top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS STERWE (2) – WATER VAN DIE LEWE!

(Matt. 27:45-56; Mark. 15:33-41; Luk. 23:44-49)


Joh. 19:28-29 – “Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: ‘Ek is dors.’ Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.”


Vergelyk ook Ps. 69:22 – “Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied, toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.”


Jesus het, ten spyte van Sy onbeskryflike marteling en lyding, steeds die hele gebeurtenis in Sy hand. Dit word bevestig “met die wete dat alles klaar volbring is”. Hy weet dat Sy Middelaarstaak op aarde afgehandel is. Hy wat die water van die lewe gebring het (Joh. 4:13), smag nou in Sy sterwe na water. Aan die begin van die kruisweg het Jesus geweier om ’n verdowende drank te aanvaar: “Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie” (Mark. 15:23), omdat Hy met sy volle bewussyn die lydensbeker moes drink. Maar noudat Jesus sy beker van lyding geledig het, vra Hy vogtigheid om sy droë keel nat te maak.


Die “suur wyn” was moontlik asyn wat met water gemeng is. Dit was die gebruiklike soldatedrank wat moontlik deur hulle saamgeneem is na Golgota. Die “hisoptakkie” waarna Johannes verwys, sou beswaarlik ’n spons vol vloeistof daarmee op kan lig. Daar bestaan egter meer as een soort hisopplant waarvan sommige wel ’n bruikbare stingel gelewer het. Die ander Evangelies (Matt. 27:48; Mark. 15:36) praat in dié verband van “’n stok”. Moontlik wil Johannes hier ’n verband lê met die paaslam waarvan die bloed met ’n hisoptakkie in Egipte, aan die deurkosyn gesprinkel moes word ten einde die dood van die eersteling van die huis af te weer (Eks. 12:22), en hier dus heenwys op Jesus, as die “Lam van God wat die sonde wegneem” (Joh. 1:29).


Jesus hang aan die kruis op dieselfde tyd wat die paaslammers geslag word vir die paasfees. Teen drie uur die middag het die son weer begin skyn. Alhoewel Jesus ten volle God was, was Hy ook ten volle mens, en was die lyding wat hy deurgemaak het eg en werklik. Met al die bloedverlies en die warm son wat nou weer op Hom neerbrand, is Hy eerlik oor Sy smart. Jesus soek nie simpatie nie, Hy kla oor niks nie, Hy verwyt niemand nie, Hy sê net wat Hy beleef: “Ek is dors”. Die sterk, kragtige Jesus, wat duisende kilometers gestap het, het nou so swak en broos en breekbaar soos ‘n nietige stukkie potskerf geword: “My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.” (Ps. 22:16; 1953 vertaling). ‘n verskriklike dors wat Jesus se intense lyding verder beklemtoon!


Water, vir ‘n gekruisigde, is lewe. Jesus, verlate van God, hou nog steeds vas aan hierdie belofte van lewe: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; Ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water” (Ps. 63:2). Jesus se dors, Sy smagting na water, is ‘n smagting na lewe. En ‘n smagting na lewe, is ‘n smagting na God wat strome water in die woestyn beloof, sodat ons gevrywaar word van die ewige dors van die verderf. Dit is nie net ‘n dors waarna die liggaam smag nie, maar ‘n geestelike dors na die water van die lewe: “Wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie” (Joh. 4:14). Waarna dors jy?


Jesus dors na die verlossing van elke mens! Daarom beloof Hy léwende water by Sy fontein. Hy het gely aan die kruis en dors geword sodat ons kan drink van die water van die lewe wat Hy vir ons gee. Hy was bereid om Sy lewe daarvoor te gee en nooi almal uit: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom: elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Op. 22:17). God se genade is nie goedkoop nie, dit het ‘n duur prys gekos. Die rekening is vereffen, daarom is die water wat Jesus gee, “die water van die lewe”, verniet. Ons moet dit glo, aanneem, en elke oomblik dors na Sy uitnodiging!


“Jesus kon sonder om enige bloed te stort op Sy bed gesterf het; maar sonder vergieting van Sy bloed aan die kruis, sou geen versoening plaasgevind het nie” (George Pentecost).


Gebed: Jesus, uit liefde vir my het U dié verskriklike lyding aan die kruis verduur. Hoe kan ek U ooit genoeg bedank dat U ontsettend dors gely het sodat ek nooit weer dors sal hê nie? Gee my krag om te dors vir die waarheid, krag om te dors vir geregtigheid, genade om dors te wees vir die ware lewe. Laat my met my hele wese dors na U, smag om vir ewig by U te wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page