top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD GEKRUISIG (2) – GOD SE DOBBELAAR!

(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)


Joh. 19:23-24 – “Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. Hulle sê toe vir mekaar: ‘Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.’ Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: ‘Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.’ Dit is wat die soldate gedoen het.”


Vergelyk ook Heb. 7:26 – “Vir ons was so ‘n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ‘n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.”


Volkome ongevoelig teenoor die ontsettende lyding wat Jesus aangedoen is, hou die soldate hulle besig met die verdeling van Sy klere. As deel van hulle vergoeding en volgens gebruik met elke kruisiging, het die soldate beslag gelê op die kruiseling se klere. Elkeen van die vier het reeds ‘n kledingstuk van Jesus geneem – Sy skoene, tulband, gordel en bokleed. Die soldate wil die onderkleed, wat “in een stuk geweef” was, nie skeur nie, want dan sou dit nutteloos vir gebruik wees. Daarom loot hulle wie dit moet ontvang. Hierdie smaad word Jesus ook nie gespaar nie, Hy word gestroop van alle menswaardigheid. Soos die sondaar naak is voor God, moet Jesus naak in die plek van die sondaar daar hang en sterf. Selfs hier besluit God hoe dinge moet gebeur; Hy laat sy besluit aankondig deur profetiese woorde, en op die regte tyd bring Hy die profesie in vervulling: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot” (Ps. 22:19).


Volgens die geskiedskrywer Josefus, was die onderkleed van die hoëpriester in een stuk geweef. Die Ou Testamentiese hoëpriester se taak was om ‘n tussenganger tussen God en die volk te wees. Hy moes op die groot Versoendag die volk se sonde voor God lê wanneer hy in die Allerheiligste van die tabernakel of tempel vir hulle sondes versoening doen. “God se Seun” word mens sodat Hy die volmaakte tussenganger tussen God en mense kan wees. Hy het nie die offers wat deur ander gebring is aan God geoffer nie, Hy het Homself geoffer. Jesus dra saam met Hom die bewys dat Hy ons skuld klaar betaal het. Ons is nie meer aangeklaagdes vir ons sondes nie, ons is kwytgeskeldes. Dit kan nie verander nie want God het dit met ‘n onveranderlike eed bevestig toe Hy Christus as ons Hoëpriester aangestel en Hy ons Borg geword het (Heb. 6:17-18).


Wat het Jesus gedink toe Hy verby Sy bebloede voete kyk na die kringetjie soldate wat besig was om te dobbel sodat hul klerekas aangevul kan word? Hulle is só naby aan die kruis, maar tog só ver van Christus af; bý die kruis maar sien en dink net oor hulself! Hulle kyk in die verkeerde rigting, weg van die ewigheid af na die huidige winsie. ‘n Ses van die dobbelsteen sou die wenner ‘n onderkleed besorg. Bokant hulle hang die Seun van God wat met Sy lewe kom dobbel het. Hy moes ‘n ses kom gooi het anders was ons almal verlore!!! Sy waagstuk was egter suksesvol, Hy het gewen sodat ons kon wen! Sy klere is uitgetrek, verdeel en voor gedobbel sodat dit ons sondes waarmee ons dobbel, kon toemaak en elke sondaar, met geregtigheid beklee!


Is ons ook nie soms maar soos die soldate wat sit en dobbel by die kruis nie? Sondae hoor ons dat Christus ons wil nuut maak maar ons hoop is gevestig dat ek die wenner van die “onderkleed” sou wees; ek wil meer hê, nie net die sandale wat duisende kilometers afgelê het, of die bokleed wat vol bloed is nie; ek ding mee; ek wil beter wees; selfsug is deel van my lewe; ek baklei om status want mense dink meer van my as ek kan spog met waar ek bly, wat ek ry en wat ek kry. Intussen is dit net tydelike geluk – só naby die kruis maar ver van Christus af! Jesus is vir ewig en Hy bied blywende geluk, ons kan dit kry sonder om te dobbel. By Hom is elkeen ‘n wenner!


Die lewe naby Christus word nie bepaal deur die regte val van die dobbelsteen nie, dit is nie die doen van die regte of verkeerde dinge nie, dit is om weg te kyk van die verkeerde, op te kyk na Hom wat vir my aan die kruis gehang het, en myself volkome in Sy bebloede hande plaas. Dit is dáár by die kruis waar ek nie net gekyk het waar Christus aan die kruis gehang het nie, maar tot by die voet van die kruis gekom het en Hom hoor sê: “Ek het dit vir jou gedoen my kind!” Ek hoef nie net tevrede wees met die sandale of bokleed nie, Jesus het Sy álles vir my gegee!


"And, sitting down, they watched Him there, the soldiers did; there, while they played at dice, He made his sacrifice, and died upon his Cross to rid God's world of sin. He was a gambler, too, my Christ. He took his life and threw it for a world redeemed”

(Studdert Kennedy).


Gebed: Here, dankie dat U my kom aantrek het met U klere wat daar by die kruis verwyder is. Dankie dat ek nie net die sandale of bokleed ontvang het nie, maar alles, skoon gewas en nuut gemaak deur U bloed wat nog daaruit gedrup het. Dankie dat U my aangetrek het met U kleed van geregtigheid en sodoende my Borg is vir die ewige lewe. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page