “Jesus-probleem.” As “hierdie man” uit die weg geruim is, sal die volk nie gevaar loop om deur die Romeine uitgewis te word nie en Jerusalem sal weer na normaal toe kan terugkeer. As die “een man vir die volk sterwe” is dit tot die volk se voordeel en daardeur sou die leiersposisies binne die volk vir die raadslede behoue bly en Kajafas se amp as hoëpriester verseker wees. Ironies is dit nie die ongelowige wêreld nie, nie die leiers van ander godsdienste nie, of selfs satan nie, maar hierdie besluit word geneem deur ‘n spesiale vergadering van die Joodse Raad - die Algemene Sinode van die kerk van daardie tyd – Jesus moet sterf!


Kajafas het nie mooi besef wat hy gesê het nie. Die Heilige Gees het dus deur hierdie onwaardige, vyandige hoëpriester, ’n goddelike waarheid aangekondig. In werklikheid was hy as hoëpriester, die belangrikste godsdienstige figuur en inderdaad die aardse middelaar tussen God en die volk. Sy profetiese woorde is, ironies genoeg, deel van God se plan. As Jesus aan die kruis hang, is dit God se wil en nié omdat Kajafas of die Jode so besluit het nie! Dit gaan ook nie net oor die volk nie, “maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is.” Kajafas se woorde was die keerpunt in die houding van die Jode. Dit bring ’n einde aan die onsekerheid omtrent wat hulle met Jesus moet doen.


Kajafas se moorddreigement gee krag aan die waarheid oor Jesus se dood (Joh. 3:16). Jesus se lydensweg op pad na die kruis word die plek waar die paaie van al die mense oor die hele wêreld heen lei. Dit is die plek waar mense moet erken dat Jesus werklik die Seun van God is. Hy is ons Verlosser wat ons, soos vir Lasarus, uit die dood uit na die ewige lewe toe roep.


Dit klink asof hierdie verse maar net 'n historiese verslaggie is van die gebeure tydens Jesus se lydensweg, en miskien wonder sommige mense wat beteken dit nou eintlik? Sommige sal selfs reken dat ons gelukkig nie soos die Joodse Raad optree nie en hierdie verhaal nie regtig van toepassing is op ons nie. Johannes hou hier ‘n spieël voor ons en herinner ons daaraan dat dit vroom en godsdienstige mense is wat Jesus gevange geneem en gekruisig het. Mense met ‘n vaste sisteem van reg of verkeerd, kerkmense, net soos ons. Is daar nie dalk iets van die Joodse Raad wat in sommige van vandag se mense, deurskemer nie?


Nooit, ons wil nie vir Jesus doodmaak nie! Maar, maak ons nie dalk soms Sy werk ongedaan nie? Oordeel ons nie dalk ander op grond van stories wat aangedra word nie? Is ons betrokke by die nood en ellende van ons naaste? Drentel ons nie maar net lui-lui agter Jesus aan nie, of leef ons die boodskap van Christus met ywer uit? Sondae hoor ons wat Jesus gedoen het en nog steeds doen, ons lees wat Hy vra, ons loof en prys Hom, maar wanneer ons rondom ons kyk, sien ons bitter min die toepassing hiervan. Elke dag wanneer ek my eie belange voorop stel en Hom nie volg nie, soek ek vir Jesus om Hom te kruisig, maak ek Sy werk ongedaan!


Onthou, om Jesus te volg en vir Hom te werk, hou geen onmiddellike byvoordele in nie. Die aansluitingspakket het nie ‘n mooi kar, pragtige huis, baie geld, gewaarborgde veiligheid of enige salaris nie. Jou dertiende tjek bestaan uit “die massas wat jou gaan beledig en vervolg en valslik beskuldig van al wat sleg is, ter wille van Hom” (Matt. 5:11). Maar ... moed hou – ‘n Christen hou koers met die oë gerig op Jesus wat die lydenspad vir ons onthalwe gestap het!


“Om jou kruis op te neem en Jesus te volg, is om jouself prys te gee, soos Christus gedoen het, maar dit genees en herstel die aarde” (Ferdinand Deist).


Gebed: Ons Vader, ek is ‘n sondaar! As U dissipel weet ek dat my pad een van sonskyn sowel as donkerte is. Verwyder asseblief die boeie van traagheid en gebrek aan entoesiasme sodat ek die volheid en vreugde van ‘n lewende geloof kan leef! Verlos my van die verkeerde interpretasie van die voorreg om Christen genoem te word en skenk my die krag en ywer vir die take wat U aan my opgedra het. Dankie dat U my toegerus het met die Gees sodat ek in staat kan wees om ‘n dader van die Woord te kan wees! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page