top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GAAN NA SY VADER TOE (2) – ONTSTELTENIS!


Joh. 14:1-4 – “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”


Vergelyk ook Jes. 57:1-2 – “Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; dié wat aan die verbond getrou is, sterf sonder dat iemand begryp dat dit deur die boosheid in die wêreld is dat die regverdiges sterf. Dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf.”


Daar is ten minste twee dinge wat alle mense op aarde moet meemaak – almal moet sterf en almal moet voor God se regterstoel verskyn. Dit is twee dinge wat meeste mense beangs laat, en veral vrees vir die dood, ontstel. Die aand voor Sy dood, tydens die Paasfeesmaaltyd, het Jesus ook hewig ontsteld geword toe Hy aangekondig het dat een van Sy dissipels Hom gaan verraai (13:21). Kort daarna het Jesus egter sy dissipels vertroos met dié woorde: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.”


Jesus praat met sy dissipels oor Sy dood. Niemand het geweet dat dit in wese Sy afskeidstoespraak was nie en tog stel Hy hulle gerus – “Vertrou My met julle dood. Wanneer julle voor die graf te staan kom, moenie ontsteld wees nie, vertrou My net, glo in God; glo ook in My!”


Ontsteltenis en vrees vir die dood is ‘n universele probleem want dit bly vir ons ‘n misterie. Elkeen van ons moet alleen hierdie onafwendbare misterie binnegaan en alhoewel gelowiges met God vrede het, neem dit nie die vrees weg nie. Ons bly bang; hoe gaan dit wees? Wat wag op ons ná die dood? Niemand wil daaroor praat nie, dit is té morbied. Niemand beplan eintlik om dood te gaan nie maar eerder om te lewe. Here, hoe nou? Ek is in die bloeitydperk van my lewe en hierdie terminale siekte is moeilik om te aanvaar en só onregverdig! Here, ons het só gespaar en nou met ons aftrede wou ons toer, met ons kleinkinders speel, ons lewe geniet maar nou het my jarelange wederhelf gesterf en al ons planne daarmee saam! Dit klink so bekend!


Nou kom Jesus en sê vir ons gelowiges: “Julle moet nie ontsteld wees nie, Ek gaan om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Jesus sê eintlik vir ons dat die dood nie ‘n probleem is nie. Hy sê dit so terloops soos wanneer ons as ouers byvoorbeeld ons kind wat op die agtersitplek van die motor aan die slaap geraak het tydens ‘n rit, optel om na haar kamer en bed te neem wat baie meer gemaklik is en vir haar die beste is. Wanneer 'n kind so ongemaklik aan die slaap geraak het en ons dra haar bed toe, sal niemand protesteer nie behalwe miskien sy self. Sy sal soveel rustiger in haar eie kamer wees en beter rus en lekkerder slaap in haar eie bed.


Is dit nie maar wat Jesus ook hier vir ons wil sê nie? Verseker Hy ons nie maar ook van ons ewige “blyplek” nie? Dra Hy nie ook maar net vir ons na die plek van rus wat Hy vir ons bestem het omdat Hy meer en beter weet as ons nie? Vir God is die dood nooit 'n tragedie nie. Deur ons na Sy huis te neem wanneer ons sterf, doen God maar net wat enige pa sou doen – Hy voorsien aan ons 'n beter plek om te rus, 'n plek wat Hy vir ons voorberei het. Ons moet Hom vertrou dat Hy nie slegs doen wat die beste is nie, maar ook met die gedeelte van die lewe waarvoor ons heel waarskynlik die bangste is. Dit neem nie die hartseer weg nie, dit neem nie die ontsettende gemis weg nie. God wat Skepper van alles is, wil hê dat ons hierdie lewe moet geniet en voluit leef, tog is ons in ‘n sekere sin vreemdelinge op aarde omdat ons reisigers is op pad na ons ewige tuiste. Daarom sê Jesus ons moet nie ontsteld wees nie, want die dood is nie die einde nie, dit is eintlik deur God se genade, die begin!


“Gelowiges kyk na die dood soos Columbus sy eerste ontdekkingsreis aangepak het: Hy kon nie sê wat anderkant die onbekende see lê nie, maar hy was seker God het ook ‘n kus geskep”

(Harry Fosdick).


Gebed: Here, skenk my die geloof en krag om deurgaans op U te vertrou. Dankie dat U verseker het dat die dood nie iets is om oor te vrees of ontsteld te raak nie, want U het vir ons gaan plek berei. Ek hou krampagtig vas aan die bekende want ek is bang vir die onbekende maar dankie dat U vir my die groter prentjie laat sien. Selfs terwyl ons daagliks gekonfronteer word met die dood, kan ek as Christen saam met Paulus prewel:

“ ... om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil. 1:21). Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page