top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Volgens oorlewering dieselfde trappe wat Jesus en die dissipels na Getsemane geloop het.

DIE WARE WINGERDSTOK (1) – REG GESNOEI!


Joh. 15:1-3 – “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.”


Vergelyk ook Jer. 2:21 – “Toe Ek jou geplant het (Israel), was jy ’n goeie wingerdstok, opreg gekweek, maar hoe het jy nie verander in onkruid, in ’n wilde wingerdstok nie!”


Die tweede gedeelte van Jesus se afskeidsgesprek geskied waarskynlik terwyl hulle stap vanaf die Bovertrek na die Tuin van Getsemane. Jesus gebruik steeds die geleentheid om die dissipels op te beur, hulle geloof te versterk en voort te bou op Sy eenheid met die Vader. Jesus gebruik nou die beeld van druiweboerdery wat bekend was by die dissipels, daarom kon hulle die verhouding tussen die wingerdboer (God), wingerdstok (Jesus) en lote (hulle/ons), verstaan.


Aan die lote word besondere aandag bestee sodat hulle aan hulle bestemming kan voldoen om vrug te dra. Omdat ons as gelowiges die lote van hierdie wingerdstok is, moet ons die vrugte van die “ware wingerdstok” dra. Om dit te verkry, word ons met sorg nagegaan deur die Vader. Die onvrugbare lote word afgesny en die vrugbare lote word reggesnoei sodat ons meer vrug kan dra. Geen loot word toegelaat om volgens eie natuur ongerep uit te skiet nie; hy word in bedwang gehou; die snoeiskêr word op hom aangelê sodat hy getem en gedissiplineer kan wees om aan sy goddelike doel te beantwoord, effektief die regte vrugte dra! Hy moet die vrugte van die ware wingerdstok dra, en daardie vrugte bestaan in die godvrugtige lewe wat in deug en goeie werke tot uiting kom (Gal. 5:22).


Die vrugte wat God in ons wil sien is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal. 5:22) en daarom sal God alles wat hiermee wil probeer inmeng, wegsny en uitsnoei! Hy spandeer baie tyd om deur Sy “wingerd” te stap, onkruid uit te trek en elke loot te inspekteer om seker te maak hy gaan vrugte dra. Al die “lote” wat die vermoë het om vrug te dra maar wat dalk afgeval het en in die grond of modder lê, tel Hy liefdevol op, snoei dit reg, verander sy posisie en plaas hom in ‘n plekkie in waar hy weer kan rank en vrugdra. Die skewe lote sal Hy ook reg snoei en dophou om te sien of hulle gaan vrug dra.


Die waterlote wat groeikrag uit die wingerd tap, word summier afgesny en word sommer daar op die grond gelos om later opgetel te word en aan die brand te steek. Hulle is buitendien waardeloos en kan vir niks gebruik word nie. Elkeen van daardie lote het ‘n naam op: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en alle dergelike dinge (Gal. 5:19-20).


God se snoeiskêr is Sy Woord en “ons is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Jesus vir ons gesê het.” Soms maak God se “snoeiskêr” seer maar dit bring groeikrag! Dit versterk ons geloof en karakter en gee aan ons die ruimte om geestelik te groei. En wanneer die lote begin vrug dra, snoei God hulle nog beter om nog meer en beter vrugte te dra. Ons Groot Tuinier, ons Liefdevolle Boer, sny al die oortollige en onvrugbare lote af, al die slegte gewoontes en gedagtes verwyder Hy sodat ons vrugbaar kan wees en ‘n ryke oes in Sy koninkryk en tot Sy eer sal wees.


“Mense verstaan net soveel van God se liefde en genade as wat hulle in óns, “reg gesnoeide lote”, se lewe sien. Dít is die eerste Bybel wat baie mense dalk lees!” (Rebecca Pippert).


Gebed: Dankie Here dat U my vreugde skenk. Saai my lewe in U hemelse landerye sodat ek ‘n ryke oes in U koninkryk en tot U eer, hier op aarde kan wees. Snoei my reg sodat ek die vrugte van die ware wingerdstok kan dra, en sodat daardie vrugte in die godvrugtige lewe wat in deug en goeie werke tot uiting kom, kan bestaan. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page