top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Jesus word gespot, geklap, en gespoeg

ANNAS EN KAJAFAS VERHOOR JESUS (2) – SELFBEHEERSING!

(Matt. 26:59-66; 27:1; Mark. 14:55-64; 15:1; Luk. 22:66-71)


Joh. 18:22-24 – “Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, Hom geklap en gesê: ‘Antwoord jy die hoëpriester so?’ Jesus sê toe vir hom:’As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?’ Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.”


Een van die geregsdienaars, ’n man van geen besondere status of gesag nie en wat maar net daar staan, meen dat hy die eer van die hoëpriester moet beskerm. Hy doen dit op ’n drastiese manier deur Jesus ’n klap in die gesig te gee. Die belediging van so ’n klap veroorsaak dieper leed as die liggaamlike pyn. Deur dié optrede word Jesus egter nie ontwrig nie. Hy bly in volle beheer van die situasie en vra die man rekenskap van sy optrede.


Jesus steek niks weg nie. Sy boodskap is vir die mensewêreld bedoel om te hoor. As ‘n mens egter nie die boodskap van Jesus wil hoor nie, sal dit vir jou geslote bly en reageer jy soos die wag wat Jesus geklap het. Niks wat Jesus sê is verkeerd of vals nie, dit hang af hoe mens daarna luister of nie wil luister nie.


Annas het Jesus ondervra “oor Sy leer” (18:19b), maar wou tog nie luister na Sy boodskap nie. Hy laat die geleentheid verbygaan om die boodskap van God by Sy Boodskapper te hoor en stuur Hom weg. Deur Jesus geboei na Kajafas te stuur, het Annas, Jesus nie net as misdadiger behandel nie, maar ook te kenne gegee dat Hy skuldig is. Daardeur het hy die smaad verhoog wat Jesus aangedoen is.


Ons wil vandag amper uitskreeu en vra wat het van reg en geregtigheid geword? Tydens hierdie onregverdige, lamlendige verhoor van Jesus, is geen bewyse gevind dat Jesus Hom skuldig gemaak het aan enige misdryf nie. Jesus was veroordeel voor Hy verhoor was. Hy het geen kans of hoop gehad op geregtigheid nie. Lukas beskryf hoe Sy bewakers Jesus bespot het, geblinddoek het en Hom geslaan het. Jesus moes dan as “profeet” raai wie Hom geslaan het (Luk. 22:63-65). Jesus bly egter standvastig want Hy weet dat Hy die wil en plan van God uitvoer. Jesus se voorbeeld onder die uiterste provokasie is ‘n aanmoediging vir elke gelowige wat in dergelike omstandighede kan beland. Ons kan dus ons geloofsoortuiging uitleef en wéét: Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe (Joh. 14:6).


“Daar is min dinge wat die Christendom so diskrediteer as Christene wat vroom praat oor die wêreld daar Bo, terwyl hulle aanhou om presies te leef soos die wêreld hier onder”

(WW Griffen).


Gebed: Dankie Jesus dat U sóveel ontbeer het omdat U my liefhet. Help my om nie te kla oor my ongerief en skenk my die vrug van selfbeheersing soos wat U tentoongestel het tydens U aardse verblyf. Dankie vir U voorbeeld van stilswye onder uiterste provokasie, daarom pleit ek dat U my daarvan bewaar dat mý behoeftes vir my ‘n groter werklikheid word as U heilige teenwoordigheid. Help my om my lojaliteit aan U nie in eie krag te soek nie, maar in die krag wat die Gees my skenk. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page