top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JULLE MOET NIE VAN MY AFVALLIG WORD NIE – WARE DISSIPELSKAP!


Joh. 15:26-16:4 – “Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My. Hierdie dinge sê Ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie. Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs ‘n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.”


Vergelyk ook Kol. 1:24 – “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van Sy liggaam, die kerk.”


Jesus is steeds besig om die dissipels, terwyl hulle waarskynlik stap na die Tuin van Getsemane, voor te berei vir die tyd wanneer Hy nie meer by hulle sal wees nie en die wêreld sy haat op hulle sal keer. Hulle sal egter nie alleen wees nie. Hulle sal bygestaan word deur die “Voorspraak, die Gees van die waarheid”, wat die getuienis wat Jesus deur woorde en werke afgelê het, sal versterk en voortdra en almal sal herinner aan alles wat Jesus gesê het. Die verbondenheid van God die Vader, die Seun en Gees (Drie-eenheid) word hier sterk deur Jesus beklemtoon en die “Gees van die waarheid” sal teenoor die leuenverkondiging van die wêreld aangaande Jesus Christus, die Goddelike waarheid bekend maak.


Dit is vir die kerk van die Here belangrik om by voorbaat te besef dat ons die skyf van die haat van die wêreld is. Deur al die eeue heen gebruik ongelowiges verskeie metodes om te probeer om die kerk van Jesus Christus te vernietig. Van die ergste lyding wat die dissipels en destydse gelowiges moes verduur, was verbanning uit die sinagoges uit. Dit het beteken dat gelowiges, godsdienstig en sosiaal uit die Jodedom gesny is – hulle volksidentiteit is van hulle af weggeneem! Hulle is gemartel, doodgemaak, en die mense wat dit doen het dit met ‘n skoon gewete gedoen want hulle het “gedink dat hulle ‘n diens aan God bewys.”


Die stryd is nog steeds nie verby nie. Satan is oorwin maar hy het nog nie die stryd gewonne gegee nie. Talle Christene se lewenswandel is omvergewerp omdat hulle volgelinge van Jesus geword het. Hulle Christenskap het hulle sosiale lewe uiteengeskeur; families is uiteen omdat sommiges van hulle lojaal aan Jesus was en ander nie. Die enigste “misdaad” wat hulle gepleeg het was om Jesus Christus te kies – dit het al duisende se lewe gekos.


“Wanneer “vervolging” aanbreek, moet ons daaraan dink dat Jesus dit vir ons gesê het.” God se plan het egter nie ontspoor of iets het verkeerd gegaan nie, dit het immers met Jesus gebeur daarom sal ons gelowiges nie vryspring nie. Om ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur. Toe God Sy skepping van die sonde wou red, kon Hy aan geen ander manier behalwe die offer van Sy Seun vind nie (Rom. 5:8). As Christus ons voorbeeld vir bediening is, kán ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As ons doel is om te getuig vir Christus, moet ons gewillig wees om soos Hy verwerping te waag. Mense kan ons teleurstel, beledig, valslik beskuldig, ons motiewe verkeerd verstaan en selfs verag en “vervolg.” Ons Verlosser het nie toegelaat dat lyding verhoed dat Hy deur God gebruik word om hulle wat Hy liefhet, te red nie.


Hulle wat alles verloor het as gevolg van hulle lojaliteit aan Jesus, het baie meer ontvang. Die vervolgers kan maar alles in die stryd werp om alles te steel en te verower van gelowiges, hulle sal nooit slaag om die hemel van die gelowiges-in-Christus, weg te neem nie. “Ons is erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid” (Rom. 8:17b).


Wanneer ons swaarkry terwyl ons dissipels van Jesus wil wees en soms wonder of die prys wat ons daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie, is dit nodig om stil te raak en na te dink oor die prys wat God gewillig was om te betaal om ons te red!! Dan raak vervolging geseënd want ons “doen wat reg is!” Dan kan ons saam met Paulus bly wees (Kol. 1:24).


“Jesus het vir ons gelowiges drie uiteenlopende beloftes nagelaat: Ons sal heeltemal vreesloos wees, onbegryplik gelukkig, en altyd in die moeilikheid by mense wat anders dink” (TR Glover).


Gebed: Ons dierbare Vader, wanneer ek swaarkry hoor ek U stem duideliker. Dit is dan wanneer ek dink aan my opregtheid van my persoonlike toewyding aan U. Help my om myself te verloën en my kruis op te neem, positief op my swaarkry te reageer, nie om moedeloos te raak nie en te besef dat U my nooit alleen sal laat nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page