top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (4) – “VOLG MY!”

(Vergelyk ook Matt. 26:1-5; Mark. 14:1-2; Luk 22:1-2)


Joh. 11:45-48 – “Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom. Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: ‘Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.”


Vergelyk ook Matt. 26:1-4 – “Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, (Sy openbare bediening op aarde afgesluit het), het Hy vir Sy dissipels gesê: ‘Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.’ In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak.”


Die Fariseërs en owerpriesters wat lede van die Joodse Raad was, roep die Joodse Raad, wat die hoogste gesag in die Joodse samelewing was, saam. Die konflik wat sedert die begin van Jesus se bediening tussen Hom en die Joodse leiers aan die opbou was, bereik nou ‘n hoogtepunt wanneer die masjinerie in werking gestel word om Hom om die lewe te bring. Jesus inisieer egter die proses wat na Sy kruisiging sal lei: “Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.” Dit is eers toe Hý besluit die tyd is nóú ryp, dat die Joodse owerhede hulle moordplanne in werking kon stel! Die eintlike rolspelers is God en Jesus – terwyl mense moord beplan, beplan God heil – God se verlossingsplan vir die wêreld word deur menslike moordplanne uitgevoer!


Die opwekking van Lasarus tydens Jesus se lydensweg, bereik nog ’n hoogtepunt, maar dit is ook ’n beslissingspunt. Vir Jesus beteken dit dat daar nou finaal besluit word dat Hy doodgemaak moet word; vir die Jode beteken dit opnuut verdeeldheid: die skeiding tussen dié wat glo en dié wat Jesus verwerp. Is dit nie ironies nie? Sommige van die mense wat gekom het om Lasarus se susters te troos, het gesién wat Jesus gedoen het, en het tot geloof in Hom gekom. ‘n Ander groepie se harte bly verhard en hulle kon nie wág om hulle stories aan Jesus se vyande, die Fariseërs, te gaan oordra nie.


Die Here se stem sny vandag nog na twee kante toe – sommige mense bly onaangeraak terwyl ander se geloofsoë siende raak. Die storiedraers het ook gesien dat ‘n man wat al vier dae dood en begrawe was, uit die dood opgestaan het en uit die graf gekom het, maar dit het nie tot hulle lewensverandering gelei nie. Daar is vandag steeds sulke mense - hulle draf om stories aan te dra en dan is dit nie altyd die waarheid nie. Wat dit nog méér tragies maak is dat die storieontvangers, negatief reageer op die stories. Die Joodse Raad het dadelik ‘n sitting belê, net op grond van die stories wat aangedra is, “om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak.”


Die kern van die bespreking van die Raad, handel oor “hierdie man” se wondertekens – water verander in wyn; genesing van lammes en blindes; voeding van duisende met ‘n karige vyf broodjies en twee vissies wat net genoeg vissmeer op die brood is vir een mens; hy loop op water; dooies word lewendig. Hy praat ook anders: “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie” (Matt. 7:28-29). Dis verregaande, as hy so aangaan, gaan “al die mense in hom glo” en dan gaan dit ons magsposisie belemmer want dan “kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.” Hulle is dus méér bekommerd oor Jesus wat besig is om hulle te beroof van hulle magsposisie! Hulle diepgewortelde invloed in die samelewing is besig om te kwyn! Daar is geen empatie of liefde meer oor vir die volk nie, die kerkleiers is meer bekommerd oor hulle geykte godsdiens en tradisies wat skade ly.


Jesus daarenteen, gee om vir mense, Hy is nederigheid in aksie! Sy passie is om verdwaaldes, honger en eensame mense, sukkelende siekes, uitgeworpenes, verwerptes, op te soek. Jesus se lydenspad stop by die voordeur van dié met stukkende lewens en Hy wag om ingenooi te word! Hy praat eenvoudige taal sodat almal Hom kan verstaan – “Volg My”, is die kern daarvan. Die probleem is egter dat daar só baie mense met verskoning-taal bo-oor Jesus se lewende woorde skryf. Jesus forseer nie Sy wil op ons af nie maar lydenstyd nooi ons uit om opnuut die regte keuses te maak. Onthou: Elkeen sal die gevolge van hulle keuses, self moet dra.


“Dit is ‘n illusie om te dink dat daar ‘n perfekte regte tyd sal kom om die regte keuse te maak tussen die verderf of hemel!” (George Patton).


Gebed: Here, ek verstaan die val-en-opstaan pad van die geestelike groei roete. Dankie dat U juis gekom het vir ‘n sonde-sukkelaar soos ek, en my telkens maar weer optel wanneer ek geval het. Dankie dat U nie volmaakte mense uitsoek nie, maar juis by my begin het net soos ek is. Ek is op ‘n Goddelike wyse geskep om ‘n Goddelike konneksie te hê en daarom is dit voorwaar die beste om naby U te loop op U lydensweg, en wanneer my geloofsoë en ore begin dof raak, bring my nader na U toe. Ek bid vir elkeen wat nog dwalend is en met verskoning-taal bo-oor U lewende woorde skryf. Help hulle Here dat hulle na U sal hunker, luister en vir U sal leef! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page