top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JULLE MOET MEKAAR LIEFHÊ (1) – INGEËNT!


Joh. 15:9-13 – “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in My liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in My liefde bly, net soos Ek die opdragte van My Vader uitvoer en in Sy liefde bly. Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is My opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.”


Vergelyk ook Rom. 13:9 – “Al die gebooie word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”


Die innige verbondenheid van wingerdstok en lote kom deur die liefde en word deur die liefde in stand gehou – die volmaakte, Goddelike liefde wat die werklike band van gemeenskap is tussen God die Vader en die Seun, en die Seun en ons gelowiges! Jesus het in die liefde van die Vader gebly deur die opdragte van die Vader uit te voer. Net so bly die gelowige voortdurend in die liefde van Christus deur getrou en volhardend te probeer om die opdragte van Christus uit te voer.


Die liefde vir mekaar word in God se liefde vir Sy Seun begrond en as “model” vir ons liefde gebruik – nie net soos ons liefhet nie, maar soos God liefhet, só moet ons liefhê. Liefde is ‘n eienskap van God. Liefde is die wesenlike aspek van God se karakter en staan vir wie Hy is. God is die perfekte voorbeeld van liefde. Deur God se krag en deur die Heilige Gees gee God ook hierdie liefde aan elkeen wat Jesus aanneem as Sy Saligmaker en Verlosser: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh. 3:1). En die liefde word prakties uitgespel as die uitvoer van God se opdragte, selfs al sluit dit die dood in: “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het Sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê” (1 Joh. 3:16). Dit is ook die enigste ware en blywende bron van blydskap, en maak van ons vriende van God.


Deur die eeue is daar al baie geskryf en gepraat oor liefde. Daar is vandag miljoene voorstellings en wanvoorstellings van die liefde. Ek het gaan “Google” oor die woord “liefde” en ongeveer 39 miljoen resultate gekry binne 0,36 sekondes. God se liefde is egter meer as voorstellings of lippetaal of selfs googletaal, dit is volkome liefde, ‘n liefde wat meer is as ‘n mooi gesindheid en voornemings. Dit is liefde wat bereid is om jouself prys te gee tot voordeel van ander.


Die lewe wys waar die liefde lê, om lief te hê is om kwesbaar te wees! Iemand stuur die volgende epos aan ons na aanleiding van die dagstukkie wat ons 6 Oktober uitgestuur het. Dit vind aansluiting by die “herkoutjie” van Prof. Stephan Joubert wat ek aangehaal het: “Liefde is die handtekening van die kerk. Dit is die belangrikste manier hoe ander ons geloof kan uitken. Liefde is ons “kleurbaadjie”. Wanneer ons vir mekaar omgee en mekaar se laste help dra, sien ander dat ons leef soos Jesus van ons verwag.”


Die volgende is ‘n siening van ‘n bedelaar oor die kerk: “Die meeste kerke het tralies om, ons bedelaars kan nie daar inkom nie. Die Dominees en Pastore het nie tyd vir gesels nie, hulle is baie besig veral as jy ‘n bedelaar is wat nie lekker ruik nie. Die mense van die kerk bid net vir jou en dan “tick” hulle die boksie van naastediens af. Hulle is goed met iets gee maar hulle gee nie regtig van hulleself nie.”“Ek wou op ‘n dag gaan raad vra by die kerk en ek lui die interkom by die hek.” “Ja, wat soek jy, soek jy kos?, vra ‘n vrou my oor die interkom.” “Nee, ek wil graag met die Dominee praat, ek soek raad.” “Nee, hier is nie iemand wat jou berading kan gee nie.” “Ek vra haar toe: Kan ek dan ’seblief met Jesus praat?” “Toe word daardie tannie kwaad en sê: “Moenie laf wees nie, Jesus is nie hier nie!” “Toe draai ek om en stap weg van die kerk en besef: Sy is reg, Jesus is nie dáár nie!”


Is dit hoe die liefde is, die handtekening van die kerk, ons “kleurbaadjie”? Is dit hoe ons vir mekaar omgee en mekaar se laste help dra? Sien ander dat ons leef soos Jesus van ons verwag? Is dit hoe ‘n gelukkige Christen met blydskap in sy hart optree? Wat sê mense as hulle van die erediens en ons as gemeente wegstap: Is Jesus Christus se liefde daar? Wat sê hulle as hulle van ons Christene se huise af wegstap? Sien die wêreld Jesus se liefde wat by ons ingeënt is? Ons kan nie Jesus se blydskap sonder Hom hê nie: “Ek sê dit vir julle sodat My blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” Dit is hierdie blydskap wat Jesus wil hê ons met ander moet deel, ‘n blydskap omdat ons wéét die lewende God het ons lief, die lewende Christus het ons lief en ons dit deur die lewende Gees, met ander kan deel, vir mekaar kan omgee, geënt in Jesusliefde!


“In ‘n gesonde kerk leer elke Christen om vir die ander om te gee. As ons Jesus se opdrag dat ons mekaar moet liefhê ernstig opneem, dra ons ‘n belangrike deel by tot ‘n wenspan”

(Charles Spurgeon).


Gebed: Hemelse Here, laat my die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U met toewyding dien. U verwag opregtheid diep in my hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. Laat my blydskap en vreugde belewe, skep vir my ‘n rein hart, vernuwe my gees. (Ps. 51). Maak my standvastig om U opdragte uit te voer. Help my asseblief Here Gees, ek kan dit nie op my eie doen nie. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page