top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GAAN NA SY VADER TOE (1) – DIE BELOFTE VAN GLORIE!


Joh. 14:1-4 – “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”


Vergelyk ook Kol. 3:2-4 – “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.”


Daar was dinge aan die gebeur wat die dissipels diep ontstel en hulle harte, innerlik in beroering gebring het. Tydens die Paasmaaltyd het verskeie skokke hulle ontstel – eers was daar die voetwassing wat hulle nie begryp het nie; toe verklaar Jesus dat Hy van hulle af weggaan, maar deur een van hulle verraai sou word; daarna wys Hy sy verraaier aan, en toe sê Hy met groot erns dat Petrus Hom nog in daardie nag sou verloën. Hierdie dinge het by die dissipels onsekerheid omtrent hulle eie trou aan Jesus gewek en onduidelikheid oor die onmiddellike toekoms, gebring. Buitendien, hulle het alles verlaat en Hom gevolg, maar wat sal nou van hulle word as Hy weggaan en sê dat hulle nie kan kom waar Hy heen gaan nie? In hierdie omstandighede is ’n woord van Jesus nodig om hulle gerus te stel en toe te rus vir die nog groter ontsteltenisse wat vir hulle in die volgende dae wag.


Jesus vestig die oog van Sy dissipels op “die huis van my Vader”, waarheen hulle op pad is. Jesus bevestig dat daar baie woonplek is deur te verklaar dat hulle Sy woord daarvoor moet aanvaar en dat die feit dat Hy plek gaan voorberei, ’n bewys daarvan is. Die feit dat Hy gaan “om vir julle plek gereed te maak”, bevestig ook dat niemand in die hemel plek sal kry as Jesus, die Middelaar, nie vir hom of haar intree nie. Die voorbereiding van plek in die hemel is ook nie Jesus se laaste daad nie. Hy sal weer terugkom om Sy volgelinge na die plek wat vir hulle gereed gemaak is, te neem sodat hulle kan wees waar Hy is. Daarom kan ons aanneem dat die dood van elke gelowige, vir hom of haar die vervulling is van die belofte van Jesus. Wanneer die gelowige-in-Christus se lewe op aarde eindig, is dit die tyd dat Jesus na hom of haar terugkom en wegneem na die hemel om altyd te kan wees waar Jesus is. Dit is die heerlike vooruitsig van die kind van God.


Dit is ‘n enorme troosryke gedagte om te weet dat God ook ons Vader is. Jesus stel ons gerus en moedig ons aan om nie ontsteld te wees nie. Hoekom nie? Baie Christene kan getuig van soortgelyke situasies wat die dissipels op daardie Paasfeesaand beleef het – die een oomblik is alles reg en die volgende oomblik is alles verkeerd. Jesus wys egter vir ons hoe om te midde van teleurstellende omstandighede en deurmekaar gemoedere, steeds staande te bly en oorwinnend uit die stryd te tree – “Glo in God; glo ook in My”. Geloof het hier die ondertoon van vertroue. As jy jou aan die kant van Jesus skaar, is jy inderdaad deel van God se huisgesin en het jy deel aan “die huis van Sy Vader waar daar baie woonplek is”.


Dit is normaal vir ‘n Christen om nie gespaar te word van die teleurstellings van die lewe nie. Dit is ook normaal om onder al die druk te wil knak, beangs te voel oor gebeure by die huis, land en wêreld; verward is; finansiële spanning beleef; onuithoudbare omstandighede by die werk of skool en die lys word daagliks langer! En nou kom Jesus en wil ons vertroos met die woorde: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” Met respek, dit is asof Jesus vir ons sê om ‘n soort “geloofs-skakelaar” in ons binneste moet aanskakel en dan sal alles regkom. Sommige Christene se “skakelaar” het lankal ingegee.


Nee, dit is nie wat Jesus sê nie. Geloof in God beteken ons Vader het oorgenoeg ruimte by Homself om elke mens te huisves – daar sal vir almal plek wees, almal wat “my Vader as Vader aangeroep het!” Jesus wil die ontsteltenis van Sy dissipels, en van ons, wegneem, Hy wil ons troos met die wete dat in Sy Vaderhuis ‘n gereedgemaakte plek is. “In die huis van ‘ons’ Vader is daar baie woonplek” waar ‘n familie-atmosfeer heers. Hoe op aarde is dit moontlik dat ons so seker kan wees van hierdie “woonplek”? Jesus Christus het vir ons die weg gebaan, Hy het gesorg dat daar geen versperrings na God se huis toe is nie. Daar is plek vir almal, niemand sal as bywoners behandel word nie. Almal sal inwoners wees, selfs vir Petrus, wat Jesus net ‘n paar ure later drie maal verloën het, was daar plek!


Vanuit hierdie oortuiging ontspring daar ‘n verwagting dat alles moontlik is. Die moontlikheid is egter onderhewig aan geloof – “Glo in God; glo ook in My”! Geloof is ‘n ingesteldheid op hoop (Heb. 11:1) – daar is ‘n verwagting dat dit waarin jy glo, jou nie sal teleurstel nie. Sommige dink dit is ‘n waagstuk om te glo dat God uit Sy oorvloedige rykdom sal voorsien, en besluit dan eerder om self, ongelowig voort te ploeter na die verderf. Geloof in God bevorder geestesgesondheid, dit laat mense uiters negatiewe lewensomstandighede, beter hanteer. Ons afhanklikheid aan God verminder die angs en spanning wat ons ervaar – “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt. 5:3) – gee jou negatiewe gedagtes, bekommernisse en probleme aan God oor.


“Onthou dat geloof nie net vertroue op Christus se beloftes beteken nie, maar ook verbondenheid aan Sy eise” (William Barclay).


Gebed: Dankie Here dat ek kan glo waarop ek vertrou, staatmaak en hoop, want my vertroue is in afhanklikheid tot U. Dankie dat U uit U oorvloedige rykdom sal voorsien, dit verseker ware en blywende lewensvreugde. Daarom bid ek vir elkeen wat steeds spanning en angs ervaar oor die ewige toekoms wanneer hulle aardse lewe tot ‘n einde kom, dat hulle sal rus vind in “die huis van ons Vader waar daar baie woonplek is”. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page