top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS BID VIR SY DISSIPELS (7) – BEDE VIR VERHEERLIKING VAN DIE KERK!


Joh. 17:24-26 – “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle My heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het. Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. Ek het U Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”


Vergelyk ook 2 Tim. 2:11-12 – “Dit is ‘n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.”


Jesus sluit Sy gebed af met ‘n versugting by ons Vader dat alle Christen-gelowiges by Hom sal aansluit waar Hy vir ons gaan plek berei het in die hemel (Joh. 14:2). Almal wat “God aan Jesus gegee het”, sal deel in die uitverkiesing en besit die waarborg van ewige bewaring. Daar in die hemel sal ons ook sien hoe belangrik Jesus werklik is en God se werklike liefde vir Jesus ook waarneem! God se liefde het Jesus wel na hierdie wêreld laat kom (Joh. 3:16), maar God se liefde het Hom ook die hemelse heerlikheid gegee. Dit beteken dat ons nou reeds, ten spyte van lyding, wéét dat Jesus by ons is deur Sy Gees, Sy heerlikheid beleef en daardeur gesterk word. Daardie heerlikheid is nie van tydelike aard, maar ewig.


Omdat Jesus God ken, het Hy vir God aan hierdie wêreld kom bekend maak want die wêreld het nie vir God geken nie (Joh. 1:18). Jesus was en is ook die Enigste wat dit kon doen, want Hy was in die hemel by God en is self God (Joh. 1:1). Hierdie werk van Jesus het skeiding onder die mense gebring. Die sondige wêreld het geweier om Hom te erken en het daarom nie tot die kennis van God gekom nie en daardeur God en Sy openbaring verwerp het. Daarteenoor was daar dié wat hulle gelowig by Jesus gevoeg het, “hulle hier”, wat gehoor gegee het aan Sy prediking, tot kennis gekom en weet dat Jesus nie maar ’n gewone mens is nie maar die besondere Gestuurde van die Vader, die Messias en Verlosser. Daarom kon Jesus nou hom beroep op God as “Regverdige Vader”, om toe te tree met Sy oordeel om na verdienste te straf of in genade vry te spreek.


Intussen sal Sy volgelinge wat die bekendmaking van God aanvaar het, en glo dat Jesus van God af kom, voortgaan om die Vader bekend te maak. Jesus se wonderlike gebed is verhoor en ons kan vandag uit hierdie gebed leef. Die roepstem van Jesus hoor ons egter nog steeds deur die eeue roep. Net soos Sy eertydse dissipels ‘n bomenslike taak gehad het om te vervul, so is daar vandag nog in die koninkryk van God baie werk om gedoen te word.


Die lewende Jesus Christus roep steeds deur Sy Gees mense om “God se Naam bekend te maak”. Hy nooi ons steeds uit om ons lewe aan Hom toe te wy sodat Hy ons kan gebruik om te keer dat die Bose die Here se werk ondermyn. Die Heilige Gees lei ons elke dag waar ons Hom die meeste nodig het. Die satan sal juis dan hárder probeer om ons van God af weg te lei en daarom is dit elke Christen-gelowige se dringendste behoefte om by ons Vader te pleit om ons opnuut te vul met Sy Gees.


Een van ons grootste bates is dat die lewende Christus vir elke gelowige ‘n onuitputlike bron van inspirasie is. Ons kan elke dag uit die Fontein van lewende water ons dors kom les. Die Heilige Gees kan enige mens gebruik om “God se Naam bekend te maak”, maar Hy gaan woon net in die hart van dié wat opreg glo in Jesus Christus en wat vir hulle verlossing op Sy offerande alleen vertrou – “Dan sal die Gees van die Here kragtig in jou werk. Jy sal as profeet optree en ‘n ander mens word” (1 Sam. 10:6). Jesus het ons nodig om Sy liefde te weerspieël en om só te leef dat die wêreld Sy voorbeeld in ons kan sien. Dit is ons plig en voorreg om deur die Gees, ander na Christus te lei in die magtige Naam van God ons Vader.


“Niemand gee homself vrylik en gewillig in God se diens nie, tensy hy die Vader se liefde gesmaak het en hy nie anders kan nie as om God te dien” (Johannes Calvyn).


Gebed: Dankie Jesus Christus vir die inspirasie wat U aan my skenk en my lei om U lief te hê en te dien. Gebruik my net soos U wil sodat ek in U Naam en krag getrou sal wees en, ten spyte van my onvermoë, vir ander die pad na U toe te wys en God se geregtigheid aan te dui. Werk in my hart o Gees, om Jesus se blymoedige getuie te wees. Ek loof U Naam ons Vader, vir hierdie voorreg. Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page