top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GAAN NA SY VADER TOE (4) – DIE WEG, WAARHEID EN LEWE!


Joh. 14:6 – “Jesus het vir hom (Tomas) gesê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”


Vergelyk ook Jes. 30:21 – “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.”


Die dissipels se toekoms lyk donker en gevolglik dreig die vlammetjie van hulle geloof om te flikker en selfs uit te doof. Jesus probeer hulle troos: “Kyk na die groter prentjie, dit wat julle nou sien en ervaar is nie waaroor die lewe gaan nie. Ek is nie net die weg waaroor die lewe gaan nie, maar ook die weg na God toe en almal wat hulle voete op hierdie weg plaas, is op die pad van die lewe. Neem daardie geloofsprong in My, dan sal julle die plek bereik wat Ek vir julle gaan voorberei. Ek is die weg daarheen en wie in My glo, is nie in ‘n doodloopstraat nie!”


Veronderstel ons is in ‘n vreemde stad sonder ‘n padkaart of “GPS” en vra vir iemand om ons die rigting aan te dui na ons bestemming. Die persoon se aanwysings is soos volg: “Neem die eerste straat na die vierde robot en draai links tot by die derde stop. Draai regs by die kerk en volg die pad tot by die sirkel en die pad waarna jy soek is die eerste uitdraai in die sirkel, volg die roete tot by jou bestemming aan die linkerkant.” Die kanse is goed dat daardie bestemming nie bereik gaan word nie en jy net verder verdwaal. Indien die persoon egter aangebied het om jou te gaan wys, gaan jy beslis nie verdwaal nie.


Dit is wat Jesus doen: Hy gee nie net advies en aanwysings nie, Hy neem ons by die hand en lei ons persoonlik. Hy vertel ons nie net van die weg nie, “Hy ís die Weg”. Hy het die weg na ons Vader bekend gemaak deur Sy prediking. Deur Sy aardse lewe het Hy self daardie weg bewandel en deur sy kruisdood vir die sondaar daardie weg geword: “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei” (Heb. 10:19-20).


Jesus is “die waarheid” deurdat Hy werklik is wat Hy deur Sy prediking en Sy woorde aangaande die liefde van God die waarheid, die volstrekte betroubare woord en ten volle geloofwaardig, gebring het: “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red” (1 Tim. 1:15). Hy is die beliggaming van die reddende waarheid van die evangelie, en naas Hom is daar geen ander “waarheid” waardeur die mens gered word nie. Mense kan sê: Ek vertel jou die waarheid; Jesus sê: “Ek ís die waarheid” (vgl. 1 Joh. 2:20–27).


Jesus is “die lewe” omdat Hy gekom het om die lewe te bring: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense” (Joh. 1:4). Jesus is na aanleiding van Sy goddelike wese “die lewe”: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook” (Joh. 11:25) en daarom ook die bron van die lewe: die weg wat nuut is en na die lewe lei.


Omdat Jesus in die volstrekte sin “die weg en die waarheid en die lewe” is, is Hy die enigste weg na die Vader. Alleen in Hom gaan die deur oop na die huis van die Vader met sy baie woonplek (v. 2). Dit is nie afhanklik van my pogings of werke of geloof of enige iets nie, dit is die werk van Christus alleen. Dat Christus gesterf het, opgestaan het en die pad na God oopgemaak het “om vir ons plek gereed te gaan maak”, is die werklikheid en waarheid. Ons verdien dit nie, ons verstaan dit nie, ons kan dit alleen in geloof ontvang en aanvaar. Dit is beloftes dat ons noú in Jesus die weg kan ken van waarheid en van ware lewe. Dit is nie alleen iets wat ek eendag sal ontvang nie, maar die weg en waarheid en lewe wat Jesus kom leef het, is iets wat Jesus nou reeds vir ons kom gee, naamlik om ‘n totaal ander kwaliteit van lewe te kan leef.


“Ons kan op geen manier God se guns wen of Sy vryspraak verdien nie, en ons hoef ook nie. Van begin tot einde is dit ‘n saak van genade. Aanvaar dit met verwondering en met geloof in Christus Jesus en vier dit met dankbaarheid” (William Barclay).


Gebed: Dankie Here Jesus dat U die weg is omdat U die enigste brug na God toe is. Dankie dat U die waarheid is omdat U God aan ons bekend kom maak het en omdat U die lewe is deur die verlossing vir ons moontlik kom maak het. “Leer my U pad, Here, ek wil wandel in U waarheid” (Ps. 86:11). “Leer my om te lewe want by U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom daar net wat mooi is” (Ps. 16:11). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page