top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES (1) – DIE VOORSPRAAK EN DIE WÊRELD.


Joh. 16:5-11 – “Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan My kant is, en dat die oordeel al gekom het. Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; die reg is aan My kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld, die Satan, is klaar veroordeel.”


Jesus verklaar in duidelike terme dat die keerpunt in Sy aardse verblyf gekom het en dat Hy “nou teruggaan na Hom toe wat Jesus gestuur het”. Omtrent daardie weggaan, het die dissipels nog nie tot volle insig gekom nie, daarom is daar ook in hierdie stadium niemand wat in erns Jesus vra waar Hy heengaan nie, daar heers by hulle net die droefheid van die afskeid. Jesus bly egter bewus van die feit dat Hy deur die Vader gestuur is om ’n opdrag uit te voer: “God het nie Sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh. 3:17).


Om die droefheid uit hulle harte weg te neem, stel Jesus Sy weggaan in die regte perspektief. Dit moet gesien word as die noodsaaklike gebeure in die openbaring van ons gelowiges se verlossing. Die voordeel lê daarin dat Hy dan verheerlik sal wees in die hemel om heerskappy te voer oor alle dinge, en verder dat Hy dan die Voorspraak kan stuur wat altyd by Sy volgelinge, Sy kerk, sal bly. Die Voorspraak kan nie voor daardie “weggaan” kom nie, want Christus moet eers verheerlik word: “Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie” (Joh. 7:39b). Wanneer die Gees dan uitgestort word ná Jesus se weggaan, sal Hy dan optree teenoor die wêreld as die Aanklaer wat oortuigend bewys dat die wêreld aan sonde skuldig is en onder die oordeel van God verkeer.


Sy aanklag teen die wêreld gaan oor drie sake: Sonde, geregtigheid en oordeel, en die Gees bewys oortuigend dat die wêreld nie net ’n foutiewe opvatting oor hierdie dinge het nie, maar die eintlike skuldige is ten opsigte van al drie sake. Die Jode, wat in hierdie Evangelie die verteenwoordigers van die wêreld is, het Jesus beskuldig van “sonde”. Volgens hulle opvatting het Hy die wet van God, (Moses se wet), ongeldig verklaar en Hom aan godslastering skuldig gemaak. Nou kom die Voorspraak, die Aanklaer, en bewys oortuigend dat sonde in sy wese daarin bestaan dat daar nie in Jesus geglo word nie. Die verwerping van Jesus Christus is sonde, en daaraan is die wêreld skuldig.


Die Jode het daarop aanspraak gemaak dat hulle die geregtigheid dien deur Jesus te verwerp, en dat die dood aan die kruis die bewys is dat die reg aan hulle kant is. Maar die Aanklaer, die Heilige Gees, bewys die teendeel. Christus het opgestaan uit die dood, en Hy gaan na die Vader sodat Hy nie meer op aarde sigbaar teenwoordig is nie. Deurdat God Hom opgewek en in die hemel opgeneem het, het God bewys dat die reg aan Jesus se kant is, en dat alles wat Jesus verkondig het, die werklike geregtigheid was.


Ten opsigte van die oordeel het die wêreld geroem in die voltrekking van die doodstraf op Jesus en dit aangewys as die oordeel van God oor Hom. Maar die Aanklaer lewer die bewys dat Jesus teruggeroep is na die lewe. Dit beteken dat die owerste van die wêreld deur Christus oorwin is en self in die oordeel verkeer. Die Voorspraak, die Heilige Gees, kom om dit te bewys en om sodoende as Aanklaer die aanklag teen die gelowiges om te keer in ’n aanklag teen die vyandige wêreld en te bewys dat die wêreld in sonde van ongeloof verkeer, geen aanspraak op reg aan sy kant het nie en in werklikheid reeds veroordeel is.


In die kragtige teenwoordigheid van die Gees moet die wêreld kan agterkom dat hulle nie aan die kant van God staan nie. Iemand wat nie aan God wil behoort nie kan maar weet dat hy of sy veroordeel is. Skrikwekkend!


“Ons ontvang nie die Heilige Gees ómdat ons glo nie, maar sódat ons kan glo”

(Dorothé van Gasa).


Gebed: Hemelse Jesus, ek besef dat U aardse liggaam U tyd en plek gebonde gemaak het daarom is ek verheug dat U vir ons die Heilige Gees gestuur het wat nie aan sulke beperkings gebonde is nie. Dankie Gees dat U oral teenwoordig is, maak nie saak waar ek my bevind in hierdie verskeurde wêreld nie. Dankie Gees dat U dit moontlik maak dat ek onafgebroke in gemeenskap met my Saligmaker en Verlosser, Jesus Christus kan leef en nooit van U verlate kan wees nie. Ek bid dat ons land en die wêreld se mense, deur U oortuig sal word dat Christus die Seun van God is en die enigste Oplossing is vir al die probleme wat ons ervaar. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page