top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD GEKRUISIG (4) – VERGIFNIS!

(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)


Joh. 19:18 – “Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.”


Vergelyk ook Luk. 23:34 – “Toe sê Jesus: ‘Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Eerste kruiswoord)


Jesus het vir ongeveer ses ure op daardie Goeie Vrydag, wat eintlik ‘n Swart Vrydag was, aan die kruis gehang en gedurende hierdie verskriklike ses ure aan die kruis, sewe keer gepraat. Vir die godsdiensleiers van die Jode was die kruisiging van Jesus ‘n simbool van oorwinning en hulle het probeer om vir oulaas Hom te verkleineer: “Die priesterhoofde en skrifgeleerdes het spottend vir mekaar gesê: ‘Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!’ (Mark. 15:31-32).


Jesus se reaksie hierop is nie woede en verbittering nie, maar in hierdie oomblikke van diepste smart, is Sy hart vol vergifnis. Jesus demonstreer Sy opdrag aan die mensdom wat Hy tydens Sy Bergpreek gegee het: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg” (Matt.5:44). Jesus bid in Sy bittere lyding eers vir ander, nie vir Homself nie. Hy het vergifnis gepreek en nou leef Hy dit uit aan die vloekhout.


Wie is Jesus se vyande? Die maklike antwoord is hulle wat saam geskreeu het “kruisig Hom!”; die Romeinse soldate wat Hom met ‘n doringkroon verneder het en vasgespyker het aan die kruis; Pilatus, Herodus, Kajafas en die Joodse Raad wat Hom tot die dood veroordeel het; Judas en Petrus; almal wat Hom verneder het, geslaan en gespot het. Gerieflikheidshalwe word die vinger na hulle gewys, hulle is die “hulle” wat Jesus vra Sy Vader moet vergewe want “hulle” weet nie wat hulle doen nie. Jesaja profeteer egter: “Hy het die sondes van baie op Hom geneem en vir oortreders gebid” (Jes. 53:12c). Paulus sê: “Ons het almal gesondig en is ver van God af” (Rom. 3:23). Jesus vra: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie! (Luk. 23:34). So stel Hy vir ons ‘n voorbeeld van die gebed wat Hy ons geleer het: "Vader vergeef ons ons sondes, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree" (Matt. 6:12). So pleit Jesus ook vandag nog vir ons ook by Sý Vader in die hemel, en deur Sy offer het dit ook óns Vader geword (Rom. 8:34). Ons is dus deel van die “hulle”.


Die kruis op Golgota is ‘n simbool van “vergifnis”, dit is waaroor die kruis gaan. Ons het vergifnis nodig, want ons het almal gesondig en daar is ’n kloof tussen God en ons as gevolg van ons sonde wat ons nie op ons eie kan oorsteek nie. Jesus het die prys kom betaal met Sy lewe, met Sy liggaam en Sy bloed, sodat ons vry kan wees, sodat ons verhouding met God herstel kan wees: “Want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes” (Matt. 26:28).


Die regop paal van die kruis simboliseer God se vergifnis aan ons, (vertikaal van “Bo” na onder), en die dwarsbalk simboliseer ons vergifnis aan mekaar. Jesus as die middelpunt op die kruis roep uit: “Vader vergeef hulle …” en dan sê Hy eintlik aan ons in die eerste plek dat ons ‘n gesindheid van liefde en genade moet hê, met “Christusharte” moet leef: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het” (Ef. 4:32). Tweedens sê Jesus dat vergifnis vryspraak is wat ek teenoor ander moet verleen: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie” (Luk. 6:37). In die derde plek beteken vergifnis om jouself te bevry: “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredinge vergewe” (Mark. 11:25).


“Jesus se bloed by Golgota het vir altyd ‘n streep deur menslike bloedvergieting geplaas”

(Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Heilige Jesus, dankie dat U vir my gebid het lank voor my verlossing en nog steeds vir my intree by ons Vader. Dankie dat U juis intree wanneer ek so maklik deur my sonde U weer en weer aan die kruis vasspyker. U het om my ontwil uit liefde uit, U lewe as ‘n offergawe gegee by Golgota. Laat ek mense liefhê ten spyte van hul houding teenoor my. Here, ek aanvaar U uitnodiging en is só dankbaar dat as ek “my sondes bely, U getrou en regverdig is en U my sondes vergewe en my reinig van alle ongeregtigheid” (1 Joh. 1:9). Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page