top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES (9) – DIE VOORSPRAAK GEE ONS ‘N ALLESOORTREFFENDE VERSEKERING!


Joh. 16:12-15 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”


Sonde is ‘n ontstellende en aaklige werklikheid en is deel van elke mens. Maak nie saak watter naam ons dit gee nie, maar enigiets wat ons van God skei, is sonde en is dit as gevolg van ons eie toedoen. God wil dit egter verander, daarom het Hy sy Seun na die wêreld toe gestuur om die harmonie tussen God en mens te kom herstel. Sonde doen skade aan die beeld waarvolgens die Skepper ons geskep het, maar al is daardie beeld onherkenbaar geskend, is dit steeds daar.


Soos ‘n vaardige meesterbouer het God stap vir stap die heelal gemaak. Vir vyf dae het Hy as Beskikker van oorvloedige vrugbaarheid, die wonders van die ruimte, die prag van die natuur en die onbegryplike fyn werking van lewe van krioelende aantal diere en vrugbaarheid wat tot hulle gerig word, geskep. Dan op die sesde dag: die verskyning van die hooffiguur in die skepping, die mens, as “verteenwoordiger en Sy beeld”. ‘n Hoogtepunt word bereik, elkeen wat mens genoem word, is vir God iets besonders!


God het die mens nie op presies dieselfde manier as die ander skepsels geskep nie. By al die ander skepsels het God net gepraat en die skepsels het te voorskyn gekom. Soos ’n koor klink dit elke keer in Gen. 1: “Toe het God gesê … So het dit gebeur.” Maar wanneer God op die sesde dag ná die skepping van al die diere vir ‘n tweede keer praat, beraadslaag Hy eers met die Seun en die Heilige Gees en sê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ...” (Gen. 1:26). Tweedens is dit opmerklik dat God elke keer nadat Hy geskep het, “gesien dit is goed.” Maar nadat Hy die mens geskep het, het God na alles gekyk wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Eers nadat die mens geskep is, is alles baie goed. Nou is die skepping eers voltooi.


Die derde verskil tussen die ander skepsels en die mens, het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring.” God het die diere uit die grond van die aarde gevorm en hulle het gelewe. By die mens is dit egter anders: “God het die mens uit die stof van die aarde gevorm. En nadat Hy hom gevorm het, het Hy eers die lewensasem in sy neus geblaas” (Gen. 2:7). Op ’n besonders intieme wyse het die Here lewe aan die mens gegee. UNIEK! Die andersheid van die mens as skepping van God is dat hy nie maar net nog ’n skepsel, nog ’n ding is saam met al die ander dinge wat God geskep het nie. God het die mens as Sy verteenwoordiger, as Sy beeld geskep. Nét die mens is so geskep.


Dit maak natuurlik nie van die mens ’n klein godjie nie. In plaas daarvan om gehoorsaam aan sy Skepper en sy God te leef, meen die mens hy weet beter as die Here. Die mens dink hy kan sy eie besluite neem en onafhanklik van die Here lewe. Die mens wil soos God wees maar hierdie eiewyse mens het homself in gemors gedompel! In plaas daarvan dat die mens oor die skepping moet heers, respek betoon en menswaardigheid aan ander moet gee soos God dit wil hê, word hy ’n slaaf van die skepping. Ons breek en verwoes aan die beeld van God.


God het Sý beeld op my afgedruk en dit met Christus se bloed verlos. Hý bepaal my waarde en ek is al wat Hy belangstel om te hê. Ons moet begin om dit wat ons van onsself dink te bou op wat God van ons van voor die skepping weet en niks anders nie, niks van ons verlede nie, nie op nasionaliteit, taal, kultuur, rykdom of armoede nie. Daar is slegs één ding wat ons definieer: Die Drie-eenheid het vir Jan, Klaas, John, San en my, as Sy “verteenwoordiger, Sy beeld” gemaak. Dis God se kniel oor jou en my, Sy kyk in Sy bewonderende oë, wat bepaal wie en wat ons is.


Ons kan nie op eie krag uitvoering gee aan die Here se opdrag dat ons geestelik moet groei nie. Dit is in alles Hy wat sorg, bewaar en ondersteun; Hy wat ons geskep en uitverkies het; Hy wat ons in Christus onskuldig verklaar; Hy wat ons tot bekering lei en geestelik laat groei. Hy gee vir ons hierdie allesoortreffende versekering: “Ek gee (My skape) die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie. Dié wat My Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie” (Joh. 10:28-29).


Meer as hierdie versekering kan en wil ons nie hê nie. Daarom kan ons met vreugde en dankbaarheid ook óns verantwoordelikheid nakom en, deur die Gees se werk in ons, daagliks toeneem in kennis en gehoorsaamheid. Mag die Gees so in ons werk dat Christus ons waarlik sal omvorm tot die beeld van God soos wat God wil hê ons moet wees.


“Moenie jouself met ander rondom jou vergelyk nie, maar soek eerder na God wat jou lewe beplan en volg gehoorsaam” (James Stalker).


Gebed: Dankie Here dat U my geskep het en U beeld op my afgedruk het sodat ek U verteenwoordiger op aarde kan wees. Die enormiteit van hierdie verbintenis is onpeilbaar! Dankie dat U soveel vertroue in my het, dit is ‘n wonderlike voorreg om hierdie ontsettende verantwoordelikheid van U roeping te vervul. Skenk my die genade en ywer om nie daarin te faal nie. En as ek faal om U verteenwoordiger te wees en nie daagliks toeneem in kennis en gehoorsaamheid om U beeld waardig te wees nie, vermaan my asseblief deur U Gees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page