top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JULLE DROEFHEID SAL IN BLYDSKAP VERANDER (1) – ONVERGELYKLIKE BESORGDHEID!


Joh. 16:16-20 – “Nog ‘n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer ‘n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.’ Party van sy dissipels het toe vir mekaar gevra: ‘Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog ‘n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer ‘n klein rukkie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’? Hierdie ‘klein rukkie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit? Ons weet nie wat Hy bedoel nie,’ het hulle gesê. Jesus het gemerk dat hulle dit vir Hom wou vra, en Hy sê toe vir hulle: ‘Praat julle met mekaar daaroor dat Ek gesê het: Nog ‘n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer ‘n klein rukkie, dan sal julle My weer sien? Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander.”


Jesus bou verder uit op wat Hy reeds vroeër genoem het oor Sy weggaan, oor ‘n “klein rukkie” wat Hy gekruisig gaan word “en weer ‘n klein rukkie, dan sal hulle Hom weer sien.” Die dissipels verkeer steeds in die duister en weet nie dat Jesus na die kruisgebeure verwys nie. As Hy gekom het om ’n koninkryk op te rig, waarom gaan Hy weg, en as dit nie Sy bedoeling was om ’n koninkryk op te rig nie, waarom kom Hy terug? Hulle onbegrip is te verstane, want hulle staan op daardie oomblik nog in die tydsfase vóórdat alles gebeur het waarvan Jesus praat. Gevolglik bly die woorde oor die “klein rukkie” en die “weer kom” vir hulle duister. Hulle besef egter dat die paasfees vir hulle nie so vreedsaam sal verloop as wat hulle vermoed het nie.


Vroeër in die gesprek het die dissipels telkens aan Jesus ’n vraag gestel oor iets wat hulle nie verstaan nie, maar hier doen hulle dit nie, hulle bespreek eerder hulle onkunde onder mekaar. Die Seun van God wat die harte van mense ken, kom hulle in hul verleentheid tegemoet, aangesien Hy “gemerk het” dat hulle ’n vraag het. Jesus antwoord egter nie direk op die vraag nie, maar doen ’n uitspraak oor die wyse waarop die dissipels die tyd van skeiding moet tegemoetgaan. Hy doen dit met die inleidende woorde wat op ’n belangrike uitspraak dui: “Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe” (Joh. 1:51).


In die nabye toekoms sal ’n situasie ontstaan waarin die dissipels “sal huil en treur” maar die wêreld, die vyande van Christus, sal bly wees. Die dissipels sal diep in die hart getref word met innerlike smart en sal dit hoorbaar uiter, terwyl die “triomfantlike” wêreld met blydskap juig. Maar Jesus verseker Sy volgelinge dat daar ’n wending sal kom, hulle droefheid sal oorgaan in blydskap – die kruisgebeure sal vir die dissipels groot droefheid bring, maar daarna sal die kruis vir alle gelowiges, ’n bron van groot blydskap word.


Aangrypend om te sien dat Jesus nie ingestel is op Sy eie probleme en komende pyn en bittere lyding wat binne enkele ure op Homself wag nie. Hy fokus al sedert hulle aangesit het vir die Paasmaaltyd, op Sy mense se hartseer en probeer hulle troos. Dit gee vir 'n mens sekerheid dat die Here jou werklik liefhet en dat ons daaraan met hoop kan en moet vashou. Daar was nog nooit en daar sal ook nooit iemand soos Jesus wees nie. Hy dink werklik nie aan Homself nie. Hy is onvergelyklik en niemand kan Hom ignoreer nie. Sommige haat Hom, filosofeer oor Hom en probeer selfs Sy koninkryk vernietig, maar daar is mense wat Hom liefhet: ons gelowiges wat weet hoe die hartklop van God werk en besef dat Jesus Homself verloën het ter wille van ons.


En daaroor kan ons dankbaar wees. Hierdie omgee-Jesus het nie gekom vir gesondes nie maar vir die siekes, uitgeworpenes, struikelinge, verwerptes. Hy is genoeg vir elkeen wat Hom in geloof aanvaar, ongeag kultuur, kleur, nasionaliteit, taal of waar jy woon. Hierdie Jesus was bereid om as Prins van die hemel, die Kind van die krip te kom word. Hy het kom loop waar ons elke dag loop – geworstel met vrae waaroor ons daagliks worstel en nie altyd antwoorde het nie; onderwerp aan versoekings deur satan, net soos ons; moeg geword soos ons moeg word; miskenning net soos ons soms misken word; bedrieg soos ons bedrieg word; verneder soos ons verneder word; ken siekte soos ons siekte ken – Jesus ken dit alles, EN NOG MEER! Hy is vervolg, verwerp en is as mens aan die kruis vasgespyker en het as mens, in eensaamheid gesterf!


Die slegste van alles was, Jesus is deur Sy eie mense vervolg, vroom mense, kerkmense, mense van aansien, die ordentlike godsdienstiges wat geglo het en vandag nog glo, hulle kan sonder hierdie Jesus regkom. Hulle het presies die regte medisyne vir elke sondepyn en het niemand nodig om hulle die pad na God, wat deur Jesus gaan, te wys nie. Te midde van dit alles staan ‘n besorgde Jesus wat omgee en steeds sê: “Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander”. Hy het vir ons gelowiges oorvloedige lewe gebring!


“Dit help nie om blydskap te agtervolg nie, dit is iets wat vanself na jou toe kom as jy met jou lewe na God gegaan het” (Horace Bushnell – 1802-1876).


Gebed: Dankie Jesus, dat U ter wille van vreugde wat vir U in die vooruitsig was, die kruis verduur het en nie vir die skande daarvan teruggedeins het nie. En nou kan ek elke las van my afgooi, ook die sonde wat my so maklik verstrik en die wedloop van die lewe met vreugde en volharding hardloop, die oog gevestig op U, die Begin en Voleinder van my geloof (Heb. 12:1-4). En wanneer my vreugde-wêreld inmekaar tuimel, nooi U my uit: “Kom na My toe, jy wat uitgeput en oorlaai is, en U sal my rus gee” (Matt. 11:28). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page