top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS BID VIR SY DISSIPELS (4) – DIE WOORD VAN LEWE!


Joh. 17:12-14 – “Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in U Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word. Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle My blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. Ek het U woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie.”


Tydens Sy gesprek met Sy Vader, verwys Jesus terug na Sy hele aardse bediening. In daardie tyd was Hy altyd teenwoordig by Sy volgelinge en het Hy hulle “in God se Naam” van afdwaling bewaar. Jesus het hulle telkens teen aanvalle van teenstanders en versoeking beskerm deur self in die bresse te tree. Gevolglik het nie een van hulle verlore gegaan nie, behalwe “die een wat verlore moet gaan”, verwysende na Judas. Omdat God Judas gebruik het om Sy heilige oogmerk ten uitvoering van Sy raadsplan te bereik, het God dit so bepaal dat Judas sou verlore gaan en was dit buite die opdrag van Jesus om Judas te bewaar of te beskerm.


Terwyl Jesus nog “in die wêreld” is en dus nog nie terug in die hemel nie, wil Hy aan Sy volgelinge oorvloedige blydskap gee, ‘n blydskap wat ’n saak van die hart is, onaangetas deur uiterlike omstandighede. Hierdie blydskap sal “in al sy volheid” aan hulle gegee word – “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees” (Joh. 15:11). Wanneer Jesus Sy blydskap aan ons gee, beteken dit ‘n vrede wat Hy skenk waaraan niks sal kortkom nie – “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh. 10:10).


Christus gee vir ons 'n oorvloedige blydskap en ons sal dit ondervind, al word ons blootgestel aan die haat van die vyandige wêreld. Hierdie teenstelling vind sy oorsprong in die feit dat Jesus aan Sy volgelinge die Woord van God gegee het en ‘n eenheid tussen God en gelowige gevorm het. Dit is nie ‘n eenheid waarin die gelowiges nou skielik self klein godjies word nie, nee, ons word kinders van God wat as God se gesin saam leef. Jesus het die prediking gebring waardeur ons lewe vernuwe is. Deur die Woord is ons lewe verander of is ons “opnuut gebore” en daarom hoort ons nie meer “tot die wêreld” nie, maar tot Jesus. En dit is die gevolglike rede waarom die wêreld ons Christene as opponente en vyande beskou.


Christenskap is egter méér as net ‘n godsdiens. Wanneer ons glo in die Woord van God en glo dat Christus deur die Gees, deel van ons is, beteken dit, dit verg ‘n hoë mate van toewyding. Ná die reinigende proses van bekering moet aanpassings gemaak word. Dit is belangrik om tydens ons pelgrimstog, die dissiplines van Christenskap te leef, leerstellinge en geloofsbelydenisse na te volg, maar die hoofsaak is om jou te onderwerp aan die lewegewende krag van die Heilige Gees: “As iemand My liefhet, sal hy My woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon” (Joh. 14:23).


Dit is hartseer dat daar mense is wat die kerk beskuldig dat dit “dood” of “sterwend” is en elkeen koppel ‘n legio redes daarvoor aan. Diesulkes vergeet dat hulle self die kerk is! Dit is onmoontlik om sulke desperate uitlatings te maak as hulle toelaat dat “Jesus se blydskap in al sy volheid in hulle kan hê.” Hy is die Kragbron van die wêreld, van elkeen wat hunker na liefde, genade, en hoop. Hierdie uiters kosbare gawes is tot almal se beskikking, dit is egter elkeen se eie verantwoordelikheid of hy hom daaraan wil onderwerp of nie. Al wat Jesus vra is om ons lewe onvoorwaardelik aan Hom te wy, Hom in te nooi sodat Sy “blydskap in al sy volheid in ons kan hê", en die Heilige Gees dan toe te laat om beheer oor ons te neem.


“Die kerk van Jesus Christus is nie ‘n instelling nie; dit is ‘n nuwe lewe met Christus en in Christus, gelei deur die Heilige Gees” (Sergius Bulgakov).


Gebed: Dankie Here vir “U woord wat U aan ons gegee het.” Ek wil my lewe opnuut aan U gee, Here Jesus. Ek wil ‘n instrument in U hand wees, al beteken dit die wêreld sal my haat. Al wat egter saak maak, is om “U blydskap in al sy volheid in my te kan hê” sodat U deur my, die krag van God aan mense rondom my, kan vrystel. Help my, Gees van God, om nie van U pad af te wyk nie, want alleen kan ek dit nie doen nie. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page