top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GAAN NA SY VADER TOE (6) – ‘n GEWELDIGE BELOFTE!


Joh. 14:12-14 – “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”


Vergelyk ook Jak. 5:16 – “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.”


Die geloof bring nie net kennis van die Vader nie maar ook toerusting vir die lewe. Met groot klem verklaar Jesus dat elkeen wat in Hom glo en uit genade, die saligheid verkry het, sal ook die toerusting ontvang om die dinge te doen wat Jesus doen, en ook groter dinge as dit. Deur die geloof word ons as gelowiges in Christus, gesterk om die arbeid van die koninkryk van God in die krag van God te doen. Die bedoeling is nie dat die gelowige net sulke wonderwerke sal doen as Jesus nie, maar dat hy die werk van die koninkryk sal doen. Dit gebeur omdat Jesus na die Vader gaan; Sy werk op aarde is voltooi maar daardie werk moet voortgesit word deur sy apostels en trouens deur elke gelowige.


Omdat Jesus by die Vader is, doen Hy sy werk nie in ’n staat van vernedering nie maar in ’n staat van heerlikheid. Daarom is Sy werke waarvoor Hy sy volgelinge gebruik, “groter” as dié wat Hy op aarde gedoen het. Jesus het Sy arbeid beperk tot die Joodse volk, maar ná Sy hemelvaart kom die Heilige Gees en dan begin die groot uitbreiding van die evangelie deur die diens van die gelowiges: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1:8).


Die groter dinge wat die dissipels, en ook ons, sal doen, word moontlik deur die gebed. Ons kan verseker wees van vrye toegang tot die Vader deur die gebed; meer nog, Jesus onderneem om self alles wat in die gebed gevra word, tot uitvoering te bring (Jak. 5:16). Die skatkamers van die hemel word oopgestel vir die biddende kind van God, sonder beperking, solank die gebed “in Sy Naam” is. Hierdie belofte is so ruim dat dit moeilik is om te glo. Ons moet egter daarop let dat Jesus sê: “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen”. Die toets van elke gebed is om te vra of ek werklik dít in die “Naam van Jesus” kán vra. Om byvoorbeeld vir persoonlike wraak of persoonlike ambisie en rykdom in Jesus se Naam te bid, gaan ons dit heel moontlik nie ontvang nie.


Omdat ons in Jesus Christus al ons vertroue stel en omdat ons met Hom beklee, voor die Vader as regverdiges mag verskyn, is daar vir ons geen rede om ooit te dink dat ons gebede minderwaardig sal wees nie. Dit is Christus wat ons waardig maak om met God in gebed te praat. Die uitwerking van ons gebed is immers ook nie van ons vermoë afhanklik nie maar van God se vermoë, en God is Almagtig. Die vereiste vir ʼn ernstige gebed is om God aan te roep omdat ons Hom en Sy beloftes regtig ken en weet wat Hy wil bereik. Om “in sy Naam” te bid, beteken om Hom te bely as Middelaar en om by God te pleit op grond van alles wat Jesus tot redding van die sondaar gedoen het. Op daardie wyse word die Vader deur die Seun verheerlik.


Laat ons maar eerlik vir mekaar sê hoe meeste van ons gewoonlik ons probleme hanteer. Ons maak self eers al ons planne en doen alles wat ons kan. Wanneer ons uiteindelik sien dat ons planne nie wil uitwerk soos ons gehoop het nie, bid ons tot die Here vir hulp. Ons maak Hom die laaste uitweg van al ons planne. Die Here beskik immers die moeilike omstandighede in ons lewens sodat ons altyd van Hom afhanklik sal wees. Hy wil hê dat ons Hom eerste moet vra voordat ons enigiets doen, Hom ken in al ons weë.


Indien jy dalk wonder oor God se liefde en of Hy werklik na ons gebede luister, kyk na die kruis van Golgota. Ons sien menigte kere en ervaar eers later, hoekom God nie ons gebed verhoor het nie of ánders verhoor het as wat ons gevra het. Die Here het nie ons gebede nodig om Sy werk te doen nie. Hy is almagtig en voer Sy werk uit soos Hy dit beplan het. Maar op Sy pad met die skepping roep Hy ons sondaar-gelowiges om deel te wees van Sy werk. Hy wil hê ons moet op grond van Sy beloftes en genade Hom vra om Sy wil en doel uit te voer. Hy wil ons in Sy skaduwee hê sodat ons kan sien hoe Hy Sy doel bereik en ons saam met Hom die vreugde mag beleef dat alles gebeur net soos Hy dit wil hê. Dáárom het die “gebed van ‘n gelowige (regverdige) ‘n kragtige uitwerking” – sonder towerformules.


“Wanneer ons op ons swakste lyk – soos wat ’n mens in ’n biddende houding lyk – dán is ons die sterkste wat ons ooit kan wees … ” (Onbekend).


Gebed: Here, ek hef my hande op na U in verwondering. Saam met Job roep ek uit: Wat God doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder! By U is moed in ruil vir my angs, vrede en krag in ruil vir my hartseer en swakheid, en bowe alles: U is dáár in ruil vir myself! Here, maak my ‘n biddende mens sodat die fokus van my hele lewe na U toe gekeer is en ek van U afhanklik bly en is. Dankie dat U altyd by my is, U laat my nooit alleen nie, in goeie en in slegte tye. Laat ek die vreugde dra van U opstanding en in liefde kan dien, mekaar vergewe en aanvaar. Dankie Here, hoe WONDERBAAR is U Naam! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page