top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Golgota – Kopbeenplek (kopbeen regs op foto)

JESUS WORD GEKRUISIG (1) – NEEM SY KRUIS OP!

(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)


Joh. 19:16-17 – “Toe het Pilatus Jesus op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem. Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota.”


Vergelyk ook Matt.27:35 – Nadat die soldate Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.”


Die afgelope ongeveer vyftien uur was die paasfees vir Jesus beslis nié ‘n fees nie. Dit is feitlik ongelooflik om te glo dat daar só baie gebeur het sedert Hy saam met Sy dissipels in die Bovertrek die paasmaaltyd genuttig het. Selfs die maaltyd was waarskynlik vir Jesus gespanne – Hy het geweet daar wag ontsettende lyding; dat een van Sy vriende Hom gaan verraai; Sy uitmergelende worsteling in Getsemane; Sy inhegtenisname; dissipels wat weghardloop; Petrus se verloëning; die foltering om vals beskuldig te word vir godslastering voor die Joodse Raad deur die “godsdienstiges” van daardie tyd; die eensaamheid in ‘n koue sel; die “verhoor” voor 'n onregverdige en ruggraatlose regter; ‘n bloedlustige skare mense se herhaalde geskreeu: "Kruisig Hom, kruisig Hom!; ‘n spotters-doringkroon wat pynigend Sy kop deurboor; die verskriklike grusame géseling; en uiteindelik, wil mens amper sug: “het Pilatus Jesus op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word” – “IBIS AD CRUCEM": JY SAL GEKRUISIG WORD!


Dit was die gebruik dat die veroordeelde sy eie kruis of soms die dwarsbalk daarvan self moes dra. Ook hierdie smaad en lyding word Jesus nie gespaar nie. Met sy stukkende gegéselde liggaam het Hy die kruis “vir Homself” gedra, wat dit bevestig dat Jesus alleen, sonder menslike hulp, die volle beker van lyding vir die sonde ledig.


Jesus was geen passiewe slagoffer van hierdie verskriklike gebeurtenis nie. Hy het Sy kruis opgeneem en struikelend onder hierdie stuk vloekhout, die Via Dolorosa (Weg van Smart) begin loop. Hy het die “Weg van Smart” met moeite maar tog liefdevol aangepak omdat Hy geglo het dit was God se wil vir Hom. “Hy was verag en nie deur die mense gereken nie. Hy was deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai” (Jes. 53:3). Die géselwonde het verder oopgeskeur, die doringkroon dieper in Sy kop ingeboor. ‘n Bloedspoor volg Hom en Sy kragte word tot op die uiterste toe beproef. Waarom? Waarom die kruis? Waarom Golgota?


Daar was ‘n kruis en ‘n Golgota omdat God se liefde vir ons dit vereis het! Iemand moes betaal vir die sonde van die mens, van ons, ek en jy! “Die loon wat die sonde gee is die dood”, sê Paulus (Rom. 6:23a). En God is ‘n God van liefde maar terselfdertyd ook ‘n God wat regverdig is. Hy kon nie toelaat dat Sy skepsels, Sy verteenwoordigers op aarde, Sy beeld, verlore gaan nie. Daarom moes iemand betaal vir ons sondes want ons kan dit nie self doen nie. In Sy groot liefde het God sy Seun geoffer. Jesus moes as Prins van die hemel, die vodde van die mens op aarde kom aanneem en deur Sy lyding en sterwe, was dit die “genadegawe wat God gee, sodat ons die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” kan hê (Rom 6:23b). God het met Sy keuse om Jesus te laat ly en te kruisig bewys dat “Hy die Seun van God is!”


Hoe antwoord ons op hierdie liefdesdaad van God en Jesus? Die kringloop van die Almagtige word voltooi wanneer ons deur God se genade, Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker. God se genade is ryk. Deur Christus se bloed is ons verlos en vergewe “kragtens die ryke genade van God” (Ef. 1:7). God het ons uitgekies nie “omdat” nie, maar “ten spyte van” wie ons is. As “kunswerk” van God behoort ons dan, nee, móét ons dan, onberispelik lewe sodat ons God kan verheerlik en Sy grootheid prys (Ef. 1:14).


“Dit is maklik om die kruis op Jesus se skouers te sien; ‘n bietjie moeiliker wanneer dit ons naaste se kruis is; beslis die moeilikste wanneer dit ons eie kruis is” (Mieczyslaw Malinski).


Gebed: Liewe Jesus, ek kan U nooit genoeg bedank dat U die kruis gekies het nie want nou kan ek lewe – omdat U die kruis opgeneem het, kan ek nou die lewe in al sy volheid opneem. Omdat U die “Weg van Smart” na Golgota moes loop om te gaan sterf, word ek uitgelei na die ewige lewe. Omdat U my sonde gedra het, kan ek volmaakte vergifnis geniet! Hoe groot is U liefde nie vir my nie, o Jesus, my opgestane Verlosser! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page