top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WYS SY VERRAAIER AAN (3) – LIEFDE SE LAASTE APPÉL.

(Vergelyk ook Matt. 26:21-25; Mark. 14:18-21; Luk. 22:21-23)


Joh. 13:27-30 – “En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: ‘Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!’ Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom gesê het nie. Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: ‘Gaan koop wat ons vir die paasfees nodig het,’ of dat hy iets vir die armes moes gaan gee. Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.”


Jesus noem nie die naam van Sy verraaier nie, maar wys hom aan met ’n plegtige handeling, deur ’n stukkie brood in die sous te doop en aan Judas te gee. Volgens Joodse gebruik word gesê dat die aangee van die stukkie brood by ’n Joodse maaltyd ’n teken van verering is. Daarvolgens sou Jesus Judas vereer het en sodoende nog eens op sy gewete ’n beroep gedoen het om van sy bose voorneme af te sien. Jesus weet wat die toedrag in die lewe van Judas is, maar sluit hom steeds in by die “bevrydingsmaaltyd.” Hy vier mét Judas die verlossingsfees terwyl Hy die implikasies van sy sonde aan hom bekend maak: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!”


Judas aanvaar die stukkie brood uit die hand van Jesus en daarmee word die keerpunt in die lewe van Judas bereik. Judas kies finaal: die Satan neem die beheer van sy lewe oor. Dít nadat Jesus vyf keer vir Judas die geleentheid gegee het om sy moordplanne te laat vaar (Joh. 13:11; Matt. 26:21, 23, 25). Ongelooflike enorme stuk onvermoeide, en verkwiste liefde vir ‘n verraaier! Dit laat ‘n mens sprakeloos wanneer ons aan Jesus se liefde vir Judas dink. (Ek is nog meer verstom wanneer ek aan Jesus se liefde vir ‘n sondaar soos ek dink. Hy het my lief, maar hou Hy van my?) Dit is hoe God van liefde lyk en hoe Hy optree! Hy het ons sondaars lief maar haat ons sondes!


Wanneer Johannes jare later sy Evangelie skryf, vertel hy in hierdie verse dat geeneen van hulle op daardie tydstip begryp het wat die betekenis van Jesus se woorde aan Judas was nie. Aan tafel was daar nie die geleentheid om verder vrae te stel nie. Hulle het begryp dat Judas as die verraaier aangewys word, maar wat die aard van die verraad sou wees en hoe gou dit sou gebeur, het hulle nie geweet nie. Hulle het veeleer aan pligte gedink wat met die feesviering saamgehang het. Paasfees was die tyd wat daar aalmoese aan die armes ook uitgedeel is en omdat Judas die gemeenskaplike beursie gedra het, het die dissipels waarskynlik gedink dit het daarmee te doen gehad.


“Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.” Dit was letterlik en figuurlik nag! Dit was nag vir Jesus – Die verraad teen Hom het hier begin, die pad begin na die kruis toe draai! Die hele proses wat sou lei tot Sy arrestasie; die klug van getuienisse teen Hom; verraad van verhore wat Jesus sou beleef, in die hoëpriester se huis; verloëning van Petrus wat Hy moes aanhoor en aanskou; die vreeslikste vernederings; die skandelike onskuldigbevinding en tog ’n doodsvonnis; ‘n jillende skare van Sý mense, Sý volk wat hulleself finaal afsny van die Koning van die Jode en só van God af met die verdoemende: “Kruisig Hom”!; die onbeskryflike liggaamlike lyding, eers van geseling en dan die ironie van ‘n Koning wat gekruisig word! Die daaropvolgende diepste geestelike nag wat daar vir enigiemand kan wees: om deur God verlaat te word. Dit was nag vir Jesus!


Dit was nag vir Judas – Hy het besluit om die Ewige Lig te verlaat waar hy gekoester was, liefde ontvang het, ‘n vertroueling was; wat al die wonders van Jesus gesien en al Sy wonderlike onderrig gehoor het. Hy stap uit die teenwoordigheid van die Lig van die wêreld uit, in die donker nag in waarin hy deur die vors van die duisternis gebruik gaan word om die magte van die duisternis op Jesus los te laat. Hy verruil dit vir die ewige duisternis! Sy lewe word nag, sy lewe het verander deur die verkeerde keuse, ‘n sondige keuse te maak om die Lig te verruil vir die ewige donkerte – ‘n VERSKRIKLIKE VERKEERDE KEUSE!


Hy stap daar uit om iets te gaan doen waaroor hy later bitter spyt sou hê – nie ware berou wat deur die Heilige Gees in ’n mens bewerk word nie, maar blote menslike spyt omdat hy ’n onskuldige Mens verraai het en steeds nie hom tot God te wend, waarmee sy lewe so nou verweef was nie. En die gevolg daarvan – die ewige dood! Judas se spyt (Matt. 27:3b) was te laat! Dit is altyd nag wanneer ‘n mens Christus verlaat om sy eie keuses te volg; dit is altyd nag wanneer haat, die Lig van die liefde vervang; dit is altyd nag wanneer ‘n mens sy rug op Jesus draai! Dit was nag vir Judas!


Maar vir mense wat na Jesus toe kom is daar hoop – “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh. 1:3-5). Selfs in die skadukolle van gelowiges se reis na hulle eindbestemming toe, is daar altyd die lig van Sy krag wat help, van Sy beloftes wat hoop gee, van Sy troos wat vrede bring. Instede van donkerte van verderf het ons die lig van vrede en seën; instede dat die donkerte van die dood ons tref, ontvang ons die lig van die lewe; instede van die donkerte van onkunde, die lig van kennis; instede van die donkerte van die sonde, die lig van genade en redding en hierdie redding het ‘n totale ommekeer in ons lewe veroorsaak.


‘n Lewe in Jesus se Lig is ‘n keuse by elke mens, dit is nie vanselfsprekend nie. Dit is ‘n keuse wat ons telkens moet herhaal. Satan en sy bose magte se hoofdoel is om ons buite die ligkring van God se genade te kry en as hy eers sy voet in die deur gekry het, hou hy nie op met sy pogings nie. As ons in die lig wil bly moet ons die deur gesluit hou en as mense van die lig lewe. “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is” (Spr. 4:18).


“Mense van God is hulle wat deur die donker wêreld stap – en in hulleself ‘n Lig dra”

(Felix Adler).


Gebed: Here, maak my bereid om die sonde wat donkerte bring, te vermy. Skud my wakker! Neem my weg van die duisternis en laat my toe om in U ewige Lig te wandel. Dit is asof die donkerte my so maklik oorheers terwyl ek eintlik in die lig wil wees. U is die skeiding tussen lig en donker en waar U is, is daar lig en ewigdurende lewe. Help my asseblief om in U lig te bly en dat die duisternis my nooit oorwin nie. Soos Dawid wil ek my sondes bely, my oortredinge nie wegsteek nie en wéét dat U my die pad sal wys wat ek moet volg, die pad van die Lig. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page