top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS VOOR PILATUS (3) – WAT IS WAARHEID?

(Matt. 27:2, 11-21; Mark. 15:1-11; Luk. 23:1-5, 13-19)


Joh. 18:37-38 – “Dan is jy tog wel ‘n koning?’ vra Pilatus. ‘Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,’ antwoord Jesus. Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.’ ‘Wat is waarheid?’ sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: ‘Ek vind geen skuld in hom nie.”


Vergelyk ook Joh. 8:44 – “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.”


Pilatus begryp dat Jesus nie ’n opstandige is wat op wêreldse mag aanspraak maak nie, maar tog is die saak nie vir hom duidelik nie. Daarom stel hy die vraag of Jesus dan tog “’n koning” is. Jesus bevestig dat Hy “’n koning” is, maar voeg by dat sy koningskap tot openbaring kom deurdat Hy “oor die waarheid getuienis aflê”. Dit gaan nie om ’n staatkundige koninkryk nie maar oor een wat met “die waarheid” te doen het en dus geestelik van aard is. Die doel van Sy koms was om van die waarheid te getuig. Die wêreld wat onderwerp is aan die owerste van die wêreld, die vors van die leuen, moes die waarheid aangaande sy eie verlorenheid en aangaande die heilsplan van God hoor.


Pilatus wat nou te doen het met ’n verhoor waarin die leuen hoogty vier, moet dit ook hoor dat die woorde van Jesus die waarheid is. Maar Jesus voeg by dat elkeen “wat aan die waarheid behoort”, of “wie ’n kind van God is” (Joh. 8:47), luister na wat Jesus sê. Pilatus, wat nie hierdie hoedanigheid besit nie, moet uit die woorde van Jesus verstaan dat dit hier gaan om dinge wat buite sy bereik lê. Hy besit nie die geestelike vernuwing wat die hart open vir die waarheid van die koninkryk van God en van die koningskap van Jesus nie. Hy is ’n heiden wat nie glo dat êrens waarheid bestaan nie en trouens onverskillig staan oor die vraag wat waarheid is. Hy, wat juis as regter daarop gesteld behoort te wees om die waarheid te wete te kom en te eerbiedig, gee te kenne dat hy geen duit omgee vir die waarheid nie.


Pilatus wag nie op ’n antwoord nie en Jesus gee ook nie ’n uitgesproke antwoord op Pilatus se vraag “Wat is waarheid?” nie. Die waarheid is nie “wat” nie, dit is ‘n Persoon: Jesus Christus, Hy ís Waarheid! (Joh. 14:6). Maar die verdere verloop van die gebeurtenisse, die voortsetting van die verhoor, die kruisiging en opstanding, alles wat volg, is ’n openbaring van die waarheid. En dit geskied in die volle openbaar sodat heiden en Jood, die hele wêreld, kennis moet neem van Jesus se daad van getuienis: “Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, het Christus Jesus teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê van die goeie belydenis” (1 Tim. 6:13).


Elke mens het seker al die vraag gevra, “Wat is waarheid?” Dit is jammer Pilatus het nie gewag vir ‘n antwoord nie want dan het hy die Waarheid werklik ontdek! Die ironie is dat op die presiese oomblik wat hy die vraag gevra het, sy oë seker op die suiwerste verpersoonliking van die waarheid gerus het. Hy was só naby aan die God van waarheid, tog kon hy nie die waarheid verstaan of aangryp nie! Deur ons hele lewe heen wil die Heilige Gees ons al dieper onderrig in die waarhede van God, want as Christen kan ons met eerlikheid nie beweer dat ons kennis van die volle waarheid besit nie. Daarom is dit nodig dat ons ons moet oopstel vir die vernuwing wat die Heilige Gees ons wil skenk.


Een van die take van die Heilige Gees is om ons te lei tot kennis van ons sonde, tot berou, en waar om verlossing en heiligmaking te vind. “Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê” het Jesus vir Pilatus gesê en tot vandag toe nog lei Sy Gees ons steeds tot toenemende begrip van God se Woord en dan natuurlik, ons gehoorsaamheid daaraan. Deur Sy Woord en Gees lei God ons tot by die soenverdienste van sy Seun, Jesus Christus ons Verlosser, sodat ons Hom intiem kan leer ken as ons Saligmaker. Ons moet egter die Gees toelaat dat ons in daardie dieper ervaring en kennis van ons Verlosser en Heiland, gelei kan word! Dit bring ons by die Waarheid uit, nie ‘n “wat” nie, maar die Lewende Werklikheid, Jesus Christus ons Here!


“Die dinge wat in die Bybel staan, is nie waar omdat hulle in die Bybel staan nie. Hulle staan in die Bybel omdat hulle waar is” (Thomas Aquinas).


Gebed: Here Jesus, hou my naby U deur U Gees sodat ek die Waarheid sal ken en liefhê. Verhelder my verstand en hou aan om my hart te vernuwe sodat ek nie die pad van geestelike groei verlaat nie. Dankie dat U Woord die Waarheid is, dat Uself die Waarheid is en dat U Gees my in die Waarheid lei sodat ek kan onderskei tussen waarheid en leuen. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page