top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GAAN NA SY VADER TOE (5) – VISIE VAN DIE VADER!


Joh. 14:7-11 – “As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom. Toe sê Filippus vir Hom: ‘Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.’ En Jesus sê vir hom: ‘Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. Glo in my omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.”


Vergelyk ook Joh. 1:18 – “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.”


Die vraag van Filippus, spruit steeds uit gebrek aan kennis van hom én die dissipels omtrent wie Jesus werklik is en wat Sy sending behels. Hulle het ongeveer drie jaar saam met Jesus verkeer en tog het hulle nie tot volle kennis van Hom gekom nie. Gevolglik ken hulle ook nie die Vader nie, aangesien die Seun in leer en lewe juis die bekendstelling van die Vader is (1:18). Maar nou het hulle ’n stadium bereik waarin hulle tot die ware kennis sal kom, en daardie stadium is die kruis en die opstanding. In die lig van daardie gebeurtenisse sal hulle waarlik die Vader leer ken, en dan sal hulle Hom ook “sien”. “Niemand het God ooit gesien nie”, omdat dit nie gaan om die sien met die oog nie maar om die dieper geestelike “sien” waardeur die gelowige, God die Vader, deur Jesus leer ken.


Filippus begryp nie dat Jesus gesê het dat wie Hom ken, ook die Vader ken en sien nie, en wil met sy vleeslike oog die Vader sien. Sy geloof is gebonde aan wat hy fisiek kan sien, en dit is nog nie veranker in die “onsienlike” nie. Dit is moontlik dat Filippus ’n Godsverskyning in gedagte gehad het soos dié wat Moses (Eks. 24:10; 33:17-23) en Jesaja (Jes. 6:1) beleef het. As hy God die Vader op daardie wyse sou sien, sou dit vir hom oortuigend wees, maar deur so ’n verskyning te vra, het hy hom gelykgestel met die Jode wat van Jesus ’n teken uit die hemel geëis het (Joh. 2:18; 6:30). Filippus moes egter begryp dat so ’n teken nie nodig was nie omdat Jesus self die volle openbaring van die Vader was (Joh. 1:18). Filippus en die ander het oorvloedige geleentheid gehad om deur die geloof in Jesus die openbaring van die Vader te “sien”, en nou aan die einde van sy aardse bediening moet Jesus vind dat hulle nog nie daartoe gekom het nie.


Daar is al baie oor geloof geskryf, maar as ons eerlik met onsself wil wees, is dit iets wat moeilik is om met ons menseverstand raak te vat, bloot omdat geloof deel is van God se genade aan die mens. Geloof is om aan God se beloftes in Sy Woord vas te hou, al word nie een van hulle vir ons waar nie. Geloof is om seker te wees dat God na ons gebede luister, al ontvang ons nie altyd wat ons vra nie. Geloof is om te weet God is almagtig en Hy maak nie foute nie. Francis Bacon het gesê dat geloof nie iets is wat leraars predik of bid nie, maar wat mense beoefen en glo, wat hulle Christene maak.


Die storie word vertel van ‘n plaasboer en sy drie seuns wat, ten spyte van die plaaslike dorpsleraar, vriende en familie se pogings om hulle tot ander insigte te bring, niks van God of die kerk wou weet of glo nie. Hulle redenasie was eenvoudig: “Ons kan nie iemand in ‘n gebou (kerk) gaan soek of aanbid wat ons nie kan sien nie!” Een van die seuns word deur ‘n giftige slang gepik. Die dokter het alles in sy vermoë gedoen maar sy pogings op die seun se herstel, was klaarblyklik verniet. Die leraar word ingeroep en het die volgende gebid: “Alwyse Here, hierdie seun was nog nooit in ‘n kerk nie. Hy weet niks van U bestaan en erken dit ook nie. Stuur nog giftige slange om die ander seuns en hul pa ook te pik. Hierdie slang het die seun ‘n dure les geleer wat gelei het tot sy bekering en dit blyk dat hulle ook eers moet voel voor hulle U genade kan “sien”. Amen.


Geloof kos iets – dit het Abraham baie gekos om gewillig te wees om vir Isak op Moria te offer; Ester die risiko gekos om haar lewe op die spel te plaas om haar volk te red; Daniël en sy drie vriende ‘n vuuroond gekos; Stefanus ‘n dood deur steniging gekos; feitlik al die dissipels ‘n marteldood gekos – Jesus se volgelinge hoef nie te glo wat hulle nie kan sien nie. Ons hoef nie te wonder hoe die Vader in die Seun kan wees nie. Ons het nie ander tekens nodig nie! Ons kan maar net kyk wat Jesus gedoen het: Gaan na Golgota en die kruis, Sy opstanding en hemelvaart is genoeg tekens – Jesus is genoeg teken! As God nie by Hom was nie, sou dit nie moontlik wees nie.


“Geloof is nie om te glo dat God sal doen wat jy graag wil hê nie. Geloof is om te glo dat God sal doen wat reg is” (Max Lucado).


Gebed: Dankie Here dat ek vandag die groter prentjie van die Verlossing ken en kan ervaar. Ek hoef nie soos die dissipels van destyds te wonder oor my geloof nie want deur U genade het ek die wonder van geloof ontvang! My hart is eintlik so sondig dat geen geloof daar kan aard nie maar deur U krag groei my geloof tot die uiterste toe. Here, dankie vir die genade van gebed, liefde, blydskap en geloof, alles afkomstig van U. Hou dit alles asseblief in stand sodat ek standvastig kan bly. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page