top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD GEKRUISIG (2) – DIE VIA DOLOROSA! (1)

(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)


Joh. 19:17 – “Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota.”


Vergelyk ook Luk. 23:27-28 en 30 – “’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het.” Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: ‘Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders ..., want daar kom dae waarin hulle sal sê: Berge val op ons, heuwels bedek ons!”


Jesus se belaglike verhoor is verby. Omring deur “’n groot menigte” sensasiebeluste skare, word Hy weggelei na Golgota. Gebroke, uitgeput, verwond en bebloed, ontsettend eensaam, nêrens is een van Sy dissipels te hoor of te sien nie. Ten spyte van al hierdie wreedheid was Sy skouers daardie “Verskriklike Vrydag” breed genoeg om al ons oortredinge saam met Hom Golgota toe te dra.


Soos ‘n begrafnisstoet beweeg almal na Kopbeenplek toe, buite die stadsmure. Die verskil tussen hierdie begrafnisstoet en ‘n stoet wat ons ken, is die persoon in ons stoet reeds dood terwyl Jesus nog na Sy dood gelei word. Heel voor stap ‘n Romeinse offisier met ‘n kennisgewing om die redes vir die teregstelling aan te dui. Dit was die gebruik om moontlike toekomstige oortreders te waarsku en af te skrik. Agter hom begelei vier Romeinse soldate vir Jesus en twee misdadigers, wat saam met Hom gekruisig gaan word. Vir die soldate was dit maar net nog ‘n gewone werksdag. Teregstellings van hierdie aard was deel van hulle werksroetine – die kruisigingsdood vir die keiser se vyande was die norm. Die feit dat Jesus, die Lydende Regverdige is wat onskuldig gaan sterf, maak vir hulle nie saak nie. Al wat hulle moontlik in gedagte gehad het, was om hierdie kruisiging so gou as moontlik afgehandel te kry.


‘n Deel van die stoet was “vroue wat oor Hom getreur en gehuil het.” Te midde van al die spot, haat en ongevoeligheid van die skare, was daar darem ‘n paar vroue wat meegevoel met Jesus gehad het. Of was hulle dalk daar as deel van die Joodse tradisie, vroue wat normaalweg, by die dood van geliefdes gehuil het en nie regtig getreur het nie? Vir ’n oomblik het Jesus van Sy eie pyn en lyding vergeet en omgedraai na die huilende groepie vroue en gesê: “Moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders ... ”. ‘n Mens sou dink dat Jesus hulle sou bedank vir hulle simpatie maar Sy ferm optrede is onbegryplik? Dit is menslik om te dink dat Jesus hulle simpatie sou waardeer, maar dan uiter Hy hierdie, amper aanvallende woorde. Waarom?


Te midde van Sy swaar las, pyn en bespotting, wéét Jesus dat Sy lydensweg nie by Golgota gaan eindig nie, wéét Hy dat dit nie ‘n doodloopstraat is nie! Hierdie reis op die lydensweg deur die “donker tonnel” was maar net ‘n tydelike deurgang na die ewige lig toe, die lig van Sy verheerlikte opstanding en oorwinning oor die dood. Jesus weet waarheen Hy op pad is, maar weet hulle wat hul eindbestemming is? Wanneer Jesus die groepie huilende vroue agter Hom aanspreek, rig Hy eintlik Sy waarskuwing aan die hele volk, aan die wêreld en al hulle nageslagte wat nog uit hulle gebore sal word, Hulle was ‘n rukkie gelede moontlik nog deel van die “die hele volk wat geskreeu het: Kruisig hom! Ons aanvaar die verantwoordelikheid vir sy bloed, ons en ons kinders!” (Luk. 27:25). Jesus verwag nie simpatie nie, Hy verwag dat mense die Waarheid moet erken, Hy verwag geloof in Hom, berou en bekering.


‘n Rukkie gelede was hulle moontlik nog deel van dié wat Jesus misken het, deel van “Sy eie mense en die wêreld wat Hom nie erken en aangeneem het nie” (Joh. 1:11), deel van dié wat Hom verwerp het. Dáárom behoort Jesus eintlik vir hulle te sê: “Huil, vroue van Jerusalem, julle het die dood bo die Lewe gekies. Wanneer God se oordeel oor almal val wat My nie aangeneem het nie, sal hulle sê: ‘Berge val op ons, heuwels bedek ons!’ ‘Maar aan almal wat My aangeneem het, dié wat in My glo, het Ek die reg gegee om kinders van God te word’ (Joh. 1:12). Ek verseker julle, vroue van Jerusalem en almal wat wil luister: ‘Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan’ (Joh. 5:24).


“God se Kind het mens geword sodat mense God se kinders kon word” (Martin Luther).


Gebed: Jesus, ek huil saam met die vroue van Jerusalem, nie oor U keuse om te sterf nie, maar oor myself, want in U lyding sien ek wat ek eintlik verdien en wie ek werklik is. Here, my trane oor U lyding is die gevolg van my berou oor my sonde wat U soveel pyn gekos het. Dankie dat U my hartseer oor my sonde verander het in die heerlike vreugde van U ontsettende ontferming. Nou kan ek jubel: Daar is ‘n dierbare kruis, waar my Heiland bewys die liefde wat Hy vir my het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page