top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD GEKRUISIG (5) – GERED!

(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)


Joh. 19:18 – “Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.”


Vergelyk ook Luk. 23:42-43 – Verder sê hy (misdadiger): ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Tweede kruiswoord).


Die veragting en verwerping van Jesus word verder gevoer. Terwyl die soldate dobbel vir Jesus se onderkleed en van die raadslede en soldate Hom laggend spot, laster een van die misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is, Hom: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk. 23:39-43).


Die tweede misdadiger aan die kruis langs Jesus, wys dat hy nie met die ongevoelige spotters saamstem nie. Hy herken moontlik dat hulle Jesus se verhouding met God verdag wil maak – “Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is” (Luk. 23:35c). Hy erken Jesus se onskuld en Sy Messiasskap, hy weet dat Jesus nie noodwendig Homself moet red as Hy die Christus is nie. Hy besef dat dit net deur Jesus is wat daar vir hom redding kan kom. Hy roep uit na Hom met sy laaste sterwensasem, dat Jesus tog aan hom moet dink wanneer Hy sy Messiaanse koningskap aanvaar.


Jesus verbreek Sy swye en gee die misdadiger die sekerheid dat hy die ewige lewe sal hê, ‘n belofte wat nie vir die verre toekoms bedoel is nie maar vir die onmiddellike hede, sonder ‘n tussentydse periode van afwagting. Hierdie misdadiger gryp letterlik met sy laaste lewensasem God se genade aan. Die misdadiger vra slegs ‘n gedagte, “dink aan my”, en hy kry ‘n paradys!!


In sy sterwensoomblikke kry hy die kans van ‘n ewigheid! Wat ‘n wonderlike voorbeeld van God se genade aan enigeen wat daarna soek! Vir enigeen wat na Hom toe kom, sluit Hy die paradys oop, uit Sy liefde en volmag as Koning van die koninkryk van God. Hierdie verlossing kan slegs deur Christus gebring word: “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Hand. 4:12).


Jesus gee vir ons sekerheid en sekuriteit – “Ek verseker jou: Vandag sal jy ... ” Jesus hang daar in die middel aan ‘n kruis, die middelpunt waar hemelse liefde en hemelse regverdigheid bymekaar kom. Selfs in Sy eie sterwensoomblikke, bly Hy enduit aan diens, vee Hy die poorte van die dood weg en vervang dit met die ewige lewe. Niemand is ooit te ver weg van God se liefde, genade en redding nie. Vir die een misdadiger was die kruis ‘n skande en twispunt, vir die ander die begin van ‘n nuwe lewe. Solank jy asemhaal is daar nog hoop. Al wat God van ons vra, is geloof in sy gekruisigde Seun. Ons kan enigiets met die houtkruis doen, behalwe om die gekruisigde Jesus te ignoreer. Die kruis dwing ons tot ‘n keuse: “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor. 1:18).


“Ons moet na Golgota gaan om te sien wat dit gekos het om ons te vergewe; en dan by die Gekruisigde bly om te leer hoe ons moet vergewe” (Charles Spurgeon).


Gebed: Dankie Jesus dat daar by U altyd vir my genadetyd beskikbaar is. Dankie dat U vir my ook die pad na die paradys oopgemaak het, maak nie saak wat ek al in my lewe verkeerd gedoen het nie of wie en wat ek is nie. Here, ontferm U net so oor my en alle gelowiges in hul uur van angs, soos vir hierdie misdadiger. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page