top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (3) – DIE OPSTANDING EN DIE LEWE!


Joh. 11:25-26; 33; 35; 41-44 – “Toe sê Jesus vir Marta: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?’ Toe Jesus sien dat Maria huil, het sy gemoed vol geskiet en Jesus het gehuil. Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: ‘Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom My staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.’ Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ‘n harde stem: ‘Lasarus, kom uit!’ Die oorledene het uitgekom.”


Vergelyk ook Ps. 16:9-11 – “Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. U leer my om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.”


Jesus kom met ‘n geweldige aanspraak en seker een van die mees dramatiese uitsprake in Johannes se Evangelie: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” Om te sterwe en tog te lewe? Hoe verstaan mens dit? Omdat Jesus self ook God is (10:30), is Hy in eie Persoon die opstanding en die lewe. Hy bring dit en Hy sal sy mag daartoe bewys deur die opwekking van Lasarus, maar Hy is dit ook omdat Hy God is. Die opstanding wat hier bedoel word, is nie maar net dié van ’n enkele persoon soos Lasarus nie, maar die oorwinning van die dood in al sy gestaltes, die liggaamlike dood, die geestelike dood en ook die dood in die ewige verderf.


Jesus se eerste reaksie by die graf was nie om die egte menslike smart uit die pad met ’n goedkoop “toemaar”, weg te vee nie, Jesus huil oor die dood van ‘n vriend om dieselfde rede waarom ons oor die dood van ‘n dierbare sal huil. Hy huil omdat Hy ‘n emosievolle mens was. Of ... dalk huil Jesus oor elke siel wat verlore gaan; elke mens vir wie daar so hard gebid is vir bekering en dit nie gebeur het nie; oor mense wie se harte hard bly en nie Sy uitgestrekte hand wil aanvaar nie. Dalk huil Jesus as Hy dink aan die ongelooflike pyn en vernedering wat Hy nog moet deurmaak op hierdie lydenspad, en mense nie kan aanvaar dat Hy die ewige dood oorwin het nie, Sy beloftes kan aanvaar dat Sy vryspraak genoeg is nie, deur net te glo. Dalk huil Hy oor mense wat Hom verwerp het, “skape” wat nie deel van Sy kraal wil word nie en sodoende verlore gaan, of miskien is dit omdat ons dit geweet het en niks daaraan gedoen het nie; huil oor iemand wat honger gaan slaap, of 'n bejaarde wat eensaam wag vir kinders wat nie opdaag nie.


En dan, Jesus, die Opstanding en die Lewe, “roep met ‘n harde stem: ‘Lasarus, kom uit!” sodat almal kan hoor dat Hy wel die Gestuurde van God is. Onmiddellik gehoorsaam die oorledene. Selfs die dood kan nie Jesus se stem opponeer nie. Hy wat dood is, hóór die stem van Jesus en tree uit die graf te voorskyn. Hy was dood maar selfs die dooies luister as Jesus praat! Jesus het met God se krag die graf oorwin, die dood gedood! Uit die dood as sodanig bring Jesus redding deur die opstanding, en op die opstanding volg die lewe, die ware, ewige lewe waaroor die dood nie mag het nie. Maar die opstanding en die lewe is die erfenis alleen van dié wat in Jesus Christus glo. Ons hoef nie te wag vir die opstanding by die voleinding, om die lewe binne te gaan nie. Vir ons is die sterwe die poort tot die lewe in vreugdevolle gemeenskap met Christus.


Die dood pas nie in God se lewensplan in nie. Ja, die dood is deel van ons aardse onvolmaakte, gebroke sondaarslewe. Ons weet ook dat die “Lasarusse” wat ons begrawe, nie na vier dae opstaan nie. Maar tog is dit vir ons wat glo, anders, want die dood is 'n oorwonne realiteit. Ons sal nog baie huilend en met stukkende harte protesteer oor geliefdes wat van ons af weggeneem word, of dikwels nog met 'n opregte traan in die oog, ander se hartseer en leed deel. Maar, ons huil anders, of behoort anders te huil as die wêreld. Ons mag treur, maar nie treur soos 'n wêreld sonder hoop nie. Jesus het die dood oorwin en Hy het opgestaan, daarom sal ons ook opstaan. Al bring die aardse dood soveel hartseer, het ons vir Jesus Christus: “Hy sal al die trane van ons oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verby gegaan” (Op. 21:4).


In hierdie Lydenstyd moet ons onthou dat ons geliefd is. Ons is hier omdat God ons hier wil hê en daarom ons lewe as kosbare geskenk sien. Ons behoort daarom as verteenwoordigers van God, besin oor wat ons spesifieke en unieke doel op aarde is, waarvoor ons geroep is om Hom te dien. God nooi ons uit: “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee ...” (Deut. 30:19b-20). Om hierdie feit te bevestig dat ons regtig vir God saakmaak, het “Hy ons so liefgehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16).


“Die lewe is ‘n misterie wat geleef moet word, nie ‘n probleem wat opgelos moet word nie”

(Van Kaam).


Gebed: My Leidsman tot die lewe, in U vind ek blywende vreugde. Al kom my lewe hier op aarde tot ‘n einde, het ek vrede daarmee want daar wag die hemelse lewe saam met U vir my. Ja, ek moet ook erken ek dink soms met angs en beklemming aan die dood en ja, ek is ook hartseer wanneer dierbares deur die dood weggeneem word, maar ek weet dat wanneer ek oorstap na die eintlike lewe toe, U daar sal wees om my in U sterk arms te neem en my sal neem na my eie kamer in die hemel. Waar daar nog mense is wat ongelowig is, Here, kom hulle ongeloof te hulp. O Here, as ek ooit iets van U wil vra, maar U het meer vir my in gedagte as waarvoor ek vra, kanselleer asseblief my versoek. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page