top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WYS SY VERRAAIER AAN (2) – ’N JUDAS HART?

(Vergelyk ook Matt. 26:21-25; Mark. 14:18-21; Luk. 22:21-23)


Joh. 13:21-26 – “Na hierdie woorde het Jesus hewig ontsteld geword en openlik verklaar: ‘Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.’ Die dissipels het verslae na mekaar gekyk en nie geweet wie Hy bedoel nie. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het net langs Hom aan tafel gesit. Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel. Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: ‘Here, wie is dit?’ Jesus het geantwoord: ‘Dit is die een vir wie Ek ‘n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.’ Hy vat toe ‘n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot.”


Vergelyk ook Luk. 22:21 – “Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel.”


Ons moet onthou dat Jesus tydens Sy aardse verblyf, volkome mens was en het Hy die gemoedsaandoeninge soos ’n mens beleef. Daarom word Hy ontroer in Sy gees en Hy raak “hewig ontsteld”, terwyl Hy vir die derde keer na Sy verraaier verwys. Hy het geweet wat gaan gebeur, wat die “koste” gaan wees en Hy was gereed om daarvoor te betaal – “He was not going to be killed; he was choosing to die” (William Barclay). Tog beleef Hy hierdie trauma veel dieper as wat ’n mens dit kan ondervind, omdat Hy die Heilige is wat onderwerp word aan die werk van onheilige mense. Dit is altyd ‘n pynlike jammerte wanneer ‘n vriend hom skuldig maak aan ontrouheid.


Die onverwagte, ondubbelsinnige uitspraak gryp die dissipels in die hart. Hulle besef dat hulle almal betrokke is: dit gaan om “een van julle”. Vir hulle is dit ’n skokkende uitspraak wat hulle moeilik kan verwerk. Hulle is verslae van gemoed maar afsonderlik twyfel hulle nie aan hulle trou teenoor Jesus nie. Hulle kyk na mekaar om te sien of die tekens van verraad in iemand se oë te lees is. Judas speel sy rol só goed dat niemand hom verdink nie. Maar wie sou die verraaier wees?


Wie wás hierdie verraaier, Judas Iskariot? Jesus self het hom uitgekies as een van Sy dissipels, hy is nie deur stemming verkies tot die posisie nie. “Hy is as een van die dissipels gereken en is ook gekies om ‘n aandeel in hulle werk te hê” (Hand. 1:17). Jesus het sy voete óók gewas; hy het van Jesus se brood geëet (13:18b); hy was ‘n vertroueling, die penningmeester. Sy Bybelse CV lyk egter nie goed nie. Daar is ongelukkig nie 'n deurlopende beskrywing van Judas se lewe nie. Inteendeel, slegs nou en dan verskyn hy op die toneel en opvallend, is dat daar niks goeds wat van Judas vertel word nie. Alles wat ons van hom lees, is alleen sonde, inhaligheid en ongeregtigheid.


Bloot die noem van sy naam gryp elke Christen vir eeue lank al aan – die man wat hom aan die ernstigste sonde skuldig gemaak het. In Judea, die Suide van Israel, die omgewing van Hebron, is die moontlike ruïnes van Kariot te vinde. Op hierdie plek, waarskynlik in die tyd toe Jesus in Bethlehem gebore is, is hier ook 'n seun gebore. Dit was in die huis van 'n man met die naam, Simon (Joh. 6:71). Soos elke ouerpaar was hulle seker ook opgewonde oor die geboorte van hulle seuntjie, en Simon en sy vrou besluit hulle gaan hierdie seuntjie 'n mooi naam gee: Judas, na aanleiding van die stamvader van die stam Juda. Soos alle nuwe ouerpare het hulle seker ook groot verwagtinge van baba Judas gekoester. Terloops, die Hebreeuse naam Judas beteken: “Hy sal God loof!”


Ai tog! Hoe vreeslik is die verwagtinge oor hierdie seun beskaam. Hy sou die man word wat Jesus sou verraai. Judas Iskariot – seun van Simon – man van Kariot – van wie Jesus sê: "Wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie" (Matt. 26:24b).


Ek deel graag hierdie “ope brief” wat ek eendag raak gelees het, die skrywer daarvan reeds vergete, maar dit was min of meer soos volg: “Dagsê Judas, Ja, ek besef jy sal nie hierdie brief kan lees nie, maar vir baie lank loop ek al met hierdie ding op my hart wat jy twee duisend jaar gelede aangevang het. Ek skryf dit in elk geval om mý hart skoon te kry. Ek wonder so baie keer hoe kon jy ons Verlosser en Koning verraai het? Wat het Hy aan jou gedoen om dit te verdien? Ek meen, jy het vir drie jaar saam met Hom gestap en al Sy goeie werke en wondertekens waargeneem, het dit nie jou tot ander insigte gestem nie?


Hy het jou soveel vertrou dat jy die beursie gedra het, Sy geld, jou mede dissipelbroers se geld. Jou inhaligheid het veroorsaak dat jy Maria uitgehaal het omdat sy duur nardusolie op Jesus se voete “uitgemors” het, dit terwyl jy van die geld in die beursie steel! Hoe het jy gevoel toe Jesus jou uitgevang het dat jy Hom gaan verraai? En dan het jy wraggies nog die vermetelheid om toe te laat dat Jesus jou voete ook was! Jou voete kon maar vuil gebly het want net daarna het jy met jou vuil hart, met daardie selfde voete na die priesterhoofde toe gehardloop en Jesus vir dertig silwerstukke gaan verraai! Hoe lank het jy gedink gaan daardie sakkie munte hou, kleingeld, in ruil vir Jesus se lewe? Die ergste was die oomblik toe jy Jesus trompop loop, Hom Rabbi noem en Hom verraai met ‘n soen??? Hoe kon jy, is jy sielsiek? Ja, goed, jy wou die geld gaan teruggee nadat jy jou fout besef het, maar dit was te laat! Dit wys darem dat jy so bietjie spyt in jou donker hart gehad het!


Maar ... weet jy, soms ly ek ook aan ‘n Judashart, want ek leef in ‘n wêreld van vryheid-demokrasie – ek kan doen, dink en leef soos ek wil. Ek loop al 65 jaar saam met Jesus, weet van al Sy wondertekens en goeie dade wat Hy tydens Sy aardse lewe gedoen het, en dan draai ek my rug op Hom. Hy vertrou my met “Sy beursie”, maar vir my gaan dit oor die groot “Y” – waar ek blY, wat ek rY en wat ek krY. (Ewe skielik dink ek daaraan – dit rym met LY terwyl die tYdelike deur Jesus vervang word met die blYwende!) – ek hardloop net soos jy ook agter mammon aan Judas. Ek kan my nogal identifiseer met die feit dat Jesus jou planne oopgevlek het – ek sondig dikwels en dink ek kan dit ook wegsteek, net soos jy, Judas. Ek kom Sondae uit kerkdienste uit met die beste voornemens, net om Hom te verraai deur die week. Ek wou al menigmaal my hare uit my kop trek oor al my verkeerde besluite, gewens ek kon die horlosie terugdraai, my foute teruggee. Ek dink Jesus was al baie bedroef oor my, want die wêreld sluk ‘n mens mos in, nê Judas. As ons maar net wil besef die loon van die sonde is die dood! Lyk my ek het maar ook ‘n Judashart ...!


“God sien deur ons: Soos ‘n lyk geklee kan wees in kosbare klere, so kan ‘n ongelowige siel geklee wees in godsdienstige belydenis” (William Gurnall).


Gebed: Here, as ek maar geweet het mammon se bank sluit net tydelike voordele soos status en voorspoed in. Sy geslepe bestuurder het my nooit vertel dat die belegging soos mis voor die son gaan verdwyn en die voorspoed, vervang gaan word met teëspoed, maagsere en spanning nie. Ek het ook nooit die fynskrif opgemerk nie – “die loon wat die sonde gee, is die dood” (Rom. 6:23a). Dankie Jesus, U waarborg ewige dividende met vergifnis van my Judashart, en verseker my belegging by U hemelse bank want U beskerm my met U lewe – “die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom 6:23b). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page