top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD GEKRUISIG (1) – GOLGOTA!

(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)


Joh. 19:18-22 – “Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: ‘Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.’ Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: ‘Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die koning van die Jode.’ Pilatus het vir hulle gesê: ‘Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”


Vergelyk ook Luk. 23:33 – “Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig.”


Die Prins van die hemel wat kom mens word het op aarde, se menslike kragte is op breekpunt as gevolg van al die mishandeling. Hy volg steeds die Romeinse offisier op pad na Golgota, die plek van veroordeling. Die offisier dra die plakkaat wat die redes vir die teregstelling aandui. Dit is moontlik dieselfde plakkaat wat later as opskrif bo-aan die kruis vasgesit is: “Jesus van Nasaret, die koning van die Jode”. In drie tale van die antieke wêreld van daardie tyd, Hebreeus, Latyn en Grieks, geskryf.


Hierdie tale was die tale van die drie groot nasies van die antieke wêreld. In God se skepping het elke nasie iets om die wêreld te leer; en dié drie nasies se tale het ‘n groot bydrae gelewer in die wêreldgeskiedenis. Die Grieke het die wêreld van skoonheid en denke geleer; Rome die wêreld van geregtigheid en goeie leiding; en die Hebreërs van godsdiens en die aanbidding van die ware God.


Die vergestalting van al hierdie dinge is in Jesus. In Hom was die mooiste skoonheid, die suiwerste denke, die suiwerste geregtigheid, die koninkryk van God, en selfs die beeld van God. Alles waarna die wêreld soek en streef is in Jesus te vind. Dit is dan ook simbolies dat die drie groot nasies van die antieke wêreld hom óók Koning sou noem, die ware Koning in God se Koninkryk: “Hy sal heers en Hy sal genoem word Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring” (Jes. 9:5).


Die hele wêreld kon dus verstaan wat geskrywe was en gevolglik kon die mensdom kennis neem van die boodskap van versoening wat oor die taalgrense heen gedra moet word. Ironies ook dat Pilatus weier om oor iets minderwaardig wat hy geskryf het, te verander, terwyl hy “op hulle versoek Jesus oorgelewer het om gekruisig te word.” Sonder dat hy dit besef het, was hy aandadig aan die wil van God wat nou tot uitvoering kom: Jesus sterf in Sy hoedanigheid as die Messiaanse Koning wat deur sy volk verwerp word.


Die skrywers van die Evangelies gee nie besonderhede omtrent die ontsettende marteling wat die kruiseling moes ondergaan nie. Dit was barbaars en skrikwekkend wreed. Jesus s’n was nog erger want Hy moes betaal om ons met God te versoen. ‘n Romeinse filosoof, Seneka, het gesê dat as jy tot ’n kruisdood veroordeel is, dit beter is om te probeer selfmoord pleeg as jy enigsins kon. Volgens hom was dit die wreedste dood wat iemand kon sterf. Dit is ’n lyding wat nie maklik onder woorde gebring kan word nie. Deur geen besonderhede te verstrek nie, wil die Evangelieskrywers liewer ’n sluier oor die afskuwelike marteling trek. Hoofsaak is dat sondige mense hierdie gruwel aan die sondelose “Seun van die mens” gedoen het, en dat Hy dit vrywillig aanvaar het om versoening te doen vir die sonde.


Hy word saam met “twee ander” gekruisig. Hulle word hier nie misdadigers genoem nie, maar die straf wat hulle opgelê is, dui daarop dat hulle geen geringe wetsoortreding begaan het nie. Deurdat Jesus in die middel tussen die twee hang, word Hy met hulle gelykgestel asof Hy ’n ewe groot misdadiger is: “Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is” (Jes. 53:12b). Hy het nie gekies om tussen twee kerse in ‘n kerk gekruisig te word nie, maar tussen twee misdadigers, want dit is vir wie Hy kom sterf het, sondaars soos ek en jy!


“Die Naam van Jesus Christus is geskryf aan die bopunt van elke bladsy van die moderne geskiedenis” (George Bancroft).


Gebed: Jesus, U het die essensie van ware liefde vir my uitgestraal terwyl U daar aan die kruis, bloeiend en vol pyn, vir my sondes moes hang. U kon skares engele beveel om U te kom red, maar U het eerder gekies om my skuld ten volle te betaal, om mý hartseer, pyn en lyding om te keer in dawerende vreugde. Dankie my Koning, dat U alle aardse waardes kom omkeer het in ‘n lewegewende koninkryk. Laat U koninkryk kom en my koninkryk gaan. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page