top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WYS SY VERRAAIER AAN (1) – VRIEND VAN DIE WÊRELD.

(Vergelyk ook Matt. 26:21-25; Mark. 14:18-21; Luk. 22:21-23)


Joh. 13:18-20 – “Ek praat nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het. Maar die Skrif moet vervul word: ‘Hy wat van My brood eet, het My in die rug gesteek.’ Ek sê dit nou al vir julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek is wat Ek is. Dit verseker Ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”


Jak. 4:4-5 – “Weet julle nie, julle ontroues, dat vrienskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is. Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die Gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?”


Jesus se gedagtes bly besig met Sy verraaier. Toe Hy oor die voetwassing gepraat het as ’n beeld van die reiniging van sonde, het Hy gesê dat die dissipels nie almal skoon is nie (13:10-11). Daar is ’n uitsondering, ’n ontroue dissipel, een van die twaalf wat Hy “uitgekies” het, wat Jesus sou verraai – “Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek” (Ps. 41:10). Wanneer dit gebeur moet die ander dissipels nie in hulle geloof begin wankel, as hulle sien dat Judas sy rug op Jesus gekeer het.


Jesus verklaar andermaal dat Hy self God is met die benaming: “Ek is wat Ek is”, (dieselfde benaming waarmee God Hom aan Moses openbaar het by die brandende doringbos [Eks. 3:14]), en verseker die dissipels dat die verraad van Judas nie die finale woord is nie. Dit is deel van die plan van God in die bewerking van redding vir Sy eie volk. Daarom moet die dissipels nie in vertwyfeling verval nie maar getrou bly in die geloof.


Jesus gee verder ’n opdrag aan Sy dissipels, (en aan alle Christene), om die boodskap van bevryding te gaan verkondig. Hulle sal met verraad en teenslae te doen kry, allereers die ontnugterende verraad van Judas, een uit hulle eie geledere, maar van een ding kan hulle verseker bly, die Een wat hulle stuur, bly aan Homself en aan Sy woord getrou. Hy begelei dié wat Hy uitstuur met die boodskap van verlossing en daarom, wie hulle ontvang, ontvang ook vir Jesus, en wie Hom ontvang, ontvang die Vader. Soos Jesus ’n Gestuurde is, so is hulle ook, en Hy bly altyd aan Sy gestuurdes getrou.


‘n Verskriklike tragedie tydens daardie aand se ete word deur Jesus aangekondig – een van Sy vertrouelinge gaan Hom verraai! Die nagmaalstafel word inderwaarheid in hierdie geval, ‘n skeidingstafel, ‘n skeiding tussen geloof en ongeloof. Ons weet nie presies hoe Jesus vir Judas gekies het as ‘n dissipel nie maar hy het saam met Hom geëet, geloop, gerus. Judas Iskariot het ál Jesus se wondertekens gesien, Jesus se woorde gehoor en ál die voorregte van die ander dissipels gedeel. Daar was uiterlik geen onderskeid tussen hulle en hom gewees nie. Hy was een van die twaalf, sáám met Jesus op die regte lewenspad, ‘n vertroueling, die een wat die beursie gedra het, die penningmeester! Die enigste wat Judas van die ander dissipels onderskei het, was dat hy uit die suide van die land, Judea, afkomstig was terwyl die ander elf dissipels almal Galileërs was. Selfs dít blyk nie ‘n probleem te gewees het nie, Judas se probleem was waarskynlik dat hy steeds ‘n vriend van die wêreld was.


Ons kan nie vriende van God én vriende van die wêreld wil wees nie. Die skeidslyn is “dat vrienskap met die wêreld vyandskap teen God is” (Jak. 4:4). Jy verruil God vir dinge van die wêreld. In die 1953 Bybelvertaling word sulke mense “egbrekers” genoem. God deel nie Sy skepping (ons) met die duiwel nie daarom eis Hy onverdeelde trou (Eks. 20:5). Jesus waarsku ook dat ons nie God en Mammon kan dien nie (Matt. 6:24b). Om ons begeertes te vermeng met die wêreld beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “’n vriend van die wêreld te wil wees” wat buite die konteks van God en Sy wil is.


Iemand wat hom deur sy eie begeertes laat lei, bewys daarmee dat hy uit die verhouding met die Here wil wees, en eerder in ’n vriendskap met die wêreld wil gaan. God en die wêreld is in konflik met mekaar en sluit mekaar uit! Ons mag nooit op twee gedagtes hink of ons die Here wil dien, of dalk nie wil dien nie. Ons behoort aan Hom: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal” (1 Kor. 6:19-20). “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie” (1 Joh. 2:15).


Die keuse is onafwendbaar: “’n Vriend van die wêreld, is ‘n vyand van God.”


“Kies slegs vriende wat jou op die pad na die hemel toe kan help” (John Wesley).


Gebed: Here, wanneer ek saam met “vriende” beweeg wat die dinge van die wêreld liefhet, is ek geneig om ook so te word, te praat en te handel. Dankie dat U genade só groot is dat U soos ‘n wagtende Vader U arms uitstrek na my om my terug by U te verwelkom, sonder enige verwyte. Dankie dat U na my toe hardloop om my met my vuil toiingrige klere te omhels. Dankie dat U ‘n onveranderlike Vader bly en selfs ‘n ring aan my vinger plaas en die vetgemaakte kalf vir my slag. Dankie dat U nie kantoorure het nie, maar altyd daar is om ‘n stukkende mens weer en weer en nog ‘n keer, heel te maak. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page