top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JULLE DROEFHEID SAL IN BLYDSKAP VERANDER (2) – GEBEDSBESTAAN!


Joh. 16:21-24 – “’n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar ‘n mens in die wêreld gekom het. Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie. Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie. Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”


Vergelyk ook Jes. 13:8 – “Hulle sal skrikbevange raak, krampe en pyne sal hulle oorval; soos ‘n vrou wat ‘n kind in die wêreld bring, sal hulle inmekaarkrimp. Hulle sal mekaar beangs aankyk, wit van die skrik.”


Die feit dat Jesus weggaan en kort daarna weer terugkeer, wys dat dit net tydelik sal wees en wanneer Hy terugkeer, sal dit verander, Hy sal nie meer in dieselfde fisieke wyse ‘n mens wees nie. Om dit toe te lig, gebruik Jesus die beeld van ’n vrou wat ’n kindjie in die wêreld bring. Sy ondervind swaar lyding, maar die oorsaak van haar lyding word weldra verander wanneer die kindjie gebore word en die oorsaak van die lyding verander in vreugde en blydskap. Daar het immers ’n nuwe lewe in die wêreld gekom.


So sal dit ook met die dissipels gaan. Hulle sal in die uiterste droefheid en verslaenheid verkeer, maar dit sal verander in groot blydskap. Ná die kort rukkie van skeiding sal Jesus “hulle weer sien”. Die inisiatief lê by Hom; Jesus sal kom en Hom sigbaar aan hulle vertoon. Dan sal hulle “harte” vol blydskap wees, die hart wat die innerlike oorsprong is van al die lewensuitinge: die denke, die gevoel en die wil – wanneer die hart vol is loop die mond daarvan oor – wanneer die hart vol blydskap is, is die hele lewe daarvan vol. Hierdie blydskap is nie van uiterlike omstandighede afhanklik nie en kan daarom deur niemand, ook nie die vyandige wêreld nie, dit van ons gelowiges wegneem, nie.


Jesus se kruisiging, dood en opstanding sal, en het, alle verhoudinge tussen Hom en ons verander. Die dissipels, en alle gelowiges daarna, sal “nie meer vrae hê” om aan Jesus te stel nie. Hy sal permanent teenwoordig wees by Sy kerk deur die inwoning van die Heilige Gees wat ons in “die hele waarheid sal lei” (16:13). Dit sal nie meer nodig wees om enige vrae direk net aan Jesus te rig nie, want ons gelowiges se bestaan sal aangewese wees op ‘n gebedsbestaan. Ons het nou ‘n direkte toegang tot die Vader en kan ons gebede tot die Vader rig in die Naam van Jesus Christus, wat die Voorspraak is by God, deur die Heilige Gees. Jesus herhaal die belofte dat die gebed verhoor sal word. Dit impliseer natuurlik nie ‘n onbeheerste vra nie, maar ‘n vra volgens die wil van God.


In volkome blydskap kan ons gelowiges juig dat Jesus ons nie sommer net iets gegee het nie, Hy het Homsélf gegee en wanneer die Heilige Gees die waarheid aan ons openbaar, openbaar Hy ‘n Persoon, Jesus Christus wat self gesê het: “Ek is die waarheid” (Joh. 14:6). Ons moet hierdie Waarheid neem en ons lewe in ooreenstemming daarmee aanpas want wanneer ons met God in gesprek tree deur gebed, lei die Gees ons nie tot ‘n ontmoeting met God nie, dit ís ‘n ontmoeting met die lewende God! Dit alleen, is genoeg rede “dat ons blydskap volkome kan wees.”


“Niks kan ons beter troos nie as die helder wete dat ons, midde-in ons ellende, deur die God van liefde vasgehou word” (Johannes Calvyn).


Gebed: Dankie Heer dat U U volmaakte liefde aan die kruis vir my bewys het, daardie liefde wat nooit sal verander nie. Dankie dat U net nie ophou om my te lei deur al my lewensomstandighede, goed of sleg, hartseer of blydskap. Dankie Gees dat U my lei om God steeds te vertrou om te weet wat die beste vir my lewe is, al lyk my situasie soms donker en hopeloos. Help my om my lewe Godgerig in te rig en nie selfgerig te probeer aanploeter wanneer situasies soms hand uit ruk nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page