top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE HEILIGE GEES SAL BY JULLE BLY (3) – REGTE INSIG!


Joh. 14:25-26 – “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”


Vergelyk ook 1 Kor. 6:19 – “Besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie.”


Jesus se gesprek tydens die paasmaaltyd met die oorblywende elf dissipels, nader die einde. Na aanleiding van die vraag van Judas, seun van Jakobus wat ook Taddeus genoem is, (Hand. 1:13; Mark. 3:18), en ingeslote ook alles wat Jesus op daardie paasfeesmaaltyd-aand aan Sy dissipels gesê het, wil Hy hulle verder vertroos en ook toerus vir die dag dat Hy nie meer in menslike gestalte by hulle is nie. Jesus se gesprek is egter nie beperk tot die elf dissipels nie, dit is meer as dit. “Dit” vertel eintlik van Jesus se verhouding tussen Hom en Sy kerk, Sy verhouding met ons as gelowiges in Hom! “Dit” wat Jesus daardie aand vir Sy volgelinge gesê het, is ook waar vir Sy kerk deur al die eeue.


Die intieme verhouding tussen ons gelowiges en God, kan dus nie geskei word van die teenwoordigheid van die Heilige Gees nie. Jesus het ons nie soos weeskinders wat hulpeloos op aarde ronddwaal, alleen agtergelaat nie, ons is deel van God se gesin met ‘n bestemming – ons is op die hoofpad van die ewige lewe! Om ons te help om op hierdie pad te bly, het “God in Jesus se Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, gestuur en Hy sal ons alles leer en ons herinner aan alles wat Jesus gesê het.” Die Gees lei elke gelowige nou binne die grense wat Jesus gestel het en Hy sorg dat ons deel van God se gesin bly!


Een van die aangrypendste waarhede wat die Woord ons leer en waaraan die Gees ons herinner, is dat God uit Sy genade, aan ons die ewige lewe deur Sy Seun gegee het: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23). Ons kan nie hierdie genadegawe koop of enigsins verdien nie, dit is ‘n gawe van God, ‘n geskenk wat ons ontvang in Christus ons Here! Dit is geensins enige loon op enige prestasies nie, die enigste loon wat ons eintlik verdien, is die dood. Maar, uit genade is God gewillig om ons sondaars, Sy kinders te maak: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). En asof dit nie genoeg is nie, kom dra die Heilige Gees hierdie aangrypende waarheid diep in ons hart in, op so ‘n manier dat ons nooit kan twyfel nie: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom. 8:16).


Die bedoeling van Jesus se uitspraak is seker nie dat die Heilige Gees beperk is tot die woorde van Hom en niks nuuts kan meedeel nie. Net soos Jesus die woorde van die Vader kom spreek het en tog ook nuwe dinge geopenbaar het, herinner die Gees ons aan die woorde van Jesus, maar bring Hy ook nuwe insigte om in elke omstandigheid die kerk van Christus in die waarheid te lei. Die Gees leer ons ook die waarheid omtrent onsself. Ons leer die grootheid van ons sonde ken want van nature is ons kinders van die sonde. Soos ‘n simpatieke onderwyser staan die Gees egter by ons en leer ons van die eindelose liefde van God.


“Jesus het gegaan om vir ons plek gereed te maak en die Heilige Gees is gestuur om ons gelowiges in Christus, vir daardie plek voor te berei” (Alan Redpath, Britse Evangelis 1907-1986).


Gebed: Here, leer my deur U Gees hoe ek moet lewe. Herskep my elke dag opnuut deur U genade en eindelose liefde. Onderrig my al hoe dieper in die ondeurgrondelike waarhede van ons Vader. Leer my met toenemende begrip van God se Woord en gehoorsaamheid daaraan. Leer my die waarheid omtrent gebed en die onuitspreeklike krag daarvan. Openbaar aan my die bevrydende waarheid van Christus se lewe, sterwe en opstanding. Leer my o Gees om dit met ander mense ook te deel. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page