top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES (7) – DIE VOORSPRAAK LEI ONS TOT GEESTELIKE GROEI!


Joh. 16:12-15 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”


Vergelyk ook 1 Tess. 4:8 – “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.”


Die geheim van ‘n geslaagde Christelike lewe is om die Heilige Gees toe te laat om ons te help om geleidelik geestelik te groei. Ons moet beslis nie die werk van die Heilige Gees geringskat nie, Jesus het Hom juis gestuur om ons “in die hele waarheid te lei.” Geestelike groei is ook ‘n dinamiese proses waartoe elke gelowige, wat nog geestelik gesproke ‘n baba is in geloof, geroep word om van jou weergeboorte en bekering af, geestelik gesproke, ‘n grootmens moet word. En dit het niks met ouderdom te doen nie.


Eerstens is geestelike groei ‘n gawe van God. Paulus stel dit aan die Christene in Rome dat “die loon wat die sonde gee, die dood is: maar die genadegawe wat God gee, die ewige lewe is in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23). Hierdie ewige lewe wat God uit Sy vrye genade aan ons skenk, sonder dat ons dit in enige opsig verdien, sluit ons hele Christen-wees in. Dit is ‘n geskenk wat God “in Christus” aan ons gee. Dit is geensins enige loon vir enige prestasie van ons kant af nie, (as sondaars verdien ons buitendien die dood), dit is ‘n geskenk wat alle prestasies voorafgaan.


Op die pad na geestelike volwassenheid word ons al hoe meer bewus van die teenwoordigheid en krag van die Gees wat in ons werk, ons gedagtes voed met die Skrif en dit stap vir stap aan ons openbaar. Daarom is een van die aangrypendste waarhede in die Skrif dat ons sondaars, kinders van God kan word. Die feit dat God gewillig is om my as sondaar, Sy kind te maak en so te noem, klink onbegryplik en tog is dit presies wat die Woord van die Here ons leer: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Onbegryplik maar waar – “die Gees van die waarheid” bevestig dit sodat ons nooit hoef te twyfel nie: “Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom. 8:16).


Die goeie nuus is dat die Here Hom nie onttrek wanneer ons “kinders van God” geword het nie. Ons word nie nou aan onsself oorgelaat om geestelike volwassenheid te bereik nie. God laat nooit die goeie werke van Sy hande vaar nie (Ps. 138:8), Hy voer dit end-uit: “Ek is daarvan oortuig dat God wat die goeie werke in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Rom 8:30).


Ons is egter nou nie werkloos nie. Die “genadegawe wat God gee”, moet omskep word in ‘n daadwerklike heilige lewe. God het in Sy alwysheid vir ons die verantwoordelikheid gegee om self ‘n keuse te maak hoe ons hierdie geestelike weg wil bewandel. Om Christus deur die werk van die Heilige Gees, as jou Verlosser te aanvaar, is ‘n wilsdaad. Wanneer jy die begeerte skep om die Heilige Gees toe te laat om in en deur jou te werk, stel Hy jou in staat om die regte besluite te neem en op die regte pad te bly, die pad van daaglikse geestelike groei, die pad van die ewige lewe! Die keuse lê by jou of jy die Gees wil toelaat om beheer oor jou lewe te neem!


“In die Christen se lewe is daar nie so iets dat jy jou kan terugtrek en hoop dat God jou daar sal ontmoet en seën nie. Jy moet daagliks lewe en groei”

(Alan Redpath – Evangelis 1907-1989).


Gebed: Jesus, my Verlosser, dankie dat ek as nietige en sondige mens, deur die Heilige Gees U pad kan kies. Dankie Gees dat U die begeerte aan my skenk om reg te lewe en ook seën met die vermoë om geestelik te groei sodat dit moontlik word om so te lewe. Laat U invloed altyd in my lewe geld en maak my gehoorsaam aan U stem om my geestelike verantwoordelikhede na te kom tot lof, dank en aanbidding aan God. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page