top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Ds. Johan Brink, kaalvoet op, volgens oorlewering, die trappe wat Jesus moes klim na Kajafas se huis

PETRUS VERLOËN JESUS DIE EERSTE KEER – WARM BUITE MAAR YSKOUD BINNE!

(Matt.26:69-70; Mark. 14:66-68; Luk. 22:55-57)


Joh. 18:15-18 – “Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: ‘Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?’ ‘Nee, ek is nie!’ antwoord hy. Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.


Vergelyk ook Luk. 22:55-57 – “In die middel van die binneplaas was daar ‘n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. ‘n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: ‘Dié een was ook saam met daardie man.’ Maar Petrus het dit ontken deur te sê: ‘Juffrou, ek ken Hom nie!”


“Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan.” Die ander dissipel het die hoëpriester geken en kon dus in die binneplein van die hoëpriester se huis ingaan en het ook gereël dat Petrus kon ingaan. Petrus se lojaliteit teenoor Jesus dwing hom om nie te vlug soos die ander dissipels nie, maar om Jesus te volg na die huis van die hoëpriester. ’n Diensmeisie, en dus iemand met geen besondere aansien of gesag nie, stel ’n vraag na sy identiteit. Sy weet dat Johannes ’n volgeling van Jesus is, en dat daar ander volgelinge is, en nou vra sy of Petrus ook een van hulle is. Die vraag word so gestel dat “Nee” as antwoord verwag word. Petrus sien daarin die geleentheid om te ontken dat hy ’n volgeling van Jesus is. Op die oomblik het dit na ’n onskuldige antwoord gelyk, maar dit was woorde van ontrou teenoor Jesus. Petrus het sy voet op ’n weg geplaas wat tot sy val sou lei. In teenstelling met Jesus se fiere antwoord: “Ek is” (v. 5) staan die swakkelingswoord van Petrus: “Ek is nie!”


Petrus, die man van die daad, het ‘n kort rukkie vantevore sy swaard gebruik om man alleen, ‘n hele afdeling soldate te trotseer om Jesus te beskerm, kan nou nie standpunt inneem nie en voor ‘n onbelangrike diensmeisie, wie se status baie laag is, ontken dat hy Jesus ken! Daar by die vuur in die binneplein waar “Petrus hom ook gestaan en warm maak het”, was Petrus se lyf warm maar sy binneste yskoud! Hy het Jesus gefaal, maar gefaal in ‘n situasie waar die ander dissipels nie bereid was om die situasie te trotseer nie. Hy het gefaal maar in omstandighede waar sy liefde vir Jesus steeds moedig bewys is. Dit kon nie maklik vir Petrus gewees het nie! Wie van ons sou ook eerder daardie aand “onsigbaar of onbekend” wou gewees het nie? Dit is wanneer Koos du Plessis se liedjie sin maak – “As niemand van jou hoor nie; as niemand van jou weet nie, kan jy tog niks verloor nie - kan niemand jou vergeet nie.”


Jesus se vriende, Sy getroue dissipels, het Hom verlaat. Nie een het oorgebly nie, net “Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan.” Daar was geen uitnodiging nie ... geen wonderwerk nie ... geen oogkontak nie ... geen groepsdruk nie ... niks nie! Net hierdie geboeide Man wat soos ’n skaap ter slagting gelei word! En hierdie prentjie gryp jou by die hart ... jy wil, néé, jy móét Hom volg, al is jy bang om te erken jy ken Hom, of naamloos wil bly. Iets dring jou om hierdie Man van Nasaret te volg! Baie naamlose gevare het al voornemende dissipels van Jesus bang gemaak en verdryf, naamlose gevare wat satan gebruik om in hierdie bose en korrupte wêreld ons uit die Here Jesus se hande te wil gryp, sodat ons bang en moedeloos sal word en ophou om Jesus te volg!


Dit moet ons laat nadink oor hoeveel keer ons ook impulsiewe navolgers van Jesus was, net om by die eerste groot bedreiging te skaam is om te erken ons ken Jesus of selfs soos die ander dissipels, rieme neer te lê. Ons is nie werklik naamloos soos die “ander dissipel wat agter Jesus aangegaan” het nie! Ons mag dalk so dink, maar God weet wie ons is! Ons moet onthou dat Jesus aan die kruis op die ou end nakend vir ons gehang het ... ons skaamte het Sy skaamte geword ... ons angs, Sy angs ... ons skuld, Sy pyn en vernedering! Jesus het Homself nie aan ‘n kruis laat oplig tot vertoon van die wêreld, vir almal om te sien, herkenbaar, by die Naam genoem in drie tale as die Koning, sodat ons as dissipels salig anoniem kan bly, nie!


God wil nie hê dat ons anoniem moet bly of ontken dat ons Jesus ken nie! Hy wil hê ons moet uitkom en Hom volg, ongeag van wat ook al die naamlose gevare vir ons inhou. Hy wil hê dat ons sy Naam op ons lippe sal neem en nie meer skaamteloos Hom ontken nie. Hy wil hê dat ons bekend sal wees as sy volgelinge ... ’n volgeling met ’n naam. Ons Christengelowiges is deel van diegene wat saam met Jesus op die triomftog loop en erken dat ons Hom ken – “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is” (Matt. 10:32-33).


“A tremendous thing about Jesus is that beneath all our failures he sees the real man. He understands. He loves us in spite of what we do, not for what we are, but what we have it in us to be. The forgiving love of Jesus is so great that he sees our real personality, not in our faithfulness, but in our loyalty, not in our defeat by sin, but in our teaching after goodness, even when we are defeated” (William Barclay).


Gebed: Vader van ons Here Jesus Christus, dankie dat U my Vader ook is. Skenk aan my die wysheid om U werklik te ken. Verhelder my geestesoë sodat ek kan weet watter hoop U roeping inhou en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat U vir my as gelowige bestem het. Ek wil U Naam op my lippe neem en nie skaamteloos U ontken nie. Ek wil bekend wees as U volgeling ... ’n volgeling met ’n naam. Ek wil as Christengelowige deel wees van diegene wat saam met Jesus op die triomftog loop en erken dat ek Hom ken. Help my Gees van God, want alleen kan ek dit nie doen nie. Mag U Naam geëer en geheilig word en mag U wil geskied, hier op aarde sowel as in die hemel. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page